67 woorde vir Mandela-dag 2017: inskrywings 2

  • 0

Hier verskyn die inskrywings wat vir die Mandela-dag skryfkompetisie ontvang is.

Klik hier vir die kompetisie-inligting.

Hier is nog inskrywings: 67 woorde vir Mandela-dag 2017: inskrywings 1

Die kompetisie het reeds gesluit.

Inhoud

Louis J Nell Naomi Corinaldi
Helena Mellet Alta Pretorius
Jean Lombard Barbara Geldenhuys
Don Beukes Franselize Rossouw 
Mimie de Vries Sunita Keyser
Thilde Nel Charles Mathewson
Johan Nieuwoudt Alida Walker
Deidre Kruger Ilza Roggeband
Brazelle Hanekom Elizabeth Hentschel
Gerhard Lampen Elna Jordaan
Bevan Boggenpoel Annalize van den Heever
Jo-Ann Klazen Delizé Donaldson
Louise Groenewald VDS Brink
Coen Basson Molly Bester
Sarlene Horn Leroy Abrahams
Tina Cloete Elizabeth van Heerden
Roux Botha Alita Steenkamp
Selwyn Milborrow Julanda van der Merwe
Edna Taljaard Aretha du Rand
Jan Beyers Jack Snyman
Annora Eksteen Cherene Pienaar
Paula Hartzenberg Paul Greyling
Roxanne Roelofse Lanel Wenhold Kotzé
Jeanette Snyman Karlien Swanepoel
Mart de Jager Annelene Hartnick
Nickfred Sysaar Shirene Julies
Yvonne Botha Merle Danhouse
Lettie Parker Marion Low
Ockert Greeff Trudie Coetzee
Thomas van Niekerk Stephanie Viljoen
Roela Hattingh Elmé Ravenscroft

 

Louis J Nell

Mandeladag 2013

Per ongeluk ry ek tussen die betogers in. Verder ry, kan ek nie. Vlieg uit die kar en baan my weg.

"Haai, Mama, werk jou kind?"

"Nee, lankal nie."

Sy lag en klap my op die skouer. "Toi-toi ôk."

Ek sien ander vyftigers plus. Ons kinders werk nie. Ululeer kan ek nie. Iemand druk ’n vuvuzela in my wit hand.

Mandela-dag dans ek in die strate.


 

Naomi Corinaldi

Skoppelmaai

Skoppelmaai, skoppelmaai, ek ry op die skoppelmaai ...

Jy swaai my hoog. Ek glimlag; dit is tog opwindend. Jy grynslag.

Heen en weer swaai ek hoog op. Jy het belowe jy sal my beskerm. Tog voel ek steeds bang. My mond is droog. Ek roep dat jy die swaai moet stop. Jy draai jou rug op my. Ek hoor myself gil.

Jy het my weer nie gevang nie.


 

Helena Mellet

Vertroue

Anna sien hom buk, sy bruin gesig teen haar venster. ’n Versigtige klop teen die ruit. Sy wil vir hom wys sy het niks om te gee nie, maar hy spring haar voor. “Jammer om te pla, Mevrou. Ek moet geld trek, maar my ou oë wil nie saamwerk nie. Ek weet nie wie anders om te vra nie. Deesdae kan mens mos niemand meer vertrou nie.”


 

Alta Pretorius

Mandela se droom aan skerwe?

Suid-Afrika het in 1994 ’n nuwe vlag gekry as simbool van ’n verenigde reënboognasie. Die ses kleure het die verlede en hede laat saamvloei: die ANC se geel, groen en swart kleure sy aan sy met die rooi, wit en blou van Engeland en Nederland. Versoening?

Was dit met voorgevoel dat ek die strepe van die vlag onderstebo geskilder het? En die swart wolke voor die son?


 

Jean Lombard

Vir altyd

Rolihlahla, jou naam was moeilik en die juffrou doop jou toe sommer Nelson. Hoe sou sy ooit kon dink dat dié kaalvoet veewagtertjiekind wat sy kon onderrig eendag sou uitstyg as Nobelpryswenner en wêreldikoon. Min het jy ook seker ooit kon droom dat jou harde eilandklipkaplyding die hart van die wêreld sou verkrummel, wakker maak en verlos van onderdrukking. Jou visioenêre leierskap, groot hart en nagedagtenis is ingemessel en verewig.


 

Barbara Geldenhuys

’n Droomwens

Gaan verder as wat ek kan vlieg. Hoër as my hoogste. Delf dieper. Wees sterker. Dis my droom. ’n Groot wens. Begeertes om te inspireer met woorde, pen en papier. Ek por jou aan. Gee vlerke aan jou droom en wiele aan jou wens. Hou vas. Glo in jouself. Jy kan. Jy mag. Droom, baljaar in jou wens. Jy is kosbaar, ’n spesiale mens met ’n wens.


 

Don Beukes

Diary of a coloured boy

The day finally arrived for my first train journey to Cape Town. I never questioned why we had to sit in third class, whilst I waved to a smiling white girl passing our window to first class, as her mother pulled her away.

I remember the old lady in Struisbaai shrieking "Polisie!" as we bravely walked on the white beach.

I always wondered why my colour mattered ...


 

Franselize Rossouw

Die man

Inspirasie is soos alliterasie. Dit begin altyd dieselfde. Elke dan en wan is daar iemand wat die reël breek. Wat ons van ons pad af in ’n beter rigting forseer. Ons kry hieruit ’n man, ’n inspirasie wat ons lei tot prestasie. Die een uitsondering vir ons generasie. Die bou van Suid-Afrika. Groen van die woud. Blou van die lug. Inspirasie en trots. Hy is Nelson Mandela.


 

Mimie de Vries

Jennifer

Hy hang hygend aan die tehuis-hysbakdeur: “Weet jy, Jennifer kom vandag.”

“O,” sê ek en koes trap op, Ouma kort hoesstroop en Oupa se doeke is op.

Later, in die hysbak: “Jennifer ... so mooi ... ’n engel ...”

Matrone Connie brom onderlangs: “Jennifer, oom Japie se dogter, het jare gelede verongeluk.”

Sondagaand bel Ouma: “Ou hysbak-Japie is vanoggend oorlede.”

“Ja,” sê ek, “Jennifer het hom kom haal.”


 

Sunita Keyser

Onthou

Hy het dit gehoor. By iemand van die vorige geslag.

“Elkeen van ons moet vir hom ’n gedenksteen bou.”

Vir 67 dae het hy elke dag veld toe gegaan en in die klofies gesoek vir die pasmaat-klip.

Op Mandela-dag het hy haar gaan wys. Sy ma.

Hy het ’n klipstapel gepak. ’n Klein monument.

“Sodat ook óns sal onthou”.

Sy het hom styf teenaan haar vasgedruk.


 

Thilde Nel

Te koop

Alles rondom my verstadig soos dik vla; ek sukkel om te fokus. Die lug word verstikkend swaar, honde se geblaf bereik nie meer my ore nie. ’n Alarm af in die straat word skielik ’n rooi skrilheid in my binneste. My vinger bly rus stokstyf, versteen op die muis.

Die Gumtree-advertensie bly hang in siek veelkleurigheid op die wit agtergrond. "Te koop: babawiegie, -kleertjies, stootwaentjie – ongebruik".


 

Charles Mathewson

Payday

Hy staan voor die supermark. Hy grou in sy broeksak en haal ’n papiertjie uit. Dis die uitdeelpamflet wat hy Sondag by die kerk gekry het. Laat ons God dankbaar dien, lees hy en draai dit om. Sy inkopielys is agterop geskryf.

Brood. Mieliemeel. Suiker. Koffie. Twak. Vuurhoutjies. Kerse. Seep. Waspoeier.

Hy stap in. Ai, hy hoop so daar is geld oor vir ’n paar stukkies hoender.


 

Johan Nieuwoudt

Mandela-dag

“Roelf, ons gesin huldig Mandela-dag: deur hom oorleef ons in hierdie mooi land”. So praat ek met my kind. Dan vra ek hom: “Roelfie, doen my tog ’n guns en laat Moeki pie-pie.”

Roelf neem die ou herdershond na die agterplaas. ’n Skoot klap: my kind is dood.

’n Jaar later nooi ’n vriend my uit: “Kom gedenk Mandela-dag saam met ons.”

“Miskien volgende jaar …”


 

Alida Walker

Hulde aan ’n staatsman

Gebore in die Oos-Kaap – ’n leeu vir ons land: onbemind, onbekend en aanvanklik gevrees. Gou het ons egter besef hierdie leeu is groot en sy hart nog groter. Vergewensgesindheid, liefde en verdraagsaamheid het wyd gestrek om ons land te begrens en wyer uit te kring tot na die buiteland.

Ons bring hulde aan die leeu, koning en heerser. Jou naam word onthou en jou ideale gekoester.


 

Deidre Kruger

Die perske

Soet stroop die sappigheid teen my mond. Soeter as wat ek gedink het. Dit skeel my min.

My happe is te groot. Ek weet. Die kind staar na my. Dit weet ek ook. Ek’s honger.

“Loop!” brom ek.

Langs my koggel nog drie blosendes vol belofte.

Rooi.

Groen.

Beweging.

My vrug val verbasend pienk in sy hol hande. In die truspieël begroet sy glimlag my. Groot. Gelukkig.


 

Ilza Roggeband

Madiba-kinders

Daar’s ’n tweeling saam met hom in die orkes, vertel my seun. “Ek kan hulle nog nie uitmekaar ken nie,” sê hy. “Een speel saksofoon soos ek, die ander baskitaar. Hulle laat my lag.” Weke later ry ons in die dorp. My kind waai, twee seuns waai terug. Die tweeling met ’n vel anders as my kind s’n. Die tweeling wat my kind nie geklassifiseer het nie.


 

Brazelle Hanekom

Slot

Dit was te laat. As hulle mekaar in die toekoms weer sou raakloop, sou hy afgetrokke wees. Met daardie kenmerkende onverskilligheid.

Dit sou nie saak maak nie. Sy sou nie soos vantevore daarop reageer nie.

Met die servet vee sy die vetterigheid van die skaapstertjie van haar lippe af. Sy kon nie die galsterigheid met die steranys temper nie.

Sy het besef dit was die laaste keer.


 

Elizabeth Hentschel

Elegie vir Madiba

’n Seemeeu sirkel oor die eiland van die melaatses. Die jong man kap en kap. Bevry klip uit rots.

Asimbonanga. ’n Kind huil in Nyanga.

’n Duif vlieg dwarsoor die land onder die Suiderkruis. Die ou man lag en dans. Bevry bevrore harte uit ys.

’n Kind lag in Nyanga.

’n Bloukraanvoël bewaak die graf by Qunu. Rus sag, liewe Madiba.

Asimbonanga. ’n Kind huil in Nyanga.


 

Gerhard Lampen

Bevry.

1987. My eersteling onskuldig gebore in wêreld deursypel met rassisme, sponse in skottelgoedwater. Besoedel deur familie, vriende, kerk, regering. Verander velkleur kleur van bloed, hart, breinselle, drome? Flip ’n coin, nou’s ek bruin. Dieselfde ek. Ons leer om te haat, kan daarom liefhê aanleer, sê Madiba. Vandag en elke dag, verban elke rassistiese gedagte en leef openlik sonder vooroordeel. Sponse in sy voorbeeld gewas, bevry ook ander.


 

Elna Jordaan

Net omdat

“Nonnôki.” Ek hoor die moeilikheid in sy stem voor ek die jammer in sy oë lees.

“Jou pa weet,” sê hy.

Ons was toe negentien. Ek was ’n student. Hy nie.

“Nonnôki,” groet hy nou. Ek hoor die jammer in sy stem. In sy oë sien ek dat toe se hartseer vandag herbevestig word.

Ons is sestig. Hy is getroud. Ek nie.

Ek is wit. Hy nie.


 

Bevan Boggenpoel

Die bank vir blank

Die bank in die park was die mooiste stukkie meubel om te aanskou, maar altyd gewonder waarom Mamma nooit daar wou stilhou.

Dit het so eensaam daar teen die groen agtergrond van die natuur gestaan, maar Mamma het my vermaan om daarheen te gaan.

Ek besef nou terwyl ek hier sit: Die bank was destyds net bedoel vir wit.

Ek sit toe sommer vir 67 minute langer.


 

Annalize van den Heever

Bestemmings

Die ou man kyk na die kinders wat hulle vir 67 minute besoek.

Liefdadigheid ... vir hom wat tot op 74 jaar gewerk het! Sý geld was die behoud van sy dogter en haar swakkeling van ’n man.

Húlle het hom gevra om in te trek. Hy het gegaan ... hy wou help. Op 83, swak en leeggemelk, is hy weggejaag.

Nou wag hy by hierdie vreemde plek vir sy finale trek.


 

Jo-Ann Klazen

Selfgenesing

Die bosslapers rys moeisaam op uit die minimale hitte wat skenkingskomberse op ’n koue sementvloer kan optower. Ek vul roomysbakke en saamgeflanste blikhouers met stomende boontjiesop. Die dankies raak verlore in die geloei van die wind. Die sop was gelukkig genoeg vanaand. Ek vee ingedagte oor die litteken oor my regter pols.

Die psigiater het gesê ’n goeie begin vir selfgenesing is om ander se leed te verlig.


 

Delizé Donaldson

Roomys met liefde

’n Dorre voortuin, goudgeel gras, huilende koerante en krakerige stemme op die draadloos.

Twee sjokoladeroomysgesiggies ...

Kinders moet gelukkig wees en mooi maniere hê, ons moet hulle die land se bloedbevlekte, vuil wasgoed en hartseer spaar. Ons moet hulle leer om water te spaar in die droogte.

Ons moet saam roomys eet.

Eet sjokoladeroomys saam met ’n kind; in teendeel, eet roomys saam met 67 kinders.


 

Louise Groenewald

Laaste rit na die veearts

Reën wat skitter op die donker pad. Swaar vragmotor wat struikel met blêrende mishoring. Bande wat skreeu, spattende glas. Spierwit lig, doodse stilte omvou my. Jou lyfie voel weer vet en gesond. Jou gemmerjassie blink in die son. Pantoffelvoetjies met die pienkste sooltjies . Jy voel swaar in my arms. Ek sit my oor teen jou om die gedreun van jou liefde vir my te hoor.


 

VDS Brink

’n Tweede kans

Koos het die prokureur gesien, alles is gedoen en die beleggingstate is afgehandel.

Hy dink aan Annemarie, reeds tien maande van hom weggeneem, voel die koue metaal en weet presies hoe om nou die volgende tree te gee.

Net toe sing sy naamgenoot op die radio: “Skenk ons ’n helder Somerkersfees in hierdie land, o Heer ...”

Hy bêre die voorwerp terug in die kluis; hy lag weer ...


 

Coen Basson

Renaissance

Seuntjies. Snags apart, in die groot plaashuis en die klein kleihuis. Speel kinderlik saam in die son, klim boom, stel wippe, swem kaal. Ons huil op die stasie, die trein kom my haal. Ons leef die rowwe roete, vóór Mandela. Dekades kom, dekades gaan, prentjies bly staan. My soektog eindig by sy rooi bodeur. Twee ou mense omhels mekaar, swem kaal oor die onderdeur. Twee laggende seuntjies huil.


 

Molly Bester

Indoda ekhululekileyo – ’n vry man

Hulle sê ’n man wat opstaan, is ’n sterk man: ’n indoda enamandla. ’n Man wat sal baklei tot die dood.  Maar ek ken ’n man wat sterker was as “om sterk te wees.” Hoe vergewe ’n mens terwyl hulle nog teen jou sondig? Hoe staan jy in ’n tronk vry op vir sewe-en-twintig jaar? Hy was meer as ’n indoda enamandla – hy was ’n indoda ekhululekileyo!


 

Sarlene Horn

"Moenie nader kom nie!" Stilte. Skuifel. "Ek sê stop!" Die bangheid is voelbaar, al skyn die son skerp in die kamer. In haar hand is ’n potlood as wapen gerig. Die brose ouderdom van 78 wys op haar vertrekte gesig. Die dokter se eerste aanbeveling was om kalm te bly. Die trane rol as ek die teekoppie hoër lig. "Dis ek Mamma, Leila. Mnr Alzheimer is nie hier nie."


 

Leroy Abrahams

Mandela Day

A memory of an ordinary human being. Seeking peace and showing love to all. Helping those who have a need‎ and doing good to others, even if only for 67 minutes. This day has surely proven that there are people with hearts of generosity who will willingly reach out a helping hand. I salute you, Mr Nelson Mandela. May your soul rest in peace.


 

Tina Cloete

Daar gaan ’n man

Vol verwagting vir ’n reënboognasie trek ons die kruisie versigtig. Ons jubel. Nelson het vergewe en begin sy droom verwesenlik. ’n Land sonder ras of kleur.

Sou die destydse leiers jou so lank laat klippe kap as hulle die toekoms kon voorspel, Rolihlahla Mandela?

Het ek die mag gehad om jou te roep om ons weer te kom red, sou ek! Huil jy ook oor jou land?


 

Elizabeth van Heerden

Ons president

Hy het soos ’n donkerwolk saggies op hul toegesak. Pynloos, sy teenwoordigheid maar knaend. Sonder geweld, soos die teenwoordigheid van ’n muskiet, treiter hy hulle en dryf hardnekkig en vreesloos sy saak.

Maar eendag word sy lot vanuit die regbank verseël. Hul druk hom in ’n blik en hy beland tussen klipbanke, met die see as grens.

Sy einde? ’n Baken op ’n eiland ... Ons demokratiese president.


 

Roux Botha

Prisma

Wit lig stroom deur kalkpoeier en raak verstrooi in kleure. Die prisma-gat op die eiland word ’n kryt van hamerslae en haat.

Madiba se gevoelstrome word kleurig. Instinkmatig fokus sy denke op swart wat kleur en bloed kan absorbeer.

Deur jare van stryd verower Afrika se uitverkore kind vryheid in veelkleurigheid, vertrouend dat die mensdom die helderheid sal deel.

Maar buite snuif hiënas al aan sy graf.


 

Alita Steenkamp

Genade

“Help asseblief!” Die hawelose se oë ’n brandende pleit. Die ou hond lek-lek aan ’n gapende wond. Hy maak die motordeur oop, beduie hulle moet inklim.

Later betaal hy die rekening en kyk na die stertswaaiende hond.

“Ons loop sommer verder,” sê die ou man. Hy grawe in sy beursie, prop alles in growwe hande wat dit gretig tel.

“R67! Jislaaik meneer, jou genade was eintlik genoeg.”


 

Selwyn Milborrow

Die vredemaker

18 Julie is vir elke landsburger ’n oomblik vir stilstaan. Dan móét ons mooier luister om mekaar beter te verstaan; nederig en sonder enige kwaad. Madiba het vrede en versoening gepreek en gespreek. Hy het saam met Betsie tee gedrink en met Diana geselsies gehad oor mensehaat en sy Springboktrui by die 1995-rugbywêreldbeker. Madiba se heengaan laat ’n leemte, en hierdie reënboognasie stort hartseertrane. Lala ngoxolo, Madiba.


 

Julanda van der Merwe

Verby tralies

Anderkant die groef van wit graniet wat fel sonlig op sy weerlose retinas brand, dein die groengrys branders wat inrol en breek in eindelose ritme op die windverwaaide skulpgruisstrande. In sy sel is bitterheid ’n dier wat hy daagliks van nuuts af moet oorwin, maar tralies kan nie sy hart gevange hou of keer dat sy groot droom soos die meeue op windstrome sonder grense sirkel nie.


 

Edna Taljaard

The meeting

“Old man, you know we hate you. Why are you here?”

“To greet you for the first and last time, you and yours is all I have left.”

Grandfather’s confession seemed sincere, the old eyes begging. Piet withdrew his hand from his hidden weapon.

“Take this. Be unobtrusive.”

Piet received the stolen diamond back. His black arm enveloped the frail white man.

“Our home is your home!”


 

Aretha du Rand

Siklus

Die losskeur is die ergste, het hulle gesê. Die losskeur na maande se donker geklots in die warm polsende poel. Van vasgevang wees in ’n onmeetbare ruimte wat langsamerhand verklein tot ’n benouende spasie. Maar ek het nuus vir hulle wat so slim is. Die los skeur wanneer ’n lem deur die vrugsak snerp, is niks. Die seer lê in die weggee. Die eindelose, immer herhalende weggee. 


 

Jan Beyers

1990

“Hy word Sondag vrygelaat.” Sug.

“Ja, swaer.” Sluk.

“Ek sê jou. Dis die begin van die einde.” Sluk diep.

“Hulle gaan dit op TV uitsaai vir die fokken wêreld om te sien.” Sigaret.

“Dan is daar no turning back. Hulle gaan ons uitmoor.” Glas leeg.

“Gooi maar nog twee dubbels, my tattie.” Klap op toonbank.

“Hoekom dink jy smile hy so?” Frons bekommerd.

“Ek weet nie.” Sug.


 

Jack Snyman

Not too long ago there lived a man called Nelson. He was a true leader and achieved icon status- not only in his beloved country, but worldwide. He had the uncanny ability to unite a racially divided nation into a true rainbow nation. But rainbows do not last. Sadly he passed away, and so did leadership, moral standards and accountability. Oh how dearly this nation misses him!


 

Annora Eksteen

Dinsdagaand 18 Julie 2017 in Riverlea: Swaai daai stert, snuffelhond!

Zan en Wesley het verskriklik geskreeu en baklei in die huisie langsaan. Shazia, my ma, het die vensters toegemaak en kalm haar selfoon teen haar gesluierde oor gedruk.

“Polisie! Kom gou! Aanranding!”

Ek het die tikkristalle onder die matras uitgesnuffel en Zan het vir my geglimlag met haar stukkende mond.

’n Dankbare glimlag vir my: Nelson, die afgetrede bloedhond.

Tans sit Wesley sonder tik.

In Sun City-tronk.


 

Cherene Pienaar

Ballonknope op Fransmanskraal

Katu woon in ’n berghuisie met Wi-Fi. Haar pa sou lag; sy slim eenkantkind. Dinge het tog verander sedert sy dood, dink sy vasberade. Dis net ’n seisoen, troos sy terwyl haar amandeloë oor Instagram se koggelfoto's gly ... Eiffeltoring, arms wat vashou, pruilmondjies, babapensies. "Jy het die mooiste glimlag ooit," het Valiant Swart eenkeer in ’n groep gesê. Hoekom sukkel sy dan so om Eensaamheid te unfriend?


 

Paula Hartzenberg

Emmie se soektog

Ek bly by die hoop grond agter. Iemand begin lei my met die voetpad langs. Vroegskemer skyn lig in ’n venster. ’n Meisie maak ’n kissie oop. 

“Dit was altyd myne!” sê ek.

“Sy soek leidrade na haar verlede.”

“Ek sal dit nou gaan verduidelik.”

“Sy kan jou nie sien of hoor nie.”

Ons loop terug graf en satynbed toe. Die engel strooi saggies grond oor my.


 

Dawn Greyling

Moordenaar 67

18 Julie. Nanag. Sy stap deur die onkologie-afdeling. Haar teiken lankal geëien. Haar oë blink, asem vinnig, bloed bruisend deur tintelende are. Opwinding! Sy kyk rondom haar.

Slapende stilte. Sy stoot kamer 46664 se deur oop. Die vernielde liggaam van die jong vrou skok haar weereens. Sy druk haar hand simpatiek. Dankbare oë volg haar as sy die muurprop afsit en die oorgroot verpleegster uniform uittrek ...


 

Roxanne Roelofse

Werkersdag

Ek voel die herfswind sny deur my gehawende klere. Nou al ’n jaar werkloos.
 ’n Stem kom oor die radio: “Gisteraand, op Werkersdag, het ’n legendariese skrywer ons verlaat …”
 Nee! Die sigaret val uit my hand.
 Toe ek bykom, sien ek woorde op die skerm voor my vorm aanneem onder my tikkende vingers.
 Buite sif roet sneeusag neer.
 Sy winter is verby.
 Maar myne het nou begin.


 

Lanel Wenhold Kotzé

Bottelbrief

As elke persoon wat hierdie kon lees, een onverwagse daad van goedheid aan ’n ander kon doen.

Net eenmaal. Dalk twee maal. As hulle dit met eerlike oorgawe kon doen, sprekend van opregtheid. Miskien hulle dade ’n bietjie deurdink – dán sou ons ’n opstand kon begin. Hopelik die lawaaierige soort. ’n Golf van vredesdade, mense wat mekaar aktiveer; hulself vergeet.

So sou ons stééds hierdie wêreld kon red.


 

Jeanette Snyman

Metamorfose

Sy is getallegewys seker oud, maar haar gees is jonk en groei groots.

In haar vorige lewe is haar hart uitgeruk en het stadig leeg gebloei. Maar wat versteen, verbrokkel nie noodwendig nie. Sy het Eros in Agape omvorm - soos vele al ter wille van oorlewing moes doen. Geliefdes se woorde is soms swaarde.

Sy strooi haar liefdeskaros daagliks wyd en warm uit oor almal wat koud kry.


 

Karlien Swanepoel

Wonderlike vreemdeling

So loop ek een dag deur die winkels toe ’n man ’n bos blomme in my hande prop. Geskok om iets te sê, kry ek darem ’n dankie uit. My ma wou weet waar ek die blomme kry, maar die storie klink vir haar te snaaks. So los ek dit tot ek een oggend by die werk kom en hom daar vind, met my gunsteling koffie in sy hand.


 

Mart de Jager

Krismus

Ons was vry van die wêreld toe ons daardie dag te perd rivier toe gery het. Ek en Mari voor en Krismus op ’n ponie agterna. Ek het my horlosie tydens ’n galop verloor en onthou hoe briesend my ouma was toe ons na donker tuis gekom het.

Was dit omdat ons laat was? Of was dit omdat jou vel bruin was?

Nietemin, ons was gelukkig.


 

Annelene Hartnick

Huis paleis pondok varkhok

Het die speletjie as kinders met die knope op ons klere gespeel.

Eerste huisie was ’n tweevertrek met misvloere wat ons gereeld moes smeer tot kraakvars.

Ons tweede huis – ’n viervertrek – gebou uit my pa se karige loon.

Sy trots om uiteindelik vir sy gesin ’n dak te gee. Ons trots om ’n tuiste te hê.

En toe : Die Groepsgebiedewet ...


 

Nickfred Sysaar

Qunu se Ikoon

Begeesterde aktivis van wêreldorde, ons bring hulde. Sy pylkoker was gevul met ’n eiesoortige wysheid. Hierdie vee-oppasser, prokureur en staatshoof het teen ongelykheid en rassisme gepropageer. Geen tronkslot of grendel kon sy liberale denkvermoëns boei nie. Bitterheid of onvergewensgesindheid kon jy nie in sy karakter vind nie. Wyle tata Madiba was “Vry” –, is Mzansi “vry”? Een uur en sewe minute gemeenskapaksie, demonstreer nasiebou.

Eien jou vryheid.


 

Shirene Julies

Mandela, Pa van Suid-Afrika

Aan jou Tata, gee ek al die dankies wat jy verdien.

Trots dra ek my born free balkie. Gespaar van die apartheidgruwels. Ek is vry!  67 voetspore het jy nagelaat. “I am prepared to die”. So, praat ’n pa van sy kind. Jou liggaam rus in Qunu. Jou gees geboesem in Suid-Afrika. Sal 67 dankies ooit genoeg wees?

Jy het jou kant gebring. Dis nou ons beurt.


 

Yvonne Botha

Troeteldiere vir Madiba

Mense sê sy is ’n onvergenoegde vrou wat nooit lag nie.

Maar vanoggend waar niemand haar kan sien of hoor nie lag sy uitbundig.

Versigtig sit sy die swart en wit kat in die mandjie.

As sy vandag die ou weggooi-kat by die tannie aflaai sal dit haar 67ste troeteldier wees wat sy op Madiba-dag ’n liefdevolle huis kry.

Sy het vandag haar teiken bereik. 


 

Merle Danhouse

Toe die vrede kom

Die wind sing teen ’n lae toon teen die huis se mure. Ek bind my kopdoek vas en wikkel by die deur uit. Dis Dinsdag, en David wag by die ouetehuis.

“More mevrou,” groet die verpleegster, “Meneer staar steeds by die venster uit. Hy praat niks.” Ek vryf oor die koue deurwinterde hande en was dit met my trane. En hy sê: “Lizzy, ek het vrede gevind.”


 

Lettie Parker

Drome kan waar word

Sowaar gewen!  Die R67 miljoen Lotto! My maag draai en my hart klop woes. Uiteindelik word my droom ’n werklikheid. Ek kan 67 lekkende “blikhuisies” vervang met steenhuisies. Die eerste een sal wees vir die vriendelike gerimpelde bruin vroutjie wat koerante op straat verkoop om vanaand ’n broodjie te koop vir die honger magies wat haar angstig tuis inwag.

"Word wakker ..." Ag nee! Weereens net  ’n droom!


 

Marion Low

Ontknoop

Haar vingers bewe om die dik geknoopte tou.

Daar’s hy. Nou is hulle amper veilig.

’n Geluid. Sy verstar, luister.

Nee! Dis te gou! Ek is nie reg nie!

Die stilte sus haar. Sy toets die knoop ’n laaste keer. Tevrede met haar handewerk laat sak sy haarself. Haar asem verlaat hortend haar lyf. Die stoeltjie kletter om en haar lyf begin ruk.

Daar’s hy. Nou is hulle veilig.


 

Ockert Greeff

Spekvet

’n Man met effens afgeslete tande sit ’n foto van homself op Facebook. In die foto leun hy teen ’n wit pilaar op ’n breë, blink stoep.

In ’n koue land in ’n ander halfrond sien ’n bebrilde man met ouderdomsvlekke op sy hande die foto in sy Facebook-stroom. Hy het baie gewig verloor, dink die bebrilde man. Maar hy is spekvet van al die geluk.


 

Trudie Coetzee

Vandag het ek langs ’n boemelaar gestaan. Hy het skaam-skaam om ’n muntstuk en brood gevra. Ek het wit en skuldig geglimlag en een met Madiba se gesig uit my beursie gehaal. Terwyl Robbeneiland se pikkewyne 46664 bewaar en Tafelberg pryk soos die berg van Golgota.  Terwyl Tata Madiba op die ritme van Afrika dans en ek à la Ubuntu 67 woorde aan my land opdra.


 

Thomas van Niekerk

Vryheid

Die laaste tree van haar long walk to freedom het geëindig die oggend toe sy haar handsak van die kombuisvloer af optel – die inhoud uitgebraak op die teëls. Niks het verweer teen die opstand van sy woede nie.  Met haar oë nog rooi van trane het sy na die naaste prokureur gery.  “Ek wil skei,” pleit sy. Toe sien sy die son vir die eerste keer vandag.


 

Stephanie Viljoen

Wat die hart van vol is ...

Onkunde se oë rol toe Geregtigheid ook haar verskyning maak. Haat knipoog vir Hoogmoed en wink Geregtigheid grynslaggend nader tot op die randjie en beduie opgewonde. Ongebonde tydlose beelde vul die horison. Woordloos kyk sy hoe die Mens hulself woedend uitwoed; die skeiding tussen hede en verlede onherkenbaar. Dis Wraak wat Geregtigheid summier oor die afgrond stoot, maar dis Hoop wat betyds sien, gryp en verbete vasklou ...


 

Roela Hattingh

Teetyd

Rebekka, roep vir Ruben om die goed af te laai. Ek's lekker laat. Pak sommer eers alles op die vloer en merk die bestanddele af op die lysie: 67 liters langlewe-melk, 17 dosyn eiers, 3 blokke botter, 12 kilogram suiker, 1 liter vanielje, 1 kilogram kaneel, 67 pakke tenniskoekies, foeliebakke. Stryk gou my linne-pakkie voor ek ry asseblief.

Ek kry die 67 melkterte ná Bybelstudie, gehoor.


 

Elmé Ravenscroft

Madiba en my bloukraan

Daar is ’n bankie in SA waarop ek veilig voel en hier omring al my geliefdes my. Agter my, swart mans wat ’n zol deel teen die wal. Matilda ,voor my, ingekamp saam met die aristokrasie van Brooklyn se Blue Crane Restaurant. En hier strompel ’n duif verby, sommer Pietie. In sy krop dra Pietie net so swaar aan white guilt. Sou Madiba kon troos hier?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top