Rust and Bone: Grinterige realisme

  • 0

Regisseur: Jacques Audiard
Spelers: Marion Cotillard, Matthias Schoenaerts, Armand Verdure, Bouli Lanners

’n Klompie nasies is bekend vir hulle kunsflieks: die Franse, Italianers, Spanjaarde en Spaanssprekendes in lande soos Mexiko, Brasilië en Argentinië, Skandinawiërs en in toenemende mate die Amerikaners. Van almal bly die Franse maar my gunsteling, dalk omdat hulle sulke absoluut uiteenlopende films maak. Ek het al gesien van galgehumor tot stylvol en ietwat pretensieus tot grinterige realisme. Rust and Bone val in die laaste kategorie, met die voorbehoud dat dit glad nie ’n tipiese kategorie-fliek is nie.

Alain (Matthias Schoenaerts), ’n Franssprekende Belg, is saam met sy vyfjarige seuntjie op pad na sy suster in Frankryk. Hulle is sonder geld of heenkome, en Alain se suster, wat hy jare laas gesien het, is al uitweg. Sy is ook nie oorstelp van vreugde om hom te sien nie, maar gee hulle onderdak en sorg dat die kind by ’n skool ingeskryf word. Alain kry werk by ’n klub as uitsmyter; dit blyk dat hy ’n bokser is. Een aand kry hy Stephanie (Marion Cotillard) in ’n benewelde toestand buite die klub en neem haar huis toe. Sy werk – tot sy verbasing – by ’n plesierpark waar sy orcas in vertonings laat optree. Ná ’n fratsongeluk is sy gestrem en sy kontak hom weer. Tot die kyker se verbasing begin die hardgebakte Alain haar help om te herstel.

Meer wil ek nie oor hierdie fliek verklap nie, behalwe om te sê dat dit iets besonders is, hoewel beslis nie vir almal se smaak nie. Dit kon strenger geredigeer en ’n bietjie verkort gewees het (daar is effens te veel dralende of ongemotiveerde skote), maar dié paar besware is nie genoeg om die geheel te bederf nie.  

Sterre: 5

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top