ABSA KKNK 2015: Gesprekke met Freek Robinson

  • 0

Freek Robinson, regs, langs Christo Davids (foto: Alwyn van Zyl)

Freek Robinson gesels vanjaar by die ABSA KKNK oor al die dinge wat mense omkrap en interesseer. Hy vertel vir Naomi Meyer waarna feesgangers kan luister en waaroor hulle kan kom saampraat.

Hallo Freek, die diskoerse by vanjaar se ABSA KKNK lyk baie interesssant. Hoe is daar besluit waaroor daar vanjaar by die KKNK gesels word?

Die onderwerpe is bepaal in voortdurende gesprek en oorlegpleging. Die proses het seker al in Oktober verlede jaar begin. Dit was ’n uitdaging om op onderwerpe te besluit wat relevant en nuuswaardig sal wees teen die tyd dat dit behandel word in die gesprekke by die KKNK. Ek dink darem ons was redelik in die kol.

Ek wonder oor ’n item soos “haatspraak vs vryheid van spraak”: handel hierdie gesprek oor kunstenaars wat hul polities uitspreek, of betrek dit ook die groter kwessies wat almal in die wêreld raak, soos Charlie Hebdo, byvoorbeeld?

Die tema vir die eerste gesprek op Maandag 6 April sal beslis wyer en internasionale gebeure aanraak. Die vind van balans tussen wat jy wetlik mag doen, maar verkieslik nie moet nie, is oral relevant. Die gewig van bepaalde oorwegings en die konteks verskil waarskynlik net. Binne die Westerse, hoofsaaklik Christelike leefwêreld is dit heel gebruiklik om met politici en selfs geestelike leiers te spot. Maar gegewe die hipersensitiwiteit van Moslems oor die plasing van enige afbeelding van die profeet Mohammed, is dit duidelik nie wenslik om dit te doen nie. Tensy jy stryd soek. Net so word die rassekwessie in Suid-Afrika al hoe sensitiewer.

Fotobron: Wikipedia

 

Waar kom ons krag vandaan? Dit wil ons almal weet. Dink jy die kenners sal antwoorde kan gee, en gaan daar dalk ook iemand van Eskom wees om lig op die saak te werp?

Ons het gelukkig wonderlike kenners wat gaan praat oor die energie van die toekoms. Ons het baie hard probeer om iemand van amptelike status te kry – veral in die Departement van Energie. Nadat hulle aanvankilik ingestem het, het hulle toe weer onttrek. Ons probeer nog, maarr ek is nie bekommerd nie. Eskom is net ’n deel van die oplossing en hulle kan kennelik nie meer doen as wat hulle reeds doen nie. Die oplossing lê al hoe meer by die privaatsektor.

Fotobron: greenpeace.org

 

Breking is ’n ander komplekse saak. Enigeen wat in die Karoo aandoen vir die fees, sal seker net oor die vlaktes kan kyk en hoop dit bly ongeskonde. Maar is hier regtig verskillende kante tot die saak?

Daar is beslis twee kante. Die regering is sonder twyfel baie ernstig daaroor dat gas ontgin moet word om die land se energiebehoeftes aan te vul. Verteenwoorigers van die Departement van Minerale Hulpbronne gaan daar wees. Dit gaan vir seker ’n warm besprekingspunt wees.

Is daar ook minder ernstige, vroliker kwessies waaroor mense kan kom saamgesels?

Daar gaan nie vrolike kwessies wees nie. Die Woensdag praat ons oor dienslewering – dis natuurlik iets wat die emosies landwyd opjaag.

En dan is ons besonder dankbaar dat die openbare beskermer, Thuli Madonsela, ingewillig het om ons gas te wees op die Donderdag. Sy gaan dus beskikbaar wees om baie tyd af te staan aan die beantwoording van vrae uit die gehoor oor die tema: die OB se rol in die bekamping van korrupsie.

Hier is nog inligting omtrent gesprekke by vanjaar se ABSA KKNK.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top