2015-matriekuitslae: 'n blink toekoms wink

  • 0

‘Die verwerwing van ’n matrieksertifikaat is nie ’n naelloop nie, maar ’n marathon van 13 jaar.’ –Angie Motshekga

Die Afrikaanse Taal- en Kultuurvereniging (ATKV) wens alle leerders wat die 2015 Nasionale Senior Sertifikaat-eksamen geslaag het, hartlik geluk. Die ATKV is trots op al hierdie leerders en ons gee ook graag erkenning aan alle onderwysers en ouers wat aktief betrokke was en ’n vormende rol gespeel het in elk van hierdie leerders se lewens, van gr R regdeur tot gr 12.

Die minister van onderwys, me Angie Motshekga, het tydens die bekendmaking van die 2015-matriekuitslae gesê die verwerwing van ’n matrieksertifikaat is nie ’n naelloop nie, maar ’n marathon van 13 jaar. Die vaslegging van basiese vaardighede in die grondslagfase, soos lees, skryf en wiskunde, is van die belangrikste boustene wat gelê word in die uiteindelike suksesvolle verwerwing van ’n matrieksertifikaat. Verder word vaardighede soos analitiese en kritiese denke, probleemoplossing en lewensvaardighede soos tydbestuur en studievaardighede, alles oor die volle duur van ’n leerder se skoolloopbaan bemeester; deur die aktiewe deelname aan  ouderdomsgepaste leergeleenthede. Leerders wat nie vanjaar matriek geslaag het nie, moet weet dat dit nie die einde is nie, en dat mislukking deel van die leerproses is – aanhouer wen!  

In 2015 het die grootste kohort van leerders in die Suid-Afrikaanse geskiedenis, nagenoeg 800 000, die nasionale eksamen wat opgestel is ingevolge die kurrikulum-en-assesseringsbeleidsverklaring (in die volksmond bekend as CAPS), afgelê. Vanjaar het nagenoeg 123 000 meer matrikulante die eksamen afgelê, vergeleke met die 2014-matriekeksamen.

geluk-matrieks

Dit is vir die ATKV verblydend dat meer as ’n halfmiljoen leerders die nasionale eksamen in 2015 geslaag het. “Hoewel die slaagsyfer van 70,7% wel 5% laer as verlede jaar se 75,9% is, is die verduideliking van die minister van onderwys, me Angie Motshekga, dat dit verband hou met die verhoging van standaarde en ’n toename in onderwysgeleenthede vir onderpresterende leerders, goeie nuus”, sê mnr Seymour Bothman, senior bestuurder van die ATKV se onderwysafdeling.

Motshekga se verduideliking vir die afname in die nasionale slaagsyfer in 2015 is eerstens dat die matriekvraestelle vanjaar moeiliker en intellektueel meer uitdagend was as in vorige jare. Daar is nie net van matrikulante verwag om parate kennis weer te gee nie, maar ook om hul analitiese en kritiese denkvaardighede en probleemoplossingsvaardighede suksesvol te demonstreer. Sodoende is die nasionale onderwysstandaard verhoog.

Tweedens is daar vanjaar ’n nasionale “tweede-kans-matriekprogram” vir onderpresterende leerders geïmplementeer. Hierdie bevorderingsleerders, wat voorheen gr 11 meer as twee keer onsuksesvol herhaal het, is aan die begin van 2015 bevorder na gr 12 en sodoende toegelaat om die matriekeksamen te skryf. Sowat 60% van hierdie leerders het geslaag. Hierdie program was dus suksesvol in ’n nasionale onderwysdoelwit van toenemende toegangsgeleenthede tot verdere kwalifikasies vir leerders. Indien die bevorderingsleerders se uitslae egter buite rekening gelaat sou word, kon die nasionale 2015 slaagsyfer so veel as 74,1% gewees het. Hierdie syfer is egter steeds laer as die nasionale slaagsyfer van 2014.

Die ATKV wens die vier top-presterende provinsies geluk met slaagsyfers bo 80%, naamlik die Wes-Kaap met 84,7%, Gauteng met 84,2%, Vrystaat met 81,6% en Noordwes met 81,5%. Dit is egter kommerwekkend dat die drie provinsies met die laagste slaagsyfers, naamlik die Oos-Kaap met 56,8%, KwaZulu-Natal met 60,7% en Limpopo met 65,9%, meer as helfte van die nasionale leerdergetalle verteenwoordig.

Onderwys is een van die ATKV se vier hooffokusse en ons moedig alle individue, organisasies en sakeondernemings aan om, op welke wyse ook al, by die verbetering van onderwys betrokke te raak. Die ATKV het verskeie projekte wat veral daarop gemik is om by onderpresterende skole ’n verskil te maak. Werk- en motiveringsessies word aangebied vir leerders, onderwysers, skoolbestuurspanne, skoolbeheerliggame, administratiewe personeel en ouers.

Die toename in die 2015-slaagsyfer onder leerders van skole wat armer areas bedien, is verblydend – sowel as die feit dat die gaping in die slaagsyfers van skole in bevoorregte areas en skole in armer areas, vernou het. ’n Verdere interessante neiging wat in die 2015-matriekuitslae bespeur word, is dat sowat 10% meer dogters as seuns die matriekeksamen vanjaar geslaag het.

Leerders wat nou hul matrieksertifikate en/of universiteitsvrystelling verwerf het, moet besef dat dit die begin van ’n nuwe lewensfase is. Die uitdaging is nou om werk of toegang tot naskoolse opleiding te kry om hulle verder te bekwaam vir hul beroepe. Leerders wat nie suksesvol was nie, moet ook ander opleidingsopsies oorweeg, veral waar daar vaardighede en ’n vakleerlingskap aangeleer kan word. Daar is groot tekorte in bedrywe waar vakleerlingsvaardighede gebruik word, en daar bestaan goeie loopbaangeleenthede vir mense wat bereid is om hulself daarin te laat oplei.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top