LitNet Akademies-resensie-essays | Reviews

 
LitNet Akademies-resensie-essay:'n Geskryfde Lewe – 'n monumentale blik op 'n monumentale skrywer

JM Coetzee: 'n Geskryfde Lewe
JC Kannemeyer
Uitgewer: Jonathan Ball Publishers SA
ISBN: 9781868424962

Koop JM Coetzee: 'n Geskryfde Lewe by kalahari.com.

Hierdie massiewe stuk biografiese werk, deur ’n grootse, afgestorwe biograaf, staan in die teken van die monumentale: die monumentale skrywer oor wie ’n biografie geskryf móét word; die monumentale artistieke oeuvre; die vatbaarheid binne literêre kultuur al dan nie vir monumentalitieit; die kunswerk met monumentale status as ’n “classic”; trouens, die hele kulturele model van die skrywer-figuur as ’n monumentale fakkeldraer, ’n uitsonderlike enkeling-kunstenaar wat as geniaal geag word, en aan wie ’n lisensie as ’t ware deur die gemeenskap gegee word om as artistieke padvinder op te tree in die soeke na grotere waarhede te midde van kulturele warboel, sinlose konsumerisme, politieke verdraaiing en historiese rampe soos apartheid.

So ’n kunstenaar – of “artist”, in die wyer betekenis wat Engels aan dié woord verleen – staan feitlik alleen binne sy gemeenskap. Sy of hy gaan gebuk onder die vloek van uitsonderlike genialiteit (wat dikwels gepaard gaan met asosiale tendense, ’n sekere soort malheid en sosiale vervreemding), en is boonop opgesaal met die opdrag (en net die hemel weet waarvandaan dit kom) nie net om ’n spesiale, inspirerende tipe leiding te gee nie, maar ook om visioenêr te voel, dink en skryf. Sy moet járe lank sukkel om erkenning te verdien binne ’n bekrompe eietydse establishment wat jaloers wag hou by die hekke van die godehemel vir sonderlinge genieë; en dan, nadat dié pynlike deurbraak uiteindelik gemaak word, moet sy die aanslag verduur van skielik populêr wees binne ’n vulgêre massakultuur wat haar werke nie mooi verstaan nie.

As dit alles klink na ’n baie ouer model van skrywerskap as dié wat nou heers, dan is my punt duidelik. Want beide JM Coetzee en JC Kannemeyer staan as ’t ware in die laaste linie van tradisionele skrywerskap – en literêre kritiek – binne die bestek van monumentaliteit.

Die vraag wat onverbiddelik sterk by my opgekom het by die lees van Kannemeyer se voortreflike biografie oor Coetzee, met die gepaste subtitel ’n Geskryfde Lewe, is die volgende: Het ons nou – min of meer saam met die fin de siècle en die einde van die 20ste eeu, die eeu van modernisme en gróót skrywers soos byvoorbeeld TS Eliot, Samuel Beckett en Jorge Louis Borges – aan die einde gekom van die model van die skrywer as “Great Artist”? Want nie net is tradisionele literêre kritiek aan die kwyn terwyl die gelymakende diskoerse van “kultuurstudies” al hoe meer dominant word nie, maar die postmoderne wêreld waarin ons nou onteenseglik verkeer, staan afsydig teenoor sowel artistieke as ander vorme van hiërargieë, en toon min respek vir “outoritêre” figure of diskoerse (álles is mos diskoers; selfs skrywers is gevangenes daarvan, soos Roland Barthes in “Death of the Author” uitgewys het; en die term teks omvat alles – Derrida het mos gesê: “[T]here is nothing outside of the text”).

As betekenaar is monumentaal veelsydig – dit verwys enersyds na dit wat só waardevol geag word dat dit uiterlike gestalte moet kry binne die kollektiewe geheue van ’n bepaalde gemeenskap en sy kultuur, deur middel van kritiek, biografieë, bloemlesings, festschrifte, ens. Andersyds dui dit ook op grootsheid, of dit wat die eienskap van grootsheid verdien. Maar helaas beteken dit ook ’n “monument” vir dit wat afgesterf het, dit wat in die huidige tyd as ’n relik onthou word.

Kannemeyer se biografie sien dus die lig in die skemertyd van die ou literêre orde (en dit is nie toevallig dat hy gesterf het kort nadat die boek klaar geskryf was nie). Dit is ’n skemering waarin die woord monumentaal dus ’n diep ironiese inslag het, aangesien die gedagte – en selfs die bestaan – van die skrywer as “monumentale” figuur al hoe meer bevraagteken word binne die bestek van ’n afplattende kulturele opset waarin die hiërargie van “grotere” en “mindere”, hogere en laer, verpes word; dit is ’n bestel waarin skryf eerder verstaan moet word binne die sosiale media en die alomteenwoordigheid van teks-in-die-verbygaan, terwyl visuele media al hoe meer goddelik dominant word. Ons lewe in ’n tydperk waarin die teks ’n flitsende verskynsel is. Dit flits en flikker oombliklik op skerms, word vinnig en ligtelik gelees, en verdwyn dan weer, want daar is altyd meer teks, meer visuele stimulasie (sien in dié verband Nicholas Carr se boek, The Shallows). In so ’n opset, het die aksie van “skryf” ’n heeltemaal nuwe, en platter, dimensie verkry.

Almal is mos skrywers. Almal publiseer. En dis reg en goed so. Dit is die nuwe wêreldorde waarin almal op gelyke voet staan, of behoort te staan. Jongmense is ongeduldig, en betoon maar bra min respek vir “ervaring”. Kyk net op Facebook, en die blogosfeer. Kyk net hoe literêre kritiek wegskram van oordeel vel oor ander skrywers se boeke en die waarde al dan nie daarvan, want kritici is mos besig om hulle eie boeke te skryf! Kritici-skrywers is nou aan die orde van die dag, en dit waaroor hulle skryf, te midde van “reality hunger” (sien David Shields se Reality Hunger), is verskynsels van die reële, nie ander skrywers se boeke nie! Hulle skryf, soos Judtih Butler, oor “precarity” en wie of wat in die huidige wêreldbestel “grievable” is, oor “sosiale tekste” of “imaginaries” wat omtrent alles denkbaar behels, gegrond op stof wat dissiplinêre horisonne nie net oorsteek nie, maar heeltemal verpletter (sien in dié verband my onlangse intreerede by die US, “The Confessio of an Academic Ahab”, by my verkrygbaar).

Die vraag wat ek dan spekulatief wil stel, is die volgende: Is die dae van die “groot” of “klassieke” skrywer getel, veral in die Suid-Afrikaanse opset, waar ons alte vatbaar is vir akademies-teoretiese giere en waar daar nie ’n groot onderliggende literêre behoudendheid bestaan soos byvoorbeeld in die VSA nie. Oor twintig of dertig jaar, wanneer skrywers soos JM Coetzee en Nadine Gordimer heel waarskynlik dood sal wees (en so ook hulle Afrikaanse eweknieë), wie sal húlle plekke inneem as Suid-Afrikaanse skrywers van “wêreldstatuur”? Of behoort so ’n vraag self tot ’n vinnig-verdwynende verlede?

Vra jou af: Wie sal Kannemeyer opvolg as die groot, of die monumentale, Suid-Afrikaanse literêre biograaf? Ek self sien niemand op die horison nie. (Die literêre akademie bied nie meer opleiding in sulke ouwêreldse goed nie – of is ek verkeerd?) En wie sal die kandidate wees vir die nuwe “groot biograaf” se groot biografieë – in Afrikaans, Engels en al die ander landstale? Bestaan sulke “groot” skrywers nog? Wie is hulle?

Dit is ’n vraag wat nie net verband hou met die ironiese afplatting (en uitsluiting) wat nou plaasvind binne die verhewiging van lokale letterkunde tot die metavlak van “globalisme” of “wêreldletterkunde” nie (à la Casanova se World Republic of Letters); nie net verband hou met die aftakeling van die figuur van die  skrywer as ikoon of sage binne die 21ste eeu se teks-tsoenami, dissiplinêre warboel en visuele oorverdowing nie; maar ook, in baie belangrike opsigte, verband hou met die digitale revolusie en die aard van kommunikasie en rekordhouding binne die digitale wêreld, die verbyflits-en-verdwyn-wêreld waarin ons nou omtrent almal verkeer.

Kannemeyer het in hierdie biografie – ’n uitstekende stuk werk op enige skaal – grootliks gesteun op ’n korpus handgeskrewe (of getikte, of uitgedrukte) aantekeninge, briewe, holograwe en dies meer. Die term holograaf, wat Kannemeyer opsetlik gebruik pleks van manuskrip, beteken immers ’n dokument wat in sy geheel geskryf is in die handskrif van die persoon wie se handtekening dit dra. Hoeveel skrywers van prosa – veral jong prosaskrywers – werk nog so? (Marlene van Niekerk – een van ons laaste “groot” skrywers? – skryf nog baie met die hand, en slaan eers later oor na die tikbord (tensy ek dit mis het) – nes JM Coetzee, wat sy romans vir jare der jare met die hand geskryf, herskryf en geredigeer het in eksamenboeke van die Universiteit van Kaapstad.)

Die maak van holograwe, en die bestaan van ’n korpus briewe en dokumente, het vir ’n baie lang tyd die skryf van biografieë vergemaklik, selfs moontlik gemaak. Maar hoeveel skrywers doen deesdae die moeite om die verskillende elektroniese weergawes van hulle “work-in-progress” apart te liasseer, te dateer en vir latere biograwe te behou? Hoeveel skrywers glo deesdae dat biografiese werke hoegenaamd oor hulle geskryf sal word? Ek skat dat die meeste hedendaagse skrywers, veral dié uit ’n jongere geslag, hardop sou lag by die noem van so ’n moontlikheid. (Dit is onteenseglik waar dat van die ouere geslag skrywers papier-rekords gehou het met die oog op latere moontlike monumentalisering deur biograwe – dit was deel van die ou kultuur van skrywer wees, maar nie meer nie; of het ek dit mis?)

In die vinnig-groeiende studieveld wat nou algemeen in die VSA bekend staan as die digital humanities – en waarin ek my nou ook desnoods as navorser begewe – is ’n heel nuwe stel prosesse en metodes aan ’t ontwikkel om voordeel te trek uit elektroniese of digitale navorsing, wat rekenaarprosesse inspan en programmeringstegnieke spesifiek gebruik om die skaal, omvang en diepte van die geesteswetenskappe, oftewel die humanoria, op veranderde wyses te belig. Die klem in hierdie veld val op groepwerk eerder as navorsing deur enkelinge, en op groter stelle gegewens as dié wat verband hou met die enkeling of individu as kern-eenheid (hetsy die enkeling-leser of die enkeling-skrywer).

Ek is nog ’n beginner in hierdie veld, en dalk is dit inderdaad moontlik om die doen en late van ’n skrywer wat sy hele lewe lank net e-posse gebruik het, deeglik op te skryf deur middel van tegnieke waardeur elektroniese argiewe gemyn kan word ten spyte van die vreeswekkende verskynsel van elektroniese verganklikheid (ek bedoel elektroniese argiewe soos byvoorbeeld die digitale stof wat deur universiteite en/of internetdiensverskaffers, of ISP’s, tydelik op groot bedieners (servers) geberg word en dan uiteindelik deur die blote druk van ’n knoppie vernietig word). Met die vervangbaarheidsiklus van rekenaars (elke drie of vier jaar), en die weggooi van ou toestelle saam met hulle hardeskywe, wonder ek egter of die behou van rekords vir altyd, soos in argiewe, nie nou ’n bykans onmoontlike vooruitsig is nie. Natuurlik staan dit enigiemand nog vry om sy of haar e-posse en dokumente almal uit te druk en te liasseer, maar wie doen dit nog? Sjoe! Net om met die e-posse tred te hou is moeilik genoeg. Die kultuur van vervangbaarheid, en van elektroniese verganklikheid, is nie net belangrik op ’n materiële vlak nie, dit maak deel uit van die postmoderne mens se lewensuitkyk – vernuwing, vervanging, vergaan en weer so maak, vandag en môre én oormôre. Dit is nie net ’n waarde nie, dit is ook ’n manier van doen, ’n ongeduld met vassteek in enigiets wat nie vinnig aan ’t beweeg is nie. (Kyk net hoe kortstondig is die raklewe van baie huwelike deesdae, dit wil sê as mense hoegenaamd nog die moeite doen om te trou!)

Wat het dit alles te doen met Kannemeyer se biografie van JM Coetzee sal jy dalk nou ongeduldig wil weet.

My antwoord is: alles, want hierdie biografie is dalk die heel laaste in sy soort, spesifiek in Suid-Afrika, waar ons literêre kultuur relatief yl is. Vra jou wéér af: Wie sal die volgende Kannemeyer kan wees (onmoontlike vraag!), en wie sal as dié “nuwe Kannemeyer” se onderwerpe dien?

Dalk is ek toetentaal verkeerd – ek sou bly wees om op hierdie punt reggestel te word, want dit is geensins ’n toestand waarmee ek gelukkig is nie. Op die snel-krimpende gebied van Engelse Suid-Afrikaanse letterkunde bestaan daar lankal geen groot literêre biograaf meer nie (tensy ’n mens die gewraakte naam van Ronald Suresh Roberts en die Gordimer-biografie-affêre hier wil noem), en daarom moes Kannemeyer, ’n Afrikaanse letterkundige, inspring om die leemte te vul. Aitsa! Skaam julle, Engelse Suid-Afrikaanse letterkundiges – julle was te besig om met fancy teorieë tiekiedraai te maak om die voetsoldaatwerk te doen! Ja, julle op die berg ook!

En dit – ouwêreldse behoudendheid – is juis wat Kannemeyer se biografie so indrukwekkend maak. Dit is lywig. Dit is volledig en afgerond. En dit is beskeie. Dit wat in hierdie biografie imponeer, is nie die skrywer se terminologiese tierlantyntjies of sy teoretiese tesserae nie. Inteendeel. Wat hier imponeer, is die meedoënlose opvolg van leidrade, die invul van fyn besonderhede, en die onstuitbare navorsingslus – inderdaad, die byna onsigbaarheid van die biograaf se eie skryfwerk, se eie styl, te midde van ’n meesterlik-geordende massa gegewens.

Na aan die einde van sy 700-plus bladsye merk Kannemeyer op dat Coetzee dit seker ironies gevind het dat sy (Kannemeyer se) versoek om Coetzee se biografie te skryf, wat hy in 2008 aan Coetzee gerig het, gekom het terwyl Coetzee besig was om sy fop-biografie-roman Summertime te skryf. (Vir diegene wat dit nog nie gelees het nie: Summertime is ’n faux-biografie deur ene Vincent oor ’n reeds afgestorwe “JM Coetzee”.) Die punt daarvan? Om te wys dat biografie-skryf – soos alle vorme van skryf – maar bra moeilik die eintlike “waarheid” kan bereik deur middel van die narratief-verdraaiende medium van stories skryf.)

Kannemeyer se implisiete antwoord op dié onverbiddelike waarheid: as kritikus en biograaf doen jy maar wat jy kan. Jy doen jou heel beste, in alle erns, en jy werk jou mielie af, met openhartigheid en groot beskeidenheid, en met yslike deurdagtheid.

Mens wil ook onwillekeurig spekuleer waarom Coetzee ingewillig het dat Kannemeyer – JC Kannemeyer, eerder as een van die horde Coetzee-aanhangers in die globale “Coetzee Studies”-beweging – sy biografie skryf. My onwillekeurige gevolgtrekking is dat Coetzee geweet het dat hý, JC Kannemeyer, die een is wat die werk sal doen wat gedoen móét word; hý is die skrywer met die nodige beskeidenheid, sin vir fyn besonderhede en konteks, leeservaring en algemene kennis van sowel wêreldliteratuur as Suid-Afrikaanse letterkunde uit albei Europese landstale. (Die deursnit Engelse Suid-Afrikaanse letterkundige se kennis van Afrikaanse en Nederlandse letterkunde is maar in die algemeen bra pateties, en Coetzee se oeuvre hou verband met sowel Afrikaanse as Nederlandse letterkunde, waaruit hy werke vertaal het, soos byvoorbeeld Wilma Stockenström en Gerrit Achterberg.)

Hierdie biografie se grootse gawes is dan juis die ouwêreldse gawes wat eie is aan ’n spesifiek literêre biografie. Hierdie is nie ’n boek vir die leek nie. Dit spreek die literêre leser in die ou sin van die woord aan, die opgevoede leser wat reeds begaan is oor Coetzee se werk en wat nou, eerder as nóg ’n slimjan-artikel oor hierdie of daardie intertekstuele gegewe in hierdie of daardie Coetzee-roman, eintlik die egte storie wil hê, die groter storie, the whole deal: hoe Coetzee in die lewe gekom het; hoe sy kinderjare daar uitgesien het; wat hom laat begin skryf het; hoe sy studies gevorder het, waar en wanneer; wie sy invloede was; wat agter die skerms gebeur het met die skryf en publikasie van elke boek; hoe die resensente dit ontvang het; hoe hy sy lewe as skrywer moes invou in sy lewe as minnaar, pa, dosent, en uiteindelik, onwillige globale literêre glansfiguur; en, bowenal, waaroor dit alles gaan – tematies, histories, biografies en letterkundig-tegnies.

Die eindresultaat is ’n boek wat nie net as biografie dien nie, maar ook ’n beduidende bydrae lewer tot Coetzee-kritiek. Ek verstout my om te sê dat Kannemeyer die bataljonne Coetzee-spesialiste daar buite hier ’n klassieke les leer: Keep it simple. In profoundly achieved simplicity lies the greatest complexity. Kannemeyer isoleer deurgaans die groot temas wat Coetzee by herhaling in sy romans opnuut ondersoek: die meester-slaaf-verhouding; filiale bande tussen moeders/vaders en kinders; outobiografie en fiksie; fiksie as ’n “diskoers” wat onafhanklik staan van politieke/historiese diskoerse, en wat nooit onderdanig of onderhewig aan sulke diskoerse kan of moet wees nie; die aard van mag; die verhouding tussen “provinsiale” bestaan en die metropool; en nog meer.

Op die vlak van tegniek lewer Kannemeyer telkens met groot vernuf, en sonder groot omhaal, kommentaar op Coetzee se vertelstrategieë, en hoe dié met die verloop van tyd aangepas en vernuwe is, met deeglike verwysing na Coetzee se bronne, sy invloede en die intertekste in elkeen van sy romans. Kannemeyer verskaf dus ’n geheelbeeld van Coetzee se werk wat tans op geen ander plek gevind sal word nie.

JM Coetzee: ’n Geskryfde Lewe is dus baie meer as bloot ’n biografie. Dit is een van die grootste studies van Coetzee wat nog verskyn het. As verwysingswerk oor Coetzee het dit nou geen gelyke nie.

Wat veral ook imponeer, is die wyse waarop, en die deeglikheid waarmee, Kannemeyer die historiese, sosiale en letterkundig-politiese konteks van elke fase van Coetzee se loopbaan beskryf, op so ’n manier dat mens insig verkry in die ganse politiek van skrywer-wees oor die afgelope 40 jaar, nie net vir Coetzee nie, maar vir alle Suid-Afrikaanse skrywers. Mens kry ook insig in die pynlik stadige oorgang van ’n eng en boikot-geteisterde Suid-Afrikaanse versetkultuur na ’n demokratiese bestel waarin Suid-Afrikaanse letterkunde transnasionaal word. Ook uiters boeiend en interessant is byvoorbeeld Coetzee se betrokkenheid in die stryd teen sensuur en sy probleem met die domastrantheid van joernaliste wat hom telkens voorstel as koud, afsydig en teenstrydig.

Die Coetzee wat hier te voorskyn kom, is, inteendeel, ’n stil, terughoudende, presies-puntenerige man wat tog groot welwillendheid betoon teenoor sy studente en kollegas, en teenoor ander skrywers – maar net as hulle ewe hard probeer en ewe hard werk as Coetzee self – en ’n man wat teenoor diegene in sy vriendekring as openhartig en selfs humoristies voorkom. Hierdie biografie laat dus die populêre mite van Coetzee as ’n koue, ongenaakbare mens die stof byt. Mens wil selfs konstateer dat as Kannemeyer se werk een moontlike fout het, dan is dit dat sy vooroordeel ten gunste van Coetzee as eintlik ’n baie gawe mens te onkrities is, en dat sy bereidwilligheid om geloofwaardigheid te verleen aan ’n baie positiewe beeld van Coetzee as mens effens getemper behoort te gewees het. Maar hy staaf altyd sy kommentaar met aanhalings deur vriende, familie en oudstudente, en ek self wil onwillekeurig eerder Kannemeyer se weergawe van Coetzee glo as byvoorbeeld die meer nydige voorstellings van Coetzee wat byvoorbeeld deur skrywers soos Rian Malan en Imraan Coovadia geskets word (alhoewel Coovadia se essay oor Coetzee, in sy onlangse bundel essays, Transformations, boeiend en leesbaar is, en so ook Malan se essay in sy boek Resident Alien).

                                                         

Om dan af te sluit: hierdie is inderdaad ’n groot letterkundige boek, ’n tome, ’n monumentale werk oor ’n monumentale skrywer deur ’n monumentale biograaf. Ons sal nie gou weer so ’n boek, so ’n biograaf, en so ’n skrywer-as-onderwerp sien nie. Hierdie boek staan dan inderdaad as tekenend: die (amper-) einde van ’n groot era in die Suid-Afrikaanse letterkunde en die letterkundige kritiek hier te lande.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
Marko van der Colff
2012-12-30 @00:15

Inderdaad Leon ...

Ek is nou sowat half-pad met onse 'JC' se monumentale werk en verkneukel my in sy bloedhond-vasbyt stamina en Sherlock-insigte ...  So het ons hom geken.  Prima Donna, maar ook 'Diva'!

Maar, ja – dalk a'la Karel Schoeman, is dit die 'Laaste Afrikaanse Boek'...?

Ek sien dat Michiel Heyns se vertaling ook baie hoog aangeslaan word.

Saliger John, jy het baie van ons ’n (byna) onnadoenbare guns bewys.

Hopelik gaan jy daar vanuit jou leerstoel (en darem nie ’n 'club-easy' nie?) op U.S. (geluk!) jou insigte en ywer laat geld vir en tot 'lering en stigting' van 'deeglike' studente en skrywers?
Ek glo jy sal en kan...
Groetnis
Marko
N.S: Weereens dankie vir die aanstuur van jou baie insiggewende intreerede.

   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address