Geter en normaal – briewe op die vakansiedag
Wat is normaal?
Om in die openbaar te leef, lyk my, word deesdae as normaal geag.
Ek wonder darem of mens so ’n veralgemening kan maak. Jy móét deel wees van Facebook? Daar mag klere hoog bo Stellenbosch aan ’n draad wapper, maar my gevoel is steeds dat mens nie al jou vuil wasgoed in die openbaar was nie.
Wat dink julle?
Van buite die norm gepraat: amptelike aankondiging – ons werk môre en nie oormôre nie.
Ek laai dus môre julle briewe – en ons kantoor neem Vrydag ’n blaaskans.
Groete, geniet die langnaweek,
Naomi M
Naskrif. Anderdag ontvang iemand hier by die kantoor ’n skrywe waarin die volgende woord voorkom: "geter". Ons trek die Pharos nader, ons bel die proefleser, ons almal gebruik die woord in sinne (ons kon!). Uiteindelik nader ons die persoon wat die artikel geskryf het. Die antwoord kom terug: dit was ’n spelfout. Die woord moes "egter" gewees het.
As julle sien julle briewe is môre geplaas maar nie oormôre nie, is dit geter doelbewus.