2017 in die truspieël

  • 1

It was the best of times, it was the worst of times

2017. ’n Veelbewoë jaar, en dis nog nie eens oor nie. Soveel kan nog gebeur in die paar dae wat oor is.

Dis die jaar van Donald Trump, covfefe en presidensiële beleidsverklaring 140 karakters op ’n slag. Die jaar toe die Rohingya-krisis ’n Nobel-vredespryswenner met voete van klei, wat in belang van politieke expediency optree met geen gedagte aan moraliteit nie, ontmasker het. Dis die jaar waarin protes ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Dis die jaar van #thefutureisfemale en #MeToo. Dis die jaar van bloedige massaskietvoorvalle. Dis die jaar dat terreur met voertuie tot ’n fyn kuns verwerk is. Dis die jaar van Brexit. Dis die jaar waarin siviele regte in soveel lande ’n tree of twee vorentoe gegee het, terwyl dit in die VSA met rasse skrede agteruitgegaan het.

Dis die jaar waarin aktrises en skrywers hulle politieke rugstring ontdek het. Dis die jaar waarin distopiese fiksie soos realiteitstelevisie begin voel het. Dis die jaar waarin Angela Merkel haar rol as die leier van die Vrye Wêreld bevestig het.

Dis die jaar van refugees, en van slawerny, die jaar van fopnuus. Die jaar waarin die postwaarheid era ingelei is. Dis die jaar van macho magsvertoon deur infantiele megalomaniakke met toegang tot kernwapens. Dis die jaar waarin die huidige Nobel-vredespryswenner waarsku dat ons op die rand van algehele uitwissing deur kernwapens ronddans, en dat ego die sneller sal trek.

Dis die jaar waarin korporatiewe gierigheid tot die ondergang van meer as een finansiële instansie gelei het. Dis die jaar van Bitcoin, die jaar waarin virtuele realiteit vir baie verkieslik was bo die werklikheid.

Dis die jaar van vure en vlamme, orkane en tornado’s, vulkane en ysstorms, oorstromings en droogtes. Dis die jaar van klimaatsontkenning.

En in Suid-Afrika? Vir ons was dit die jaar waarin rommelstatus ons nuwe normaal geword het, die jaar waarin ons wysgemaak is dat as die rand val, ons dit net eenvoudig weer kan optel. Dis die jaar waarin Sassa en SARS, die NPA en ander staatsinstansies konstant op die randjie van chaos rondtrippel. Dis die jaar waarin ons die omvang van staatskaping en korrupsie aan ons beursies begin voel het. Dis die jaar van waterbeperkings en voedseltekorte. Dis die jaar van voëlgriep en pessiektes. Dis die jaar waarin verantwoording vir politieke nalatigheid in die vorm van Sassa en #LifeEsidimeni vereis word. Dis die jaar waarin die krisis in ons opvoedingstelsel weer belig is, terwyl ons hoop dat daar hierdie keer iets daadwerkliks gedoen sal word om die situasie te verbeter.

Aan die positiewe kant was 2017 die jaar waarin die effektiwiteit van massaprotes opnuut bewys is. Dis die jaar waarin vroue in hul duisende opgeruk het om hul politieke stem te laat hoor en hul politieke mag terug te eis.

Dis die jaar waarin hokaairoepers die Suid-Afrikaanse politieke landskap verander het, waarin die ruk-en-rol-sterre van ondersoekende joernalistiek gewys het hoe etiese beriggewing gedoen behoort te word. Dis die jaar van die Gupta-leaks, die jaar van AmaBhungane en Scorpio, die jaar van Jacques Pauw en Pieter-Louis Myburgh, die jaar van Redi Thlabe. Dis die jaar waarin kerke hul profetiese, etiese en morele stem begin herwin. Dis die jaar waarin ons howe bewys het dat die skeiding van magte en ons demokrasie werk.

Dis die jaar waarin die ANC fluks aan hul eie politieke doodskis begin timmer het, die jaar waarin koalisievorming deur opposisiepartye eties en polities die enigste sinvolle oplossing geword het. Dis die jaar waarin eenheid binne die ANC as sekerlik die grootste fopnuus van die jaar ontmasker is.

Dis die jaar waarin ISIL verbrokkel en Gift of the Givers as helde op die internasionale en plaaslike gebied na vore tree. Dis die jaar waarin die gesag van regerings verwerp word, en die mag van individue wat saamstaan, bewys is. Dis die jaar waarin die Khoisan aandring op erkenning as Eerste Nasie.

Dis die jaar waarin die winde van politieke veranderinge deur Afrika waai, van die Zimbabwiese non-coup wat die einde van Mugabe se bewind beteken tot die Groundhog Day van die Keniaanse verkiesing.

2017 was ’n jaar van kontraste, ’n jaar waarin beide die absoluut beste en slegste in mense na vore gebring is. Dis die jaar waarin Suid-Afrikaners meer as een maal bewys het when the going gets tough, the tough get going, en genoeg is genoeg. Tot hiertoe en nie een tree verder nie.

Ons vir jou, Suid-Afrika.

2017.

It was the best of times, it was the worst of times.

  • 1

Kommentaar

  • Gustaf Claassens

    Inderdaad, dis hoe dit was! En dankie dat jy ons die Springbokke se skandes gespaar het wat ek nou oopkrap.
    Wat 2018 betref, is Cyril die nuwe bestuurder van 'n ANC-skedonk wat amper 'n miljoen kilometer op het en selde 'n goeie diens gehad het. Drie van die "top" 6 "mechanics" se hande is so vuil van ou olie dat Sunlight seep of enige ander skoonmaakmiddel dit nie weer skoon sal kry nie. Die Marikana-man is steeds op 'n sinkplaatpad met ou skokbrekers en op die 2018 hoofweg gaan hy nie maklik kom nie
    Meer kommerwekkend is dat die ANC met hierdie verkiesing bewys het dat hulle in wese 'n party is wat geen ag slaan op moraliteit en goeie waardes nie. Dis 'n beweging wie se lede baie meer tuis is in 'n omgewing van korrupsie en selfverryking. Die idee van 'mag', soos in die res van Afrika, is meer belangrik as goeie regering en vooruitgang.
    Groot uitdagings lê voor maar in hoop moet ons bly lewe want dit spoor mense aan om dinge te doen en te verander. En daar is genoeg diesulkes om wel 'n verskil te kan maak.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top