Wenners van pryse by Clover Aardklop Nasionale Kunstefees aangekondig

  • 0

Die produksie macbeth.slapeloos het skoonskip gemaak by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom deur altesaam vyf pryse te wen.

Dithet sowel die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys vir die beste Afrikaanse aanbieding en die Clover Soveel Beter-prys vir die beste algehele aanbieding gewen. Die prysgeld is onderskeidelik R15 000 en R60 000.

Marthinus Basson het die OFM-prys vir beste regisseur ingepalm en Dawid Minnaar en Anna-Mart van der Merwe is bekroon met die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur en beste aktrise vir Macbeth en Vrou Macbeth. Dié drie pryse is elk R15 000 werd.

Volgens die beoordelingspaneel stel ’n bestaande drama besonder hoë eise omdat daar nie met ’n skoon lei gewerk word nie – en nog meer so wanneer ’n Shakespeare-drama aangepak word. Met dié eietydse en slim verwerkte produksie bevestig Basson en die hele span weer eens: Lank lewe Shakespeare. Lank lewe Macbeth.

Skrywer-regisseur Nicola Hanekom het met Land van skedels die Beeld-Aartvarkprys vir grensverskuiwende werk gewen. Die beoordelaars het die regie, die konsep en die gebruik van die spesifieke ruimte in Potchefstroom uitgesonder. Die prysgeld beloop R20 000 en die wenproduksie het ook ’n beeld van Craig Müller, wat spesiaal vir die prys geskep is, gekry.

Tertius Kapp het die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys (R30 000) gewen vir sy apokaliptiese drama Oorsee. Dié prys word toegeken aan die beste nuwe Afrikaanse teks wat by Aardklop debuteer. In 2011 het hy ook die Smeltkroesprys gewen vir sy tronkdrama Rooiland. Voorts kry die spelers en regisseur Wolf Britz van Oorsee gesamentlik ook R30 000, uit erkenning vir die simbiose tussen teks, produksie en toneelspel. Kapp kry ’n verdere R30 000 om ’n nuwe teks vir Clover Aardklop te skep.

Die Clover Mama Afrika-prys van R5 000 vir die beste gemeenskapskunstenaar of -projek is toegeken aan Lindiwe Dlamini van Eliwe Arts and Crafts.

Die Burgemeesterprys vir die gewildste produksie ter waarde van R6 000 is gewen deur Tango.

Die totale bedrag aan prysgeld wat vanjaar by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees toegeken is, beloop R241 000.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top