US Woordfees | Festivals

 
Adam Tas drink, dig en eet by die US Woordfees

Die Adam Tas Studentevereniging bestaan al vanaf 2007. Watter noemenswaardige ontwikkelinge het sedertdien in die organisasie plaasgevind? (Hoe) boer julle vooruit met die uitbou van Afrikaans?

Die visuele beeld van Adam Tas is die aspek wat die meeste ontwikkel sedert 2007 – die nuwe beeld is meer gerig op die studente van vandag om dit meer alternatief en aanloklik te maak. Ons het meer moderne tendense begin volg, nuwe student-gerigte projekte begin aanpak om aan te pas by die moderne siening van Afrikaans. Die kernbeginsels van Adam Tas word nog steeds gevolg, maar dus op ’n meer prettige en moderne manier.

Ons boer vooruit met die uitbou van Afrikaans deur ons informele en formele pligte na te kom. Ons informele pligte behels die funksies wat ons vir ons lede hou sodat hulle aangemoedig word om steeds in Afrikaans te kuier, praat, debatteer, sing, dig en nog meer. Ons formele pligte behels om onsself oop te stel aan studente wat probleme ondervind met Afrikaans as onderrigtaal by die universiteit, byvoorbeeld spelfoute in toetse en nie genoeg Afrikaans in die klas nie.

Soos ek dit het, het Adam Tas destyds hoofsaaklik rondom die gevoelige kwessie van die “T-opsie” op die US ontstaan. Dis waarskynlik maklik(er) om mense te mobiliseer en tot aksie op te roep wanneer daar ’n bedreiging of kontensieuse kwessie ter sprake is. Het die vereniging intussen “rustiger” geword? Is julle doelwitte en benadering nog dieselfde?

Die kwessie van die “T-opsie” het wel rustiger geword – ons ontvang dus veel minder klagtes van studente af oor bogenoemde probleem. Adam Tas se doelwitte leef steeds voort soos uiteengesit in die Adam Tas-grondwet. Ons benadering het wel meer modern geword, soos in die vorige vraag gestel.

Baie mense is van mening dat Afrikaans tans, veral in kreatiewe kringe, ’n groot opbloei ervaar. Word die taal egter steeds bedreig?

Adam Tas voel dat die taal nie bedreig word nie, maar wel ’n verandering ondergaan. Soos by enige ander taal vind daar gereeld ontwikkeling plaas, en eerder as om te sê Afrikaans is bedreig, glo ons dat Afrikaans ’n groeiende taal is. As ons kyk na ons lede-tellings, veral onder die eerstejaars, sien ons daar vind jaarliks ’n vermeerdering plaas.

Hoe lyk die behoefte aan ’n instansie soos Adam Tas op ander kampusse in die land? Het julle planne om in hierdie opsig uit te brei, of fokus julle eerder uitsluitlik op Stellenbosch? Ek het my doodgesukkel om via die internet meer oor die organisasie te wete te kom – maak julle hoofsaaklik staat op mondelingse oorlewering onder Stellenbosch-studente vir bewusmaking van Adam Tas se bestaan, of hoe?

Ons as Adam Tas wil baie graag uitbrei, maar omdat ons ’n studentevereniging is wat deur studente bestuur word, is tyd ’n probleem. Al ons bestuurslede het ’n passie vir die vereniging en sou graag wou uitbrei, maar ons tyd is min en hulpbronne nie genoeg nie. Ons probeer die vereniging soveel moontlik in die media se lig stel, sodat ander instansies moontlik ons idee sal volg. Ons is bewus dat ons moeilik is om op te spoor en daarom is bemarking een van die top prioriteite van die jaar.

Hoe kan belangstellendes by julle aansluit, en wat beplan Adam Tas vir die res van die jaar?

Belangstellendes kan by enige van ons funksies aansluit en ons word geadverteer in die offisiële Maties dagboek, wat al ons kontakbesonderhede bevat. Ons funksies wat ons beplan vir die jaar is:

20 Februarie – Adam Tas Rockshow saam met Koos Kombuis, Ashtray Electric, Spoegwolf en Slagyster

10 Maart – Drink, dig, eet!: Studente-poësie-aand

11–15 Maart – Afrikaanse filmweek by Pulp in die Neelsie

11 April – Twakpraat 1: Kos, wyn en lekker geselskap

30 April – Twakpraat 2: Kos, wyn en lekker geselskap

2 Augustus – Cantus: Bodemlose bier en saamsing-aand.

Julle bied ’n geleentheid genaamd Drink, dig, eet by die US Woordfees aan.Die titel is eintlik lekker vanselfsprekend, maar wat presies behels dié kuier?

Drink, dig, eet is ’n studente-poësie-aand waar ons student-digters nader om hul woordkuns voor te dra aan ’n gehoor, wat ook ’n kans kry om saam te dig. Landgoedwyn, heerlike kaas en inheemse digkuns word verkaf om die funksie meer gesellig te maak.

Wat sit agter die konseptualisasie van Drink, dig, eet? Waarom juis digkuns, en wat probeer julle met hierdie fees-item bereik?

Digkuns vorm ’n kerndeel van Afrikaanse literatuur. Studente ervaar digkuns selde op universiteit, tensy hulle in daardie rigting studeer. Die doel van die funksie is om op ’n opwindende manier studente te laat dig en hulle aan te moedig om deel te neem aan die kuns van woorde skep, vorm en aanmekaar slaan. Adam Tas probeer Drink, dig, eet gebruik as ’n platform vir nuwe digters om hulle werke voor te lees en aan die wyer publiek bekend te stel.

Kan ons enige ontluikende studente-digters (ek dink hier byvoorbeeld aan Pieter Odendaal) te wagte wees?

Die doel van die funksie is om ongepubliseerde studente ’n kans te gee om hulle werke voor te dra voor ’n gehoor en later (as ons dit moontlik kan maak) in Adam Tas se offisiële digbundel te publiseer.

Dis nie die eerste Drink, dig, eet wat julle aanbied nie. Hoe lyk die opkoms gewoonlik? Hoe betrokke raak die gehoor en wat kan bywoners verwag?

Die opkoms by die item vandat dit bekend gestel is, is altyd bevredigend. Die gehoor is betrokke omdat dit in ’n gemaklike omgewing plaasvind en as ’n baie geselige funksie gesien word. Die bywoners kan heerlike vingerhappies en drankies verwag, wat ook ’n bydrae tot die geselligheid lewer. Agtergrondmusiek word tydens optredes gespeel wat pas by die toon van die gedig. Drink, dig, eet is een van ons suksesvolste funksies, omdat studente graag gehoor wil word.

Drink, dig, eet!

10 Maart 17:00 | Boektent | 110min | R20 by die deur

Klik hier vir volledige inligting oor Woordfees 2013.


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address