Die pad na Skuilhoek – ’n soektog na liefde
Titel: Die pad na Skuilhoek
Skrywer: Hans du Plessis
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799351613
Prys: R168.95
Klik hier om Die pad na Skuilhoek te koop by Kalahari.com.
Daar is ’n boeiende verbinding van geskiedenis en fiksie in Hans du Plessis se onlangs verskene roman Die pad na Skuilhoek. Dit handel oor ’n episode tydens die Groot Trek, toe ’n groep Trekkers deur die Matebele’s oorval en byna totaal uitgewis is, en die daaropvolgende lotgevalle van enkele oorlewendes. Dit is duidelik dat die skrywer hierdie geskiedenis goed ken, en hy slaag dan ook daarin om die vergange tyd volkome oortuigend op te roep. Selfs klein besonderhede is histories korrek, alhoewel die name soms verander is, soos die skrywer in sy outeursnota verduidelik: “Die roman se vertrekpunt is histories korrek. Selfs die metode van plaastoewysing tussen 1839 en 1842 is feitelik reg. Skuilhoek bestaan, maar die plaas se naam is Koedoesfontein. Die ruïne van die kliphuis bestaan steeds.”
Binne hierdie historiese konteks skep die skrywer die fiktiewe verhaal van die liefde van twee jong trekkers, Lourens Botha en Petronel van Rensburg. Hierdie twee jongmense leer geleidelik wat dit beteken om lief te hê – wat dit beteken om ’n ander met jou lewe te vertrou (68) en om vir ’n ander te sorg en om te gee (72). Dis ’n liefde wat sterk genoeg is om talle struikelblokke te oorkom, struikelblokke wat veral opgerig word deur Sofia, die jaloerse halfsuster van Petronel, en haar man Carel Kruger. Die spanning in die verhaal word geskep deur die stryd van die geliefdes om hul liefde onder moeilike omstandighede te behou. Die einddoel van hul reis is om Skuilhoek te bekom, hul eie plaas waar hulle veilig kan wees teen die bedreiging van hul liefde. Spanning word verder gewek deur die herhaalde suggestie dat daar ’n geheime rede vir Sofia se haat teenoor Petronel is, maar hierdie rede word doelbewus van die leser weerhou tot heel aan die einde, wanneer die raaisel van Sofia se weersin teen haar halfsuster opgeklaar word.
Die kontras tussen trek en vestig kom telkens na vore. Iemand soos die Voortrekkerleier Hendrik Potgieter is van nature ’n swerwer; Petronel, daarenteen, verlang na die einde van die trekkery, want sy soek ’n permanente tuiste. Vir haar lyk trek al hoe minder na ’n uitkoms; sy verlang na ’n vaste woonplek: “hulle eie paradys waar niemand [...] nog ooit was nie [...] Hulle sal ’n boom plant, iets wat sal wys dat dit hulle permanente woonplek is” (125). Petronel se verlange is wesentlik ’n paradysverlange, ’n verlange na ’n harmoniese bestaan sonder enige bedreiging van haar geluk. In die toneel waarin Petronel en Lourens hulself seksueel aan mekaar gee, is daar ’n suggestie dat hulle deur die liefde iets van daardie paradys ontdek (212-3). Tog is daar in dergelike tonele ook aanduidings dat die paradys ’n steeds ontwykende konsep is, dat die mens in wese steeds ’n swerwer bly. In die toneel van hul liefde klink dan ook plotseling die gil van ’n hadida (213), en wanneer hulle uiteindelik op Skuilhoek aankom, word hul lewe deur ’n leeu bedreig. Vandaar die woorde “die pad na” in die titel van die roman – ’n finale skuiling word op aarde nie gevind nie.
Die trekkers word in die roman as mense uitgebeeld, nie as geïdealiseerde ikone nie. Soos Jeanette Ferreira dit op die agterplat stel: “Die Trekkers was nie net edele helde nie, maar bloedwarm mense met foute en flaters.” Daar is in die roman skerp kritiek op die gulsigheid van jagters wat die wild op groot skaal uitwis. Hieraan is nie alleen sommige trekkers skuldig nie, maar ook Engelse jagters soos Cumming (215 ev). Die wyse meester Roos lewer op hierdie skande die volgende kommentaar: “Hoe dan anders as jy vir byna tweehonderd jaar die milddadigheid van ’n kontinent mag invaar en vat wat voorkom asof dit alles joune is wat die liewe Vader voor jou kom neersit het?” (51).
Onder die trekkers is daar goeies en slegtes. Die pad na Skuilhoek handel wesenlik oor die stryd tussen goed en kwaad. Die kwade word in die roman veral deur Sofia Kruger beliggaam, en in ’n mate deur haar man Carel. Deur die uitbeelding van hierdie twee karakters stel die roman implisiet die vraag na die aard en die oorsaak van boosheid. Sofia se lewe word gedryf deur woede, haat en leuens; die vraag is: Waarom is sy so? Die kern van die antwoord is geleë in die feit dat “Sofia eintlik maar net haar eie geskiedenis vervloek” (172). Sy bly vasgevang in haar bitterheid oor die omstandighede wat haar in ’n huwelik met Carel ingedwing het. Sy leef in ’n kringloop van haat, waarin sy self doodongelukkig is en bevrediging daarin vind om ander se geluk te bederf. Die twee hoofkarakters, Lourens en Petronel, vorm ’n skerp teenstelling met haar. Ook hulle het ’n ongelukkige verlede: hulle is weeskinders, alleen op die wêreld; maar, in teenstelling met Sofia en Carel slaag hulle daarin om deur die liefde na ’n nuwe toekoms te beweeg.
Hierby sluit die temas van vryheid en bevryding aan. Die groot vriend van Lourens, die seun van ’n vrygestelde slavin, het die naam Vryheid, wat ’n teken is van die belangrikheid van die vryheidstema. Wat is vryheid? Vryheid beteken onder andere om jou eie plek te besit waar jy jou kan uitleef. Ironies mag die man met die naam Vryheid nié sy eie grond besit nie, omdat hy nie wit is nie; sy ma is ’n vrygestelde slaaf, maar haar kind is ’n “vrygestelde” sonder vryheid. Daarom is hy vasberade om sonder ophou te veg vir die vryheid van grondbesit (235). Op ’n dieper vlak beteken vryheid om menswaardig te wees – soos Vryheid dit stel: “Jy is vry as jy soos ’n mens kan voel” (53). Vryheid beteken dat ander vir jou lewensruimte gun.
Keerpunte in die roman word bewerkstellig wanneer lede van die jonger geslag hulleself bevry van die juk van ’n onregverdige ouer geslag. Hiervan vind ons verskeie voorbeelde. Diederik, Carel Kruger se seun, word gebelg deur sy vader se wreedheid teenoor Vryheid; dit beweeg hom tot opstand teen die vader. Hy konfronteer en erken die kwaad wat die Krugers oor die jare heen aan Lourens en Petronel gedoen het, en help om reg te maak wat verkeerd is. Sodoende kom versoening tot stand; die kloof van haat wat deur Carel en Sofia tot stand gebring is, word oorbrug. Die deerniswekkende karakter Bybeltjie Steyn word verwyfd grootgemaak deur Stienie, sy dominerende ma, maar uiteindelik kan hy “wegbreek uit die doringkraal wat tant Stienie met goeie bedoelings om hom geslaan het” (205). Nog ’n voorbeeld van bevryding vind ons wanneer Lourens na die hoofkommandant, Hendrik Potgieter, gaan om verlof te kry om Skuilhoek te besit, en homself daardeur bevry van die houvas wat Carel as veldkornet op sy lewe gekry het.
Die pad na Skuilhoek is ’n boeiende, goed-geskrewe roman – ’n jeugverhaal, maar ook meer as ’n jeugverhaal. Wat een aspek van die roman betref, het daar egter ’n vraag by my opgekom. Die algemene perspektief is dié van die blanke trekker, en hierby ingesluit, dié van die “bruin man” Vryheid. Die Matebele’s, daarenteen, is grootliks die negatiewe “ander”, die gevaarlike moordenaars wat die lewe van die blankes bedreig (alhoewel hulle soms geprys word om hul dapperheid (86, 168)). Dit sou interessant gewees het om ’n Matabele-perspektief op die gebeure in te sluit: ’n perspektief wat byvoorbeeld die uitwissing van die blankes nie as moord beskou nie, maar as verdediging teen die indringers wat húlle welsyn bedreig. Dan sou die tema van versoening omvattender kon wees; dit sou ’n boeiende roman nóg boeiender kon maak.