US Woordfees | Festivals

 
2013 Feesprogram: Dramafees

Dramafees

Bittersoet
'n Clover Aardklop-produksie aangebied deur Elsabé Daneel Produksies. Teks: Deon Opperman; Vertaling: Hanli Rolfes. Met Elsabé Daneel. Mediavennoot: Media24.
Regie: Juanita Swanepoel.
Vyf vroue. Een aktrise. 'n Ode aan weerloosheid en taaiheid. Hoe verwerk mens die trauma van verkragting, aborsie, onvrugbaarheid, witwees in Afrika, asook die weggee en selfmoord van 'n kind? Die verliese is bitter, maar die soet balsem lê in elke vrou se stille triomf om heel te word.
1 Maart 14:30, 17:00 | 2 Maart 17:30 | 3 Maart 19:00 | 4 Maart 20:30 | 5 Maart 11:00, 14:30 | 6 Maart 14:30 | 8 Maart 10:00 | Klein Libertas Teater | 80min | R 100 | Geen 0/16 S

Huis toe
Deur Harold Pinter. Met Neels van Jaarsveld, Deon Coetzee, Amalia Uys, Werner Coetser, Johan Engelbrecht en Armand Aucamp.
Regie: Henry Mylne
The Homecoming se Broadway-produksie het in 1967 'n Tony vir beste drama gewen. Die drama word allerweë beskou as Pinter se meesterwerk – 'n spel van psigologiese kompetisie en emosionele impotensie, wat eskaleer tot 'n ontstellende wedywering van die sosiale en morele orde van familieverhoudinge en 'n huwelik.
1 Maart 18:00 | 2 Maart 10:00 | 3 Maart 14:30| HS Stellenbosch | 120min | R110


An(t)oniem

Aangebied deur Rust Co-Operative. Teks: Philip Rademeyer en Penelope Youngleson. Met Maryke Nel en Jaco Nothnagel.
Regie: Philip Rademeyer
Twee jongmense sit elk voor 'n rekenaar en fantaseer oor ’n sielsgenoot om die eensaamheid te verdryf, en begin dan aanlyn na die ideale maat soek. An(t)oniem volg dié 21ste eeuse soektog na hemel op aarde, volmaaktheid en geluk, met 'n komiese skuinskyk na mense se onderliggende desperaatheid, eensaamheid en verlange.
1 Maart 20:30 | 3 Maart 10:00 | Klein Libertas Teater | 60min | R90, R60 | Geen 0/16 T


Die vrou vantevore

’n Absa KKNK-produksie aangebied deur TEATERteater. Ondersteun deur Theatre Without Borders en Protea Hotel Stellenbosch. Deur Roland Schimmelpfennig. Met Brümilda van Rensburg, Stian Bam, Erica Wessels, Wilhelm van der Walt en Greta Pietersen.
Regie, ontwerp en vertaling: Marthinus Basson
'n Klop. Die deur word oopgemaak. Die man herken nie die vrou by die deur nie. Sy kom hom herinner aan ’n belofte wat hy 24 jaar tevore gemaak het: om haar ewig lief te hê. Wat volg, is ’n vurige verhaal vol humor en kinkels wat mettertyd uitkring tot ’n volbloed tragedie.
1, 2 Maart 20:30 | Spier Amfiteater | 75min | R130, R110, R90

Dowwe Dolla dink diep

Teks: Jurgen Human. Met Margit Meyer-Rödenbeck
Twee boeke van Frederick Nietzsche en Siener van Rensburg beland tussen Dolla se versameling Mills & Boon’s tydens haar trip op die Costa Concordia. Kennis is mag, sê Nietzsche, maar kennis sonder begrip is gevaarlik. Soos te verwagte, kry Dolla onmiddellik ’n uitnodiging van die kaptein om te kom kuier. Die res is geskiedenis, maar die ondervinding laat haar dink… diép dink.
1 Maart 20:30 | 9 Maart 12:30 | Japie Krige | 75min | R100
Die lelike eend


Die lelike eend

Aangebied deur die US Woordfees; vervaardig deur Polony. Teks: Marius von Mayenburg; vertaling: Roelof Storm. Met Roelof Storm, Hannah Borthwick, Roeline Daneel en Mariechen Vosloo.
Regie: Christiaan Olwagen
Ken dink hy is normaal. Hy is verkeerd. Dié kragprop-ontwerper is so onaansienlik dat sy eie vrou nie sy aangesig kan verduur nie. ’n Wonderwerk van plastiese chirurgie omskep hom in ’n nouveau Adonis. Skielik wil almal sy hemelse gesig hê. ’n Sexy, skreeusnaakse sosiale satire oor ons obsessie met skoonheid.
1 Maart 22:30 | 2 Maart 10:00 | 3 Maart 21:00 | 9 Maart 12:30 | 10 Maart 16:00 | Klein Libertas Teater | 75min | R90, R60 | Geen 0/16 S


Deksels

Aangebied deur The Mechanicals. Deur Leon Kruger. Met Tinarie van Wyk Loots en Carel Nel. Regie: Albert Maritz
Twee mense het deur die samelewing se vingers geglip in hulle ondergrondse bestaan. Of is dit net die een? Hul verwondering oor die lewe is gereduseer tot 'n blink asblik. Hulle is kaal gestroop, soms letterlik. So, is daar uitkoms uit hul kaalgat bestaan? Of het net die een die probleem? En as sy 'n opsie het om bo die kelder uit te styg, letterlik, wat van die ander een?
2 Maart 00:15, 20:30 | 4 Maart 22:30 | 6 Maart 22:30 | Klein Libertas Teater | 75min | R90| OB 0/17 N

 

Heiland
Aangebied deur die US Woordfees. Deur Sam Shepard; vertaling: Birrie le Roux. Met Mariechen Vosloo, Roxanne Bain en Carel Nel.
Regie: Rocco Pool
'n Verwerking van Sam Shepard se Cowboy Mouth. Twee vroue soek na verlossing van hulle alledaagse bestaan. Hoe ver moet hulle wegbreek om hul drome na te jaag? Sex, Drugs en Rock 'n Roll is die olie op die vuur, maar wat bly oor as jy kry wat jy soek?
2 Maart 01:30, 14:30 | 7 Maart 14:30 | 10 Maart 12:30 | Klein Libertas Teater | 75min | R95, R60


Hol

'n Kunstekaap-produksie; 'n projek van die New Writer’s Season ondersteun deur die Lotto. Deur en met Nicola Hanekom.
Regie: Fred Abrahamse
Wenner van 'n Fleur du Cap vir beste spel in ’n solovertoning – die soveelste prys vir hierdie uitmuntende aktrise. Hol ondersoek die koste van ’n kitskos-bestaan. Liesbet hol op 'n hol maag op ’n trapmeul, ’n rottewiel van haar holderstebolder gedagtes. Sy sukkel om haar balans te behou en strompel oor haar verlede.
2 Maart 03:15 | 5 Maart 20:30 | 6 Maart 18:00 | Klein Libertas Teater | 65min | R95 | 0/16 T

Heiland


Hasepad

'n US Woordfees-Clover Aardklop ko-produksie aangebied deur Klein Libertas Teater Produksies. Deur David Lindsay-Abaire; vertaling: Martelize Kolver. Met Stephanie Hough, Morné Visser, Martelize Kolver, Joanie Combrink en Gershwin Mias.
Regie: Juanita Swanepoel
Dié vertaling van die 2007 Pulitzerpryswenner handel oor Bekka en Herman Viljee, en 'n tragedie wat hul lewens onherroepelik verander. Die egpaar, beide soekend, maak soms gevaarlike keuses in 'n poging om hul verlies te verwerk. Soms tragies, soms komies, deurlopend eerlik.
2 Maart 10:00 | 3 Maart 14:30 | 5 Maart 20:30 | Japie Krige | 105min | R120 volwassenes, R80 pensioenarisse en studente


Rekmerke: Grepe uit 'n swangerskap

Ondersteun deur Klein Libertas Teater. Met Stian Bam en Nicole Holm.
Teks en regie: Francois Toerien
’n Warmgloed met sy wortel in my solar plexus betrek my soos ʼn tsunami-golf en stig ʼn maalkolk in my norra.” Só word romantiese mites oor swangerskap ontluister en die ware euforie en waansin blootgelê. Beleef die hoofkarakter se pogings om haar man te laat bond met die boep, die agterdogswaansin, ʼn eksentrieke ginekoloog en ʼn kloekende skoonma.
2 Maart 13:00 | 3 Maart 14:30 | 6 Maart 11:00 | Klein Libertas Teater | 80min | R110 |Geen 0/12 S


2092: God van klank
Aangebied deur dubbelpunt [:] produksies. Deur Wilken Calitz. Met Neels Coetzee.
Regie: Marí Borstlap
In die jaar 2092 is Hernon Freytag, die laaste lewende musikant in Kaapstad, in aanhouding weens sy oortreding van die wet op die ‘Verbod van klank’. In sy laaste betoog word die gehoor tot insig gebring oor die nouverweefde band tussen geskiedenis, klank, lewe, stilte en die dood. ʼn Vars multi-dimensionele teaterervaring.
2 Maart 04:30 | Klein Libertas Teater | 30min | R75, R40 | 6 Maart 18:00, 20:00 | 8 Maart 18:00, 20:00 | 9 Maart 09:00, 10:00, 11:00 | PJ Olivier | 30min | R75, R40


Liefde, Anna

Wenner van die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys 2012. Moontlik gemaak deur Die Dagbreek Trust. Aangebied deur GZ Productions en Liesl Marx Produksies. Deur Schalk Schoombie. Met Sandra Prinsloo, Deon Lotz en Gustav Gerdener.
Regie: Louis van Niekerk
Liefde, Anna bring die formidabele Anna Neethling-Pohl in al haar onsterflike glorie as aktrise, taalstryder en vuurvreter na die verhoog – met Sandra Prinsloo in die naamrol van haar eertydse mentor. Dit is ’n viering van een van die kleurrykste pioniers van Afrikaanse toneel. Tye van swaarkry en triomf speel op haar sterfbed voor haar geestesoog af en sleutelfigure uit haar lewe besoek haar.
2 Maart 14:30 | 3 Maart 20:30 | 4 Maart 20:30 | HS Stellenbosch | 80min | R100


Die 100 gewildste Afrikaanse gedigte

Aangebied deur die US Woordfees; vervaardig deur Hugo Theart. Met Stian Bam, Nicole Holm, Marlo Minnaar, Waldemar Schultz en Tinarie van Wyk Loots.
Samestelling en regie: Juanita Swanepoel
Leserskring, in samewerking met By en RSG, stel 'n bloemlesing en CD op die skrywersfees bekend met die 100 gewildste Afrikaanse gedigte, soos deur 'n openbare stemming gekies. 'n Bekroonde geselskap verpak al jou gunstelinggedigte in 'n heerlike reis deur die Afrikaanse poësie-skatkis. Van Jonker tot Krog, Totius tot Letoit, Opperman tot Small, Marais tot Eitemal.
2 Maart 16:00 | 3 Maart 20:30 | 6 Maart 14:30 | 7 Maart 20:30 | Japie Krige | 90min | R100


Die melktrein stop nie meer hier nie
Aangebied deur die US Woordfees, in samewerking met Kunstekaap en Abrahamse & Meyer Produksies. Deur Tennessee Williams. Met Antoinette Kellermann, Marcel Meyer en Roelof Storm.
Regie: Fred Abrahamse
Die Suid-Afrikaanse première van Tennessee Williams se ‘gesofistikeerde sprokie’. Flora ‘Sissy’ Goforth, die veelgetroude weduwee-miljoenêres, bestee haar laaste dae desperaat besig om haar memoirs te voltooi, wanneer sy onverwags onderbreek word deur die aankoms van 'n aantreklike jong digter wat metgesel speel vir ryk ou vrouens kort voor hulle sterf.
2 Maart 18:00 | 3 Maart 10:00 | 4 Maart 12:30 | HS Stellenbosch | 135min | R100 | Geen 0/16 TN

 
Kytie – 'n Koos Kombuis-storie
Aangebied deur Herman Pieters en Johann Oosthuizen. Deur Alexa Strachan. Met Crystal Donna Roberts en Vaughan Gardiner.
Regie: Margit Meyer-Rödenbeck
Kytie was ma en vriendin, warmte en liefde vir ’n seun wat effe anders was. In ’n tyd toe dit nie aanvaarbaar was om ander en anders te aanvaar nie, het die twee ’n band gehad wat beide se leefwêreld moontlik gemaak het. Die Kytie-storie kan oor vele huishoudings vertel word. Dit is tegelyk tragies, mooi en net vrek snaaks, soos slegs Koos dit kan sê.
2 Maart 20:30 | 3 Maart 11:00 | 5 Maart 17:00| Japie Krige | 70min | R95

Crystal Donna Roberts en Vaughan Gardiner

Boetie, dit is tyd vir bid as 'n seekoeikoei op jou skoot kom sit
’n Klein Libertas Teater-produksie. Met Wessel Pretorius en Cintaine Schutte.
Regie: Juanita Swanepoel
Philip de Vos is alombekend vir sy luimige limerieke en kwasi-filosofiese rymelary. Hierdie maltrap poësie-program is 'n samestelling van De Vos se verse in die formaat van 'n moderne sprokie. Vermaak vir die hele gesin, met hier en daar 'n kléin ietsie wat (dalk) onder die kombers hoort!
3 Maart 12:30, 17:00 | 4 Maart 14:30 | 10 Maart 10:00 | Klein Libertas Teater | 55min | R90, R65


Kind Hamlet

'n Clover Aardklop-produksie aangebied deur TEATERteater. Ondersteun deur Protea Hotel, Stellenbosch. Deur Marthinus Basson en die geselskap. Met Cobus Rossouw, Sandra Kotzé, Ludwig Binge en Roelof Storm.
Regie en ontwerp: Marthinus Basson
Veertig jaar gelede speel die formidabele Cobus Rossouw 'n onvergeetlike voorlaaste Hamlet in Afrikaans. Die rol, elke akteur se droom, word ingestudeer deur 'n jong akteur, Ludwig Binge. Rossouw en sy aktrise-regisseuse vrou, Sandra Kotzé, begelei hom deur die kronkelgange van Elsinore op sy reis van vakman tot kunstenaar. Kind Hamlet is deels dokumentêr, deels ode, dog volkome teater.
3 Maart 18:00 | 6 Maart 13:00 | 7 Maart 17:00 | 9 Maart 17:00 | Fismer | 100min | R100, R60 studente


Tjop en dop

Aangebied deur die US Woordfees; vervaardig deur Polony. Deur De Klerk Oelofse en Christiaan Olwagen. Met De Klerk Oelofse, Carel Nel, Ludwig Binge en Cintaine Schutte.
Regie: Christiaan Olwagen
Dawie hou 'n ‘skilpadbraai’ – meer dop as vleis. Rooies en Blikkies kruis tange oor braaitegnieke. Die televisie gee probleme en die rugby is aan die gang. 'n Klop aan die deur: 'n Meisie dreig om hulle vriendskap te skud tot in sy fondamente.
3 Maart 22:30 | 6 Maart 20:30 | 7 Maart 21:00 | HS Stellenbosch | 90min | R90 volwassenes, R60 studente en pensioenarisse | Geen 0/16 T


Eenkantland

Met Neels Coetzee.
Regie: Margot Luyt
Oom Theunis Uys het Namakwaland-stories aangeteken wat dié kontrei voor jou geestesoog laat oopwaaier. Die veteraan Neels Coetzee laat die vertellings lewe met humor en patos. Van Theunis Uys het George Weideman gesê: ‘Pure soutribbetjie en groen pampoenbredie. Jy wil altyd nog skep.’
4 Maart 11:00 | 7 Maart 11:00 | 8 Maart 13:00 | Klein Libertas Teater | 60min | R90

Af
Deur Juanita-Juliet van Wyk. Met Marlo Minnaar.
Regie: Gaerin Hauptfleisch
'n Aangrypende drama oor Joshua Vogua, 'n seun wat sy lewe lank as skisofrenielyer buite die samelewing gestaan het. Maar wat sê dit van die gemeenskap? Is skisofrenie 'n slim term om mense te beskryf wat teen norme rebelleer? Of behoort dit juis die samelewing te beskryf wat nie wíl rebelleer nie? Met sy bekkige beste vriend aan sy sy en ’n ma wat bly spook, neem Joshua jou op ’n pelgrimsreis met die vraag: Wat is normaal?
4 Maart 18:00 | 10 Maart 14:30 | Klein Libertas Teater | 50min | R80 | Geen 0/16 TG | Afr. en Eng.


Bidsprinkaan

’n US Woordfees-Suidoosterfees ko-produksie. Deur André P. Brink. Verwerking: Saartjie Botha. Met Elton Landrew, Gys de Villies, Gideon Lombard en Lee-Ann van Rooi.
Regie: Janice Honeyman
Kupido Kakkerlak is nie gebore nie, hy is uitgebroei uit die stories wat sy ma vertel het. As leuenaar, drinker, minnaar en bakleier van die kontrei en man van God, is die lewe van die eerste Khoi-sendeling ’n belangrike stuk geskiedenis wat sin help maak van Suid-Afrika vandag. Bidsprinkaan, 'n hoogtepunt in Brink se oeuvre, is bekroon met die M-Netprys en die UJ-prys vir skeppende skryfwerk.
4, 5, en 6 Maart 20:15 | Oude Libertas Amfiteater | 75min | R120, R100, R80


x + y

Aangebied deur Stad Kaapstad in samewerking met die Suidoosterfees en die US Woordfees. Produksiehuis: TEATERteater. Deur Christiaan Olwagen. Met Anna-Mart van der Merwe, Stian Bam, Brendon Daniels, Tinarie van Wyk Loots, Ashley de Lange, Akhona Goniwe, Annake Horn, Chad Horné, Jan-Beyers Jonker, Des-Lee Mckenzie, Duard Robbertse, Llewellyn Stevens, Wian Taljaard, Bradley Thompson en Luzey Uys.
Regie en ontwerp: Marthinus Basson
Dié opdragproduksie van Stad Kaapstad se Toneelspelkompetisie bied talentvolle hoërskool-akteurs die geleentheid om saam met professionele akteurs te speel. Die stuk ondersoek die verhoudings tussen kinders met hulle ouers in 'n era vol nuwe uitdagings.
4, 5 en 6 Maart 20:30 | Spier | 90min | R100 volwassenes, R60 skoliere


Oskar en die pienk tannie

Aangebied deur Sandra Prinsloo en Alexa Strachan. Deur Eric-Emmanuel Schmitt. Vertaling: Naòmi Morgan. Met Sandra Prinsloo.
Regie: Lara Bye.
Sandra Prinsloo skitter in haar nuwe eenvrouvertoning as beide die 10-jarige Oskar én die Pienk Tannie wat hom as vrywilliger in die hospitaal besoek. Toekennings: Beste DebuutproduksieToneel – Vryfees 2012, asook Beste Aktrise – Aardklop 2012.
5 Maart 14:30 | 7 Maart 14:30 | 8 Maart 11:00, 14:30 | 9 Maart 10:00 | 10 Maart 12:30 | Japie Krige | 75min | R110


Oupa en Ouma op toer

Met Johan en Lida Botha.
Teks en regie: Leon Kruger
Na twee suksesvolle kykNET TV-reekse het Stanley en Debora besluit om die land plat te toer. Stanley se wag voor sy mond is al sedert 1965 op strike en Debora het skinder 'n amptelike taal gemaak. Hulle stry konstant oor niks, hy vergeet alles wat hy moet onthou en sy onthou alles wat hy hoop sy liefs sal vergeet. Die baie herkenbare egpaar het al in baie mense se harte ingekruip – kom kyk gerus wat hulle nou al weer uitspook!
5 Maart 14:30 | 10 Maart 16:00 | HS Stellenbosch | 70min | R100

 

Smelt
'n Absa KKNK-produksie, ondersteun deur die LW Hiemstra Trust. Met Gerben Kamper, De Klerk Oelofse en Brenda Mhangwani. Saamgestel deur Saartjie Botha.
Regie: Wolf Britz
Om 'n storie behoorlik te vertel, sit nie in enige man se broek nie. Smelt is gebore uit meesterkortverhaalskrywer Abraham H. de Vries se skatkis van verhale en staaltjies. Met dié produksie lig ons die hoed vir die storieboer van die Klein Karoo wie se kruik nooit leeg word nie.
5 Maart 14:30 | 9 Maart 13:00 | 10 Maart 16:00 | Fismer | 70min | R95, R60

Tune jy my?
Teks: Wikus du Toit. Met Pierre van Heerden.
Regie: Neels Clasen
Wat gebeur as 'n uitgesproke akteur wat al die wêreld plat getoer het, terugkeer na S.A. en besluit om op 'n seepkis te klim en sy stem dik te maak? In dié skreeusnaakse kabaret tune Pierre van Heerden die gehoor oor sy irritasies in ons soms frustrerende land.
5 Maart 18:00 | 10 Maart 18:30 | Klein Libertas Teater | 60min | R90 volwassenes, R60 studente

Kopstukke
Aangebied deur Kosie House of Theatre. Deur Jeanne Goosen. Met Lizz Meiring en André Stoltz. Regie: Sandra Prinsloo
In dié swart komedie word gekyk na 'n egpaar wat albei in 'n motorongeluk van die nek af ondertoe verlam is, vir altyd aan mekaar gekluister in hul dubbelbed. Goosen se soms makabere komedie bied 'n kaalvuis blik op verhoudings. Skreeusnaaks en dikwels skokkend.
5 Maart 20:30 | 6 Maart 14:30 | HS Stellenbosch | 60min | R100 | Geen 0/18 T

Stander
Aangebied deur die US Woordfees, vervaardig deur Impressario. Deur Charles J. Fourie. Met Waldemar Schultz.
Regie: Albert Maritz
'n Dekade gelede het Albert Maritz 80 keer die rol gespeel van die kultusfiguur André Stander. Nou ruil hy rolle om met Waldemar Schultz. Schultz speel die polisieman/bankrower/volksheld, wat ook telkens die rolle vertolk van die cops wat hom soek, die mense wat hy beroof, sy kamerade, sy gebroke ma en talle ander. Vermaak uit die boonste rakke – 'n groot rolverdeling val saam in een veelsydige akteur!
6 Maart 18:00 | 8 Maart 11:00 | 9 Maart 10:00 | Fismer | 75min | R85 | Geen 0/14


Bloed

Ondersteun deur Clover Aardklop Nasionale Kunstefees, Botha Wynkelder, The Karoo Finansiële Adviseurs, Network Advertising, The Oystercatcher Trail en The Photographic Journey. Aangebied deur Stercus Produksies. Met Lulu Botha, Stephanie Hough en Vicky Stemmet. Ten bate van Die Nasionale Beenmurgregister van Suid-Afrika, The Sunflower Fund en The Pink Drive.
Regie: Gaerin Hauptfleisch
Bloed is gegrond op die memoir van Yolande Brittnell Steyn en vir die verhoog verwerk deur Stephanie Hough. Dit vertel dieware verhaal van kots en hare wat uitval, van val en weer opstaan, van huil, van uit die maag uit lag. Maar dis ook ’n storie van saamstaan teen die lewe se aanslae. 6 Maart 20:30 | 8 Maart 20:30 | Fismer | 65min | R100


The return of Elvis du Pisanie

'n Klein Libertas Teater-produksie. Deur Paul Slabolepszy. Met Pierre-Arnold Theron.
Regie: Juanita Swanepoel
'n Hartroerende komedie oor Eddie, 'n afgelegde ondervloerverhittingsverkoopsman wat sy lewe wil beëindig totdat die koning van Rock 'n Roll intree. Op 'n verlate straathoek, met slegs 'n lamppaal as geselskap, neem Eddie ons op 'n uiters snaakse, dog hartverskeurende avontuur.
6 Maart 20:30 | 10 Maart 22:30 | Klein Libertas Teater | 75min | R90, R65


Vier briewe vir Jan Ellis

'n US Woordfees-Suidoosterfees ko-produksie vervaardig deur Pitch Promotions. Storie en musiek: Steve Hofmeyr. Met Christo Davids. Met die vriendelike vergunning van Zebra Press.
Regie en verwerking: Lizz Meiring
Toe dinge skeef loop vir Jan, loop dit erg skeef. Veertig jaar later stap posman Jan Ellis uit die tronk met vier briewe wat hy nooit deliver het nie. Hy het 'n paar ure oor om te leef. Is dit moontlik dat een man se onskuld ander soveel leed kan besorg? Eg Suid-Afrikaans en eg Afrikaans.
7 Maart 10:00, 13:00 | Fismer | 75min | R100 | Geen 0/16 T 


Die koggelaar

Aangebied deur die US Woordfees, vervaardig deur The Mechanicals. Deur Pieter Fourie. Met Stian Bam, Tinarie van Wyk Loots, Alida Theron, Charlton George, Johann Nel en Sekoati Tsubani.
Regie: Albert Maritz
Pieter Fourie se kontroversiële bekroonde drama. In die tagtigerjare van die vorige eeu teister 'n genadelose droogte die Koggelkaroo. Mens, dier en plant worstel om oorlewing. Onderliggend gedy die droogte in die harte van 'n land se mense. 'n Boer in 'n tyd van waternood word gekonfronteer met alles wat sy wêreld bepaal. Aangrypende, durende teater.
7 Maart 18:00 | 9 Maart 14:30 | 10 Maart 20:30 | HS Stellenbosch | 100min | R100 | OB 0/16 ND


’n Vrou soos Henriëtte

Aangebied deur die US Woordfees. Met Bettie Kemp.
Regie: Andre van Blerk
Dieselfde span wat in 2012 gesorg het vir die uitverkoopte TaMiem, is terug met die tweede dokumentêre teaterproduksie in die trilogie van vroue-Hertzogpryswenners wat grense verskuif het. In dié stuk oor die dubbelbekroonde skrywer Henrïette Grové sorg twee fynskilders van menslike emosies en beweegredes– vereerde skrywer en uitmuntende aktrise – saam vir 'n besondere belewenis.
7 Maart 20:30 | 8 Maart 16:00 | 9 Maart 10:00 | Klein Libertas Teater | 55min | R90

Labirint

Deur Daleen Krüger. Met Deon Lotz en Illse Roos. Musiek: Schalk Joubert.
Regie: Vicky Davis
Albert Olivier was ’n suksesvolle sakeman tot een woord sy hele wêreld omvergegooi het: retrenchment. Hy verval in verwyt, woede, depressie en bereik dan breekpunt. Neem ’n man se trots, dan neem jy sy lewe. Labirint is ’n realistiese, alledaagse verhaal wat ons almal raak.
8 Maart 20:30 | 9 Maart 15:30 | Japie Krige | 70min | R100 | Geen 0/10 G

Rooiland

'n Clover Aardklop en Absa KKNK ko-produksie. Wenner van 5 Fiësta Teatertoekennings en die AngloGold Ashanti Smeltkroespys 2011. Deur Tertius Kapp. Met Charlton George, Brendon Daniels, Leon Kruger en Wilhelm van der Walt.
Regie: Jaco Bouwer
Rooiland is 'n verhaal van verhale, oorgeërfde herinneringe wat wapens word in die monde van gevangenes. Pomobasa, Nongoloza en Kilikijan maak die oorgang van mens na mite in 'n beknopte sel waar vier mans spook om slaapplek, sitplek, praatplek en dinkplek. As almal saam skreeu, tree daar tog 'n soort waarheid na vore.
8 Maart 20:30 | 9 Maart 10:00 | HS Stellenbosch | 90min | R100 | Geen 0/16 TSN


The Three Litle Pigs

Presented by Rob van Vuuren and The Pink Couch. With Rob van Vuuren, James Cairns and Albert Pretorius.
Director: Tara Notcutt
Fresh from Perth, Australia, and heading to New York and Amsterdam in 2013, The Three Little Pigs is a taut psychological thriller set in a world where Animal Farm meets Reservoir Dogs and gives rise to a dark and unexpected take on the classic children’s story. Who’s afraid of the big bad wolf? 
8 March 22:30 | 9 March 21:00 | 10 March 20:30 | Japie Krige | 90min | R100

Holmakiesie
Met Marion Holm.
Regie: Chris Vorster
Almal weet van bollemakiesie slaan, maar wat is ’n ‘holmakiesie’? Dóén mens dit? Kyk mens dit? Of éét mens dit? Marion Holm en Chris Vorster se teks sal oud en jonk laat giggel, goed voel en laat dink. Holmakiesie – miskien kan jy dit ook doen, wie weet? Kom kyk en vind uit!
9 Maart 18:30 | 10 Maart 18:00 | Japie Krige | 70min | R100

Die Bram Fischer wals
Ontwikkel deur die Vryfees en die Universiteit van die Vrystaat. Met David Butler. Sang en stemwerk: Amanda Strydom en James Whyle.
Teks en regie: Harry Kalmer
Die ontroerende verhaal van Bram Fischer, die Afrikaner-kommunis wat Nelson Mandela van die galg gered het, maar wat self in die tronk dood is. Gebaseer op navorsing en gesprekke met mense wat Bram goed geken het, word daar gekyk hoe sy Afrikanerwortels sy politieke uitkyk, sy lewe en uiteindelik sy lot bepaal het.
8 Maart 17:00 | 9 Maart 20:30 | 10 Maart 11:00 | Fismer | 65min | R95

Putsonderwater
Ondersteun deur die Lotto. Aangebied deur FACTS. Deur Bartho Smit. Met Marli van der Bijl, Jefferson-Dirks Korkee, Johann Nel, Nico Luwes, Gustav Gerdener, Petrus du Preez en Nic Beukes.
Regie: Pieter Venter
Die verhaal van Maria wat saam met haar pa, Jan Alleman, op die klein dorpie Putsonderwater woon. Almal probeer die naïewe Maria beïnvloed en beheer deur vir haar te sê wat sy graag wil hoor. Niemand besef egter die implikasies van hul leuens nie. Mettertyd glo Maria sy is vry van almal se greep, maar is sy regtig?
9 Maart 20:30 | 10 Maart 11:00 | HS Stellenbosch | 90min | R100


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address