7 Dae: Meyer ken die kuns van woordverleiding

  • 1


Titel: 7 Dae
Skrywer: Deon Meyer
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798156219
Prys: R162.95

Klik hier om 7 Dae te koop by Kalahari.com.

Wat is dit met Bennie Griessel? Gaan hy ewig die martelgat bly, al is hy nou ’n Valk? Hy is 45, om hemelsnaam, en hy weet nie wat “faux pas” beteken nie? Hy skud blad met Schalk Joubert en skrik vir die vloekwoord toe hy sê: “Aangename kennis, dis ’n moerse voorreg.” Hy sukkel ná 272 dae teen die begeerte vir drank. Hy wil ophou vloek.

Jou verslaafde krimmieleser is gewoond aan baasspeurders wat moorde kan oplos, maar self teen die lewe verloor. Bennie Griessel is ’n baasverloorder. In die sewe dae wat hy betrokke is by die moord op Hanneke Sloet, wroeg hy eindeloos oor sy agtienjarige seun wat ’n tatoe wil hê; wroeg hy oor sy lieflingdogter met ’n kêrel mét ’n tatoe; wroeg hy oor Alexa se dranklus; wroeg hy oor sy eie agtergeblewenheid as dit by rekenaars kom. Wróég hy. As sy partner, Mbali Keneli, van díé wroeginge sou geweet het, sou haar onverdunde raad wees: “Get a life, Bennie.”

En so voel die leser ook met die 419 bladsye van 7 Dae.

Feit bly egter, Deon Meyer ken die kuns van woordverleiding. Hy het die taal. Hy het die energie (en kop) om wyd na te vors en ontsien die leser nie sy navorsing. En hy weet Bennie Griessel is wat Harry Bosch vir Michael Connelly is: basiese loser met meer speurvernuf as sosiale vernuf.

Tog, wadde hel, Bennie Griessel is só gemaak, só gelaat staan. Meyer het ’n dierbare Frankenstein geskep. Wil die lesers regtig hê Bennie moet skielik Jung begin lees, of weet wat BEE is, of, wraggies, ’n 3G, laat staan nog ’n tweet?

Of Bennie ooit vir Alexa in die bed gaan kry, of selfs ’n beter woonstel, klere of haarsnit kán kry, maak ook nie juis saak nie, want dit word eintlik die ander karakters in die boek wat begin boei. ’n Neweteks word ook geskep: ’n wêreld van nierassigheid wat moontlik nêrens in die regte Suid-Afrika plaasvind nie, maar Meyer laat dit tog so moontlik lyk. Die ironieë is ook heerlik: Vaugn Cupido spot met wit mense se name; Bones, top handelskundige in die SAPD, moet nogtans nog lobola betaal.

Daarby ’n skeut sosiofilosofie, netjies uiteengesit: Alexa (dus self ’n) wat bespiegel oor die verskynsel van onder meer Afrikaanse sangeresse (202) se beheptheid met bekend wees, spesiaal wees. Onder andere dink Alexa: “[H]ulle het almal die narsistiese streep ... die afguns, die groot hare, die ure voor die spieël, die promosiefoto’s ... stywe klere en die cleavage, alles wat skree, kyk na my ... sien my asseblief tog net raak.” Sy vra, en laat die leser saam wonder: “Het dit iets te doene met die Afrikaner en waar hy nou is, in hierdie Suid-Afrika? Afrikanermans wat hul mag verloor het, hul dramatiese beeld. Daar is nou so ’n onverskilligheid oor hul lot, daar is net ’n deernis vir die nuwe nasie, die groter eenheid. Is dit vroue se manier om ’n balans te probeer bring?” Sjoe, díép vrae.     

Meyer is darem ook nie bowe slapstick nie. Dik en Dun se haha-tweespraak met die studentikose woordspeling; ook Samantha en Aldi se gesprek (240) is pure sideshow. En sekerlik is sersant Sollie Barends se telefoongesprek met Antie Jackie (378) ’n stukkie selfingenome pret wat die skrywer stellig onweerstaanbaar vind.

Desondanks is dit die herkenbare, die fynvat van hoe dit met die wêreld daar buite gaan, wat die leser laat aanhou omblaai. Daar’s name-dropping galore, en selfs die Russiese mafia word ingesleep, moontlik net vir ’n bietjie kwaai seks.

’n Ingeligte, diepgaande les oor knaldempers dra die merk van Meyer se navorsing. Hy gooi die net wyd: SEB-knoeiery, kommuniste, geldwassery, forensiese ondersoek na ’n skoongewaste bloedspoor, musiek, kuns.

Dis met ’n gesprek met prof Phil Pagel dat jy, die leser, dink: aikona, Deon, nou word dit te, wel, fokken dik vir ’n daalder. Pagel gebruik die woorde “faux pas”. Bennie verstaan nie. “’n Voupa?,” vra hy (228, ek lieg nie). Pagel verduidelik dis Frans vir “krater maak”. Bennie hou so van die woord hy begin dit vervang vir “fok.” Wanneer hy dus gekonfronteer word met ’n fok-situasie sê hy: “Faux pas.” Genuine. Come on, Deon Meyer.

Maar elke krimmieleser se hart se punt is wéér daar: Mbali Keleni, die slimkop Zoeloe-poffertjie met haar onmoontlik groot swart handsak. In hierdie boek moet jy ’n dik stuk ver gelees kry vir daardie moment wanneer haar swak vir tjips sonder die vis en Coke haar gaan beetpak. Uiteindelik word sy weer daartoe gedryf, tot ons allerverligting, want ’n kouende Mbali is wat ons soek. Sy is karaktergetrou en verdien ’n lang fiktiewe lewe.
Vaugn Cupido, bekkig en plesierig rassisties, kry sy ererol in die vertelling, maar dis arme Fanie “Gefok” Fick wat nie sy belangrike plek volstaan nie. Behalwe sy laaste alleenspraak in die kroeg is Fanie maar net ’n hangoog “Ja, maak so” hulpvaardige soort van ou wat gedemoveer is omdat hy sogenaamd nie die Estelle Steyn-moord opgelos het nie.

Estelle Steyn? 

Die arme leser is eintlik besig met die Hanneke Sloet-saak en toe begin die poppe dans, want nou’s daar twéé moorde wat tegelyk opgelos word.

Arme Fanie “Gefok” Fick betaal die prys vir die Steyn-moord. (Hier is ’n klankie van die Inge Lotz-saak, nl die polisiehantering daarvan.) Nil desperandum, ons kom nog by Sloet se moordenaar.

Maar eers kon die leser al die afdraaie (daar’s baie), die leidrade (daar’s baie), die laat nagte ( daar’s baie) en die hegte ondersoekspan volg. Meyer ken ook sy Kaap. Die leser kan ’n roetekaart opstel en selfs ’n Vriendestraat opspoor.

Het ek lekker gelees? Sjoe, sonder ophou. En sommer die onverbloemde reklame vir die goeie werk van die SAPD én ook die Valke gesluk.

Maar ek weet nog nie wat van die Russe geword het nie. Volgende boek?

 

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top