2018-Oorlewingsgids: agt leefstyl-apps waarvan jy moet weet

  • 0

Dis geen geheim dat daar deesdae ’n app vir alles is nie. Hier is ’n paar gratis* leefstyl-apps vir Android- en Apple-toestelle wat op welstand, ontspanning en vermaak gemik is.

Glympse

Beskrywing: Glympse lyk baie soos Google Maps, maar met ’n kinkel. Die doel daarvan is om jou GPS-ligging met spesifieke mense te deel en hulle kan dan ook van hulle kant af op die kaart sien waar jy is en teen watter spoed jy ry of stap. Jy kan dit gebruik om kollegas of vriende te laat weet dat jy op pad is en waar jy is, of wanneer jy iewers heen stap of ry en jy wil hê iemand anders moet jou dophou en seker maak jy kom veilig by jou bestemming aan. Die goeie nuus is dat jy die app kan gebruik om jou ligging te stuur en die ander persoon ontvang dit via SMS sonder dat hy of sy ook die app hoef te hê om dit te sien – dit maak dan in sy of haar webblaaier oop. Jy stel die tydsduur waarvoor jy jou ligging wil deel, byvoorbeeld 30 minute, en na daardie tyd verdwyn jy van die ander persoon se kaart af.

 

MapMyFitness

Beskrywing: MapMyFitness, ’n vennoot van die aanlyn winkel Under Armour, het ’n reeks leefstyl-apps onder hulle vaandel. Die apps is hoofsaaklik daarop gemik om jou te help boekhou van jou fisiese aktiwiteite. Daar is onder andere MapMyFitness Workout Trainer, wat boekhou van tot 600 verskeie soorte oefening, die roetes wat jy hardloop of fietsry, die afstand en die getal kalorieë wat jy verbrand. Indien jy die getal kalorieë in jou kos wil bereken, kan jy Under Armour se Calorie Counter – MyFitnessPal – daarvoor gebruik.

 

Pacifica

Beskrywing: Pacifica is ontwerp om mense met die hantering van stres en angs te help. Jy kan nuwe vaardighede vir die bestuur van stres en angs aanleer, boekhou van jou gemoed en gesondheid, persoonlike doelwitte stel, jou gedagtes neerpen, ontspanningstegnieke bekom, jou vordering peil en patrone identifiseer, sowel as kontak maak met ’n ondersteuningsnetwerk as jy wil.

 

Zomato

Beskrywing: Zomato is ’n Suid-Afrikaanse restaurant-app wat jou kan help besluit watter restaurant jy wil besoek. Jy kan restaurante na aan jou opspoor, na spyskaarte, foto's en graderings kyk, resensies lees, jou gunstelingrestaurante merk, en boekhou van restaurante wat jy reeds besoek het. Dis enige kosliefhebber se ideale assistent.

 

Shazam

Beskrywing: Shazam is ’n musiek-app wat ’n gedeelte van ’n liedjie kan opneem en dan die titel en die kunstenaar kan identifiseer. Dit is veral nuttig wanneer jy in ’n restaurant is en ’n liedjie hoor speel wat jy graag later wil opspoor om weer na te luister.

 

Duolingo

Beskrywing: As jy in 2018 ’n nuwe taal wil aanleer, is Duolingo beslis die plek om te begin. Die app het toeganklike taalkursusse vir ’n groot verskeidenheid tale. Uit die tale wat in Engels aangeleer kan word, is dié met die meeste aanleerders op Duolingo tans Spaans, Frans, Duits, Italiaans en Portugees. Daar is selfs kursusse vir Swahili, Hebreeus en Esperanto. Die kursusse toets eers jou basiese kennis en begin dan met basiese taalvaardighede en word toenemend moeiliker. Jou vordering word gemeet en die kombinasie van visuele elemente, stemopnames en teks maak dit ’n opwindende leerervaring.

 

Google Trips

Beskrywing: Google Trips is die ideale reismaat. Jy kan al jou reisinligting op een plek stoor en ook toegang daartoe hê wanneer jy nie internetverbinding het nie. Beplan jou aktiwiteite vir elke dag; vind uit watter besienswaardighede naby is en ook of dit oop is; kry inspirasie en voorstelle vir aktiwiteite en restaurante; en kry op een plek toegang tot jou vlugbesonderhede en ander besprekings.

 

Google Keep

Beskrywing: Google Keep is die beplanner en notamaker se vriend. Enigiets wat jy wil onthou kan in hierdie app, wat as ’n moderne pakkie "post-its" beskou kan word, ’n heenkome vind. Jy het dan boonop die vryheid om dit met ander te deel, kleure en etikette by te voeg, en dit te herrangskik en met jou ander toestelle te sinchroniseer om seker te maak jy het dit altyd byderhand.

* Die meeste apps word as gratis bemark, maar bykomende funksionaliteite moet dikwels teen ’n koste bygekoop word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top