60 Dae in Suid-Soedan 'n intieme blik op 'n proses van groei en verandering

  • 0

60 Dae in Suid-Soedan
Franz Kemp
Uitgewer: Tafelberg
ISBN:9780624048817
Prys: R153.00


 

Dít was die hoop van die alchemiste van ouds: om nie slegs onedel metale in goud te kon verander nie, maar om in hierdie proses self as mens verander te word.

Dít was ook die hoop (en gebede) van Franz Kemp vir sy tyd in wat hy beskryf as die hart van Afrika, “dat die Soedannese se gemaklikheid met hulleself, die rustigheid, die menswees, die liefde vir jou medemens, ook op my sal afskuur. Al is dit net ’n klein bietjie. Dan stap ek anderkant uit as ’n beter en voller mens.”

Daarom is sy 60 dae in die Suid-Soedan meer as net ’n tydperk: dit is eerder ’n proses. En lees ’n mens waardeur hy alles is in hierdie 60 dae – en aanvaar ’n mens sy getuienis oor hoe dit hom verander het – dan wil ’n mens waag om te sê dit was ’n alchemiese proses, een waarin hy sy gewone ervarings in ’n vreemde Afrika-stad (“niks meer as ’n uitgestrekte plakkerskamp nie”) in die goud van ’n lewensveranderende ervaring omgesit het.

Gemeet aan van die ander eksotiese Afrika-lande waar Kemp al voorheen was – onder meer daardie lande waarvan almal droom: Tunisië, Marokko en Egipte – kan Juba as niks anders nie as ’n “onedel metaal” beskryf word; ’n plek wat ’n professor aan die Universiteit van Toronto as die “shit hole” van die wêreld beskryf het. Nietemin is dit in hierdie stad, wat nie veel meer het as “sy siel ... en die Nyl” wat vír hom tel nie – waar Kemp voel dat hy iets unieks en onvergeetliks ontdek het.

Hierdie magiese alchemie gee hy ook aan sy leser deur. Hy laat jou Afrika rúík (“’n ryp aardsheid”), hy laat jou haar vóél (“daar is ’n losgat-hittigheid in die lug”), en hy laat jou haar waardéér (“[d]ie twee meisies agter die kiosk se toonbank is uitspattig vriendelik en sag op die oog”).

Maar soos vir die alchemis van ouds is die pad van metamorfose geen maklike proses nie. Dit is nie eens ’n noodwendige proses nie. Van sy dae in Suid-Afrika wat so lank en leeg is soos “die pad deur Verneukpan”, tuimel hy ’n elf uur lange werksdag in. Vir sewe dae van die week. En sou hy so lank gebly het, waarskynlik vir 365 dae van die jaar. Sonder toegang tot die internet, sonder funksionerende rekenaars, lessenaars of selfs notaboeke en penne – trouens, sonder opgeleide joernaliste – moet hy ’n TV-nuuskanaal staanmaak.

Gaan hy die “shit” in goud kan omsit, of gaan die harde fisieke werklikheid, die soms onoorbrugbare kultuurverskille, maak dat daar vir hom net die drek oorbly? Sy emosies wissel van aanvanklike verrukking – ’n gevoel van ’n emosionele tuiskoms – tot moedelose wanhoop en die ervaring van buitestanderskap. Soms is hy heilig oortuig dat hy “ingeskroef ... klaar deel is” van hulle stelsel; ander kere kom hy tot die frustrerende besef dat “(n)iks gaan verander nie. Hulle wil nie leer nie en ek raak gatvol.” Enersyds betower die Soedannese se tydlose sereniteit hom; andersyds frustreer dit hom grensloos. Emosies van ekstase en frustrasie, berusting en ontnugtering volg mekaar so gereeld op soos die wisseling van dag en nag in die trope.

Dit neem byvoorbeeld ’n skrale twee weke vir die blik van die buitestander om te wyk voor ’n sterk identifikasie met die land en haar mense. Kemp skryf dikwels in die trant van “dis hoe ons hier praat”; “ons kry maklik 1 200 milimeter reën per jaar”. Selfs die president van die Suid-Soedan is vir hom “ons president”. Ander kere voel hy uitgesluit, ’n vreemdeling in ’n vreemde land. Sy instinkte (dat dit juis haar plek in die vergetelheid is wat van Juba dié plek by uitstek maak waar hy ware vrede gevind het) is telkens in ’n geveg met daardie tipiese Westerse dogma dat “vordering” en “opgevoedheid” (lees: optrede wat aan die kulturele maatstawwe van die Weste voldoen) die ware maatstaf vir “beskaafdheid” is.

Die boek is in die vorm van ’n dagboek geskryf – ’n uitstekende styl om hierdie emosionele oppe en affe van die skrywer weer te gee. Sy blik op die Suid-Soedan is een van baie waardering en ’n werklike deernis teenoor die mense, kinders en diere. Maar in die proses bied hy ook aan sy leser ’n blik op sy eie, weerlose self. Hy is ’n ouer wordende wít man afkomstig van ’n land wat, in elk geval vir sy gevoel, min waardering het vir die wit van sy vel of die grys van sy hare. Die respek en waardering wat die Soedannese het vir sy kennis en sy ervaring – en die totale afwesigheid van ’n rasbewustheid – is balsem vir sy siel.

Op die agterflap van die boek word die voornemende leser ingelig dat 60 Dae in die Suid-Soedan ’n “hoogs vermaaklike blik” op die Suid-Soedan bied. En ja, daar ís baie humor in van die situasies waarin Kemp hom so dikwels bevind. Daar is die oomblik wat hy moes agterkom dat die man wat in die ateljee sy Engelse bulletins moet volg ten einde op die regte moment na die verskillende visuele en grafiese elemente te sny, geen Engels magtig is nie; dat ’n ander opsiener op die TV-stasie blind is. Daar is die nuwe Millennium Hotel, wie se indrukwekkende spyskaart alles van pizzas, pastas en steaks tot Indiese en Chinese geregte aan die honger eter bied, maar wat de facto slegs lensiesop en brijani te bied het. Daar is die Fish Shop wat alles “van skropgrawe tot bofbalpette” verkoop – alles behalwe vis.

Nietemin wil Kemp nie slégs vermaak nie. En ten spyte daarvan dat hy sy leser gereeld lepeltjiesvol inligting voer oor die Suid-Soedan se geskiedenis – en soms ontstellende glimpse bied op die gevolge van ongebreidelde kapitalisme hier sowel as in die res van Afrika – is die boek ook nie primêr sosiohistories van aard nie. Die boek is ook nie – soos dit gereeld beskryf word – in wese slegs ’n reisverhaal nie. 60 Dae in die Suid-Soedan is eerder ’n intieme blik op ’n proses van groei en verandering in die lewe van ’n man wat duidelik op soek is na sin in sy lewe.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top