SêNet-briewe | Letters

 
Lesersresensie: 100% Volroom Melt
Vanaand (19 Junie) by die Aan de Braak Teater op Stellenbosch bevind ek my in die geselskap van Skerp-skerts. Of soos Melt Sieberhagen verkies om dit te noem, ’stand-up’.

In my kop sê ’stand up ’ sekerlik om ’op te staan vir iets’, al verstaan die Amerikaners dit anders, en ’skerp-skerts’ook nie vir Melt bevredig nie, daarom volstaan hy by die Engelse term. Ten spyte daarvan, is hy trots Afrikaans, indentifiseer hy met die Afrikaner en al sy doenighede, en verwys hy dikwels na sogenaamde Afrikanertradisies, soos rugby en brandewyn (en die effek daarvan). En, baie slim, wys hy uit dat rugby inderdaad nié oorspronklik ’n Afrikaanse ding is nie, sonder om enige rugby-Afrikaan te ontstel.

Melt Sieberhagen verwoord sy Afrikanerskap te midde van al die kulture in ons land, met al die tersaaklike verwysings en modernismes. En baie snaaks.

Sonder om die minder-liberales te affronteer, en die wel-liberales te erken, bespreek hy al die onderwerpe van Afrikanerskap met mening. Van sy kinderdae in Ventersdorp, toe sy pa die drankwinkel gehad het, en hulle drank verskaf het aan die hele gemeenskap, van swart tot AWB, met die bykomende beskrywing van die nagevolge daarvan, tot dramastudies op UP en sy indrukke van Pretoria, weerspieël dié man ’n kennelike skerp observasie. Sy beskrywings van sy huidige samelewing in Greymont, Johannesburg is raak.

Sy stekies na die klein getal gehoorlede was slim en snaaks, met die draai in die stertkant wat mens laat besef dat daar iets fout is met die publiek se ondersteuning van kwaliteit-vermaak. Rebel wat ek is, sou ek nóg meer riskante stellings wou hoor, omdat ek agtergekom het dat daar méér is wat Melt wil sê, maar hy is versigtig. Met die huidige histerie rondom Casper de Vries kan ek dit verstaan – Melt wil mense na sy shows toe aantrek, nie afstoot nie, so daar is ’n sensitiwiteit rondom taalgebruik, vloekwoorde en onderwerpe. In my opinie, onnodig.

Ten spyte van sy baie tersaaklike bewustheid oor daaglikse ’issues’, is hy slim genoeg om weg te bly van Die Spies en ander uitgemergelende sake. En dit is verfrissend, want mens verwag dit tog. Hier is intelligente en welbesproke kommentaar oor die verlede en die huidige waarmee almal beslis kan indentifiseer, sonder om verlei te raak deur “the hottest topic at the moment”.

Melt is heerlik vermaaklik, laat jou na elke sin kliphard lag, en gee beslis ’n lekker vernuwende aanslag op Afrikaanse skerp-skerts.

Doen jouself ’n guns en gaan luister na wat Melt Sieberhagen te sê het. Dis cool. Hy’s nie ’n poephol nie. En hy is baie, baie snaaks.

Rika Vermeulen

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address