2013 Feesprogram: Sanlam Musiekfees (Klassiek)

  • 0

Sanlam Musiekfees (Klassiek)

Klassieke items ondersteun deur die Rupert Musiekstigting

Die kykNET Konservatorium:

Ver van hier
Met Niël Rademan, Wilken Calitz en Stanislav Angulov
Die gewilde kabaret- en volksmusieksanger Niël Rademan stel sy derde CD bekend. Dié program bevat van sy eie lirieke, asook bekende Afrikaanse en Europese nommers. Soos gewoonlik beloof die kunsteNAR om jou te neem op ’n nostalgiese reis met musiek as universele taal.
1 Maart 18:00 | Fismer | 70min | R90, R60

USSO Opera Gala
Regstreekse CD-opname, met Zanne Stapelberg, Minette du Toit-Pearce en die US Simfonie-orkes. Geborg deur Standard Bank.
Dirigent: maestro Corvin Matei.
Die flambojante sopraan Zanne Stapelberg, bekend vir haar omvangryke repertorium en sensuele optredes, neem met die oog op ’n CD ’n reeks konserte regstreeks op saam met die US Simfonie-orkes. Zanne sing van haar geliefkoosde arias, soos Voi che sapete, O mamma, uit Cavalleria Rusticana deur Mascagni, O mio babbino caro uit Gianni Schicci deur Puccini en Milonga uit Maria de Buenos Aires deur Piazzolla, asook enkele Afrikaanse liedere en ’n aantal duette saam met die geliefde mezzo-sopraan Minette du Toit-Pearce.
1 Maart 20:00 | 3 Maart 16:30 | Endler | 120min | R125, R90

Helena Hettema
Die bekroonde kabaretkunstenaar sing toonsettings van Afrikaanse gedigte en liedere oor ewigdurende liefde. Niemand bly onaangeraak deur ’n talent soos dié van die skone Helena nie.
1 Maart 20:30 | Fismer | 105min | R120

Grys Areas
Sangers: Jannie du Toit en Renette Bouwer.
Instrumentaliste: Clinton Zerf (klavier) en Susan Mouton (tjello).
Verwerkings: Clinton Zerf
Die twee wêrelde van die Afrikaanse kunslied en die kleinkuns kom byeen in Jannie du Toit se program saam met Renette Bouwer (klassieke sopraan en leier van die UJ-Koor), Clinton Zerf en Susan Mouton (hooftjellis van die Johannesburgse Filharmoniese orkes). Werk van komponiste soos Pieter de Villiers, Niel van der Watt, S. le Roux-Marais, Louis van Rensburg, Christa Steyn, Anna Davel, Lucas Maree en Laurinda Hofmeyr word uitgevoer in nuwe kontekste en jukstaposisies, soos Pescot se Oktobermaand met kitaar- in plaas van klavierbegeleiding.
2 Maart 10:00 | Fismer | 70min | R90

One Rocco, Two Pianos
Sodat almal sy hande kan sien, speel Rocco de Villiers op 2 klaviere (dalk gelyktydig!) musiek van sy pas vrygestelde album Stunning! Onder die musikale juwele tel ‘The World in Union’, ‘Hymne a L’Amour’, ‘What a Wonderful World’, ‘Stairway to Heaven’ en ‘Sacrifice’.
2 Maart 11:00 | Endler | 70min | R90, R60

Êrens is jy
Met Randall Wicomb, Kobá Solms (neé Wicomb) en Hannes van Wyk. Regie: Niël Rademan
Die volksanger en troebadoer besing die liefde met toonsettings van die mooiste Afrikaanse gedigte. Wicomb se dogter Kobá en akteur Hannes van Wyk sorg vir ’n hemelse aanbod van poësie en musiek, met pennevrugte van digters soos Krog, Van Wyk Louw, Breytenbach, Leipoldt, Visser en Watermeyer.
2 Maart 12:30 | Fismer | 60min | R90, R60

Die 14 Stasies van die kruis
Dié reeks verwerkings deur die orrelis Winand Grundling beeld die laaste dae van Jesus op aarde uit. Winand neem die luisteraar op ’n reis van pyn, lyding en verskeie ander fasette van Jesus se ervaringe en emosies. Hierdie produksie het in 2012 twee Kannas by die Absa KKNK verower.
2 Maart 13:00 | Endler | 55min | R90, R60

Franse vioolsonatas
Suzanne Martens (viool) en Pieter Grobler (klavier)
’n Program van meesterwerke vir viool en klavier wat nie gereeld gehoor word nie. Die twee dosente van die US se Departement Musiek sal die gehoor verras met ’n eklektiese seleksie vanuit ’n oorwegend Franse tradisie, wat aan beide die fynproewer én die gewone musiekliefhebber luistergenot sal verskaf.
2 Maart 18:00 | Fismer | 75min | R110, R80

2Pianists
Luis Magalhaes & Nina Schumann
Dié beroemde twee pianiste tree vanjaar vir die eerste keer tydens die Woordfees saam op. Die duo is in die American Record Guide in dieselfde asem genoem as die legendariese klavierduo’s van Argerich-Freire en Ashkenazy-Previn. Vir hul Woordfees-debuut beplan hulle ’n volledige Amerikaanse program met werke van Barber, Rzewski, Adams en Liebermann.
2 Maart 20:00 | Endler | 100min | R110, R80

Barok & Roll
Met Lizelle le Roux (viool), Juan Oosthuizen (kitaar), Ockie Vermeulen (orrel), Denny Lalouette (bas) en David Klassen (perkussie).
Bach en Bobby. Scarlatti en ‘Ska-Rumba’. In dié klassieke cross-over produksie ontmoet ? musikale droomspan vanuit twee klankwêrelde mekaar om ’n moderne geur aan Barokmusiek te gee en vice versa. Verwag dus viool met finesse, orrel met oemf, kitare met kleur, bas met bravade en pikante perkussie.
4 Maart 18:00 | Endler | 70min | R90, R60

Coenie de Villiers – Hartlangs
Woordsmid, virtuose musikant en sanger Coenie de Villiers skuif agter die vleuelklavier in vir ’n musiekfees soos min. Hy speel liedjies uit sy nuwe liriekboek Hartlangs, ’n samestelling van al die geliefde De Villiers-lirieke oor die afgelope 30 jaar. Daar is bekende treffers in nuwe jassies, en ’n skeutjie blues soos net Coenie dit kan doen.
4 Maart 20:30 | Endler | 70min | R90, R60

Joernaal van Jorik
D.J. Opperman | Roelof Temmingh
Roelof Temmingh se uitsonderlike komposisie, gebaseer op die bekende teks van DJ Opperman, is nog net een keer vantevore uitgevoer. Kom na die bekendstelling en luister na die CD waarop hierdie unieke geleentheid en andersoortige klank-ervaring vasgelê is. ’n Kort literêre en musikale toeligting sal die teks en die musiek help ontsluit.
Maart 17:00 | Jannasch | 50min | R50

Jazz-fees
US Jazz band, met Jannie Moolman
Die US Jazz-fees bied ’n kleurryke vertoning van jazz-items en ’n paar nommers van Michael Bublé deur die uitstekende jazz-groep uit die Departement Musiek (wenners van die Nasionale Ensemble kompetisie) o.l.v. Felicia Lesch. Die bekroonde klassiek-opgeleide gaskunstenaar Jannie Moolman trek ’n ander jas aan met hierdie uitvoering wat wys hoe veelsydig hy is. Moet dit nie misloop nie!
7 Maart 20:00 | Endler | 100min | R110, R80

Die Afrikaanse Lied
Hanneli Rupert, Albie van Schalkwyk en die Schola Cantorum
‘Die Afrikaanse Lied’ beklee van die begin af ’n spesiale plek op die Woordfeesprogram. Hierdie glansryke viering van eg-Afrikaanse liriek en musiek spog vanjaar met ’n spesiale gasoptrede deur mezzo-sopraan Hanneli Rupert, begelei deur die bekende Albie van Schalkwyk. Sy sing o.a. Arnold van Wyk, saam met wie sy opgetree het, se Vier weemoedige liedjies ter ere van dié groot Stellenbosse komponis. Liedere word afgewissel met uitvoerings deur die Schola Cantorum.
8 Maart 20:00 | Endler | 100min | R110, R80

Hemelse klanke: met die Suid-Afrikaanse soprane!
Goitsemang Lehobye, Janelle Visagie, Jo-Nette le Kay, Lynelle Kenned en Minette du Toit-Pearce, Begeleier: Elna van der Merwe. Regisseur: Niël Rademan
Lede van dié uitgelese groep superstemme, wat al opgetree het voor o.a. Nelson Mandela, Graça Machel, Koningin Elizabeth II, Koning Gustav van Swede en Koningin Beatrix van Nederland, sing ’n pragtige verskeidenheid arias uit operas en nommers uit operettes, musiekspele en kabarette! Verwag vuurwerke, stemtoertjies en die mooiste vokale musiek ooit.
9 Maart 17:00 | Endler | 65min | R110

Bach Tjello Suites
Peter Martens (tjello)
Hierdie konsert met al ses van Bach se tjello suites dui die begin aan van ’n landwye konsertreis gerig op die bekendstelling van Peter se nuwe CD van hierdie repertoire, waaroor hy die volgende gesê het: Recording the Bach Cello Suites is the dream of many a cellist – not least of all because this music, which is arguably still the greatest music ever written for the instrument, is able to be interpreted in as many ways as there are cellists. I do hope that these recordings will bring joy to those who are brave enough to acquire yet another new interpretation of these works! – Oktober 2012. Daar sal twee pouses wees, waartydens ’n vingerete en drankies bedien sal word (ingesluit by die prys).
9 Maart 19:00 | Endler | 180min | R125, R90

Resonant
Met Richard van der Westhuizen, David Clatworthy en Camillo Lombard; Teks en regie: Ingrid Howard
Deur ’n onwaarskynlike sameloop van omstandighede word Christian Barend Maree en Sir Ian Hamilton 20 jaar na die Anglo-Boereoorlog herenig. Boer en Brit kom tot dieselfde insig, dat hulle tydens die oorlog bloot pionne was van groter magte. Die pianis in dié stuk tree op as skaakmeester wat die hoofkarakters se lewens beheer. Geskiedenis boeiend ongewoon opgedis.
4 Maart 20:30 | 6 Maart 18:00 | Japie Krige | 80min | R100

Die Kaap is weer Hollands
In hierdie vertoning maak Jannie Moolman ’n draai in Afrika, Holland, Frankryk, Spanje en die Ooste om kers op te steek by al die tale waaruit Afrikaans ontleen is. Dié sjarmante tenoor voer jou mee op ’n onvergeetlike reis.
6 Maart 20:30 | Japie Krige | 80min | R100

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top