2Pianists beloof 'n onvergeetlike ervaring by die US Woordfees

  • 0
Nina Schumann en Luis Magalhães

Die US Woordfees bied in 2013 ’n besonders opwindende klassiekemusiek-feesprogram aan – iets wat vir seker nie misgeloop moet word nie. Feesgangers kan uitsien na ’n kragtige tweeklavier-uitvoering deur die TwoPianists-duo, Nina Schumann en Luis Magalhães. Die konsert vind plaas in die Endlersaal op Saterdag 2 Maart om 20h00.

Magalhães en Schumann is nie onbekendes op Stellenbosch nie! Hul uitmuntende kunstenaarskap, uitdagende repertorium-keuses en joviale verhoogpersoonlikhede sorg dat hulle gunstelinge bly. Die spyskaart vir die Woordfees-konsert sluit slegs eietydse werke deur Amerikaanse komponiste in.

Lowell Liebermann, gebore in 1961 in New York, is een van Amerika se mees gesogte komponiste. Sy vernuftigheid strek egter verder, en sluit ’n aktiewe loopbaan as pianis en orkesdirigent in. Sy Variasieswerk vir twee klaviere Op.42, gebaseer op ’n tema van Mozart, word beskryf as “ ’n enorme bydrae tot die tweeklavier-repertorium.” ’n Kragvertoning van tegniese vaardighede wat terselfdertyd musikaal bevredig, wag op feesgangers.

Johan Adams se Hallelujah Junction is in 1996 gekomponeer en verteenwoordig die samesmelting tussen twee klaviere deur die gebruik van kort, hoogs ritmiese motiewe wat voortdurend tussen die twee instrumente “bons”. Die basis van die ritmiese motief het Adams afgelei van die spraakritme in die woord “ha-le-lu-ja”.

Winnsboro Cotton Mill Blues, ’n meesterstuk deur Frederic Rzewski, kom ook aan die beurt. Die Nederlandse pianis, Ralph van Raat, het tereg gesê dat daar ’n algemeen aanvaarde opinie is dat moderne klassieke musiek nie toeganklik is vir die groter gehoor nie, maar dat Rzewski se werke van die sterkste getuienisse teen hierdie idee is.

Die program word afgesluit met die van Sameul Barber. Die musiek laat ’n glimlag op jou gesig en warmte in die hart – ’n heerlike luisterervaring.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top