2015, Internasionale Jaar van Lig: ’n besinning oor Goethe se kleureteorie

  • 0
Die Verenigde Nasies het 2015 as die Internasionale Jaar van Lig verklaar met die doel om bewustheid oor die belangrikheid van lig en die toepassings daarvan in die moderne samelewing aan te wakker. Isaac Newton het ’n groot bydrae tot dié wetenskap gelewer deur te demonstreer dat wit lig deur ’n prisma in ’n kleurspektrum opgebreek word. In hierdie essay word die aandag gevestig op teenstand wat sy teorie uit ’n onverwagte oord gekry het. Goethe se alternatiewe siening van kleur word in die herinnering geroep en herwaardeer.
goethe_frocktalkphoto

Kunstenaarsvoorstelling van Goethe (foto: Frocktalk)

Johann Wolfgang von Goethe (1749–1832) is allerweë bekend as dié groot Duitse digter en skrywer, maar dit is minder bekend dat hy ook ’n besonderse belangstelling in die natuurwetenskappe gehad het. Hy is as staatsminister deur hertog Karl August aangestel en het verskeie reise in die Harzberge onderneem, waartydens hy myne inspekteer het en ’n groot belangstelling in die geologie en argeologie ontwikkel het.

Hy het hom veral besig gehou met  optika (sy kleureteorie) en die bestudering van die anatomie, soölogie en botanie. Volgens Schöne (1999:61) het Goethe boeke bestudeer, vakjoernale gelees en met talle wetenskaplikes gekorrespondeer en in gesprek getree. Goethe het self verwys na die ongelooflike voordeel daarvan om in die tyd van groot ontdekkings te lewe. Hy het geglo: “Nur durch Aneignung fremder Schätze entsteht ein Großes” (“Slegs deur die toe-eiening van vreemde skatte ontstaan iets groots”)  (Schöne 1999:61).

Goethe het self sy kleureteorie as sy grootste wetenskaplike bydrae beskou. Reeds tydens sy reis na Italië het kleure hom gefassineer en in 1791 som hy die problematiek van skilder só op: “hoe om ’n skildery in te kleur om ’n bepaalde estetiese effek te behaal” (Wentzel  155).

kleurwiel

Goethe se kleurwiel (foto: wikipedia)

Isaac Newton (1643–1727) het ongeveer 100 jaar vroeër sy teorie van lig en kleur bekendgestel. Hy het ligbreking en die verskynsel dat wit lig wat deur ’n prisma skyn, ’n kleurspektrum vorm, ontdek. Goethe het Newton se teorie met hand en tand beveg en het vrugteloos “’n halwe leeftyd se geswoeg” (“die Mühe eines halben Lebens”) daaraan gewy om sy eie teorie te bewys. Goethe het Newton se eksperimente gekritiseer: vir hom was waarneming met sy eie sintuie belangriker as waarneming met instrumente. Hy was gekant teen die redusering van natuurverskynsels tot blote wiskundige uitdrukkings.

Reinhold Sölch (Sölch 1997; 1999) beweer dat, ten spyte van die kritiek wat Goethe se kleureteorie hom tydens sy lewe en selfs tot onlangs nog op die hals gehaal het, daar deesdae met nuwe oë na aspekte daarvan gekyk word. Goethe het Newton se teorie van ’n kontinue spektrum verwerp en het eerder ’n hipotese van kleurpare met geel en blou as die eenvoudigste “oerkleure“ voorgestel. Sölch wys daarop dat onlangse navorsing toon dat kleur nie in die lig of in die oog ontstaan nie, maar in die visuele sentrum van die brein. Die eerste diere kon net swart en wit herken. Deur evolusie het sig verder ontwikkel en vrugte-etende diere het die vermoë aangeleer om tussen groen (groenkleurige) vrugte en ryp (rooikleurige) vrugte te onderskei.

Cottrell (2005) bespreek die begrip innerlike lig soos deur Goethe in Faust en in van sy ander werke gebruik. Hy haal Goethe aan: “Die oog het sy bestaan aan lig te danke” (“Das Auge hat sein Dasein dem Licht zu danken”). Hy noem ook dat Goethe se belangstelling in die oog deur vriendskap met ’n oogarts aangespoor is en dat hy selfs die voordele van blindheid oorweeg het. Goethe het ook ’n kleurwiel ontwikkel en opgemerk dat die estetiese effek verhoog word as twee komplementêre kleure, soos purperrooi en groen, gesamentlik gebruik word.

Kötter (1998:585) bespreek ook die verskillende benaderings van Newton en Goethe en kom tot die gevolgtrekking dat kleur vir Goethe die innerlike aard van die mens met sy uiterlike verbind en so ook natuur met kultuur. Hy wys ook daarop dat ons deesdae terdeë bewus is daarvan dat kleurwaarneming ’n uiters komplekse verskynsel is en dat die fisiese metings nie maklik in die sintuiglike ervaring daarvan omgesit kan word nie. Toe Goethe hom op dié gebied begeef het, is geglo dat alle kleurverskynsels deur die optika en die fisika verklaar kon word. Goethe was dus reg deur op die kompleksiteit van kleurwaarneming te wys.

Takahashi (2002:247) wys daarop dat Goethe beweer het dat volmaakte lig geen kleure bevat nie. In die afwesigheid van soliede voorwerpe, duisternis of troebelheid bestaan daar nie kleure nie, maar as lig op ’n voorwerp inwerk en “teen die liggaam ly”, ontstaan kleurryke verskynsels. (“Doch als Licht auf Körper wirkt und ‘tut’ und am Körper ‘leidet’, kommen farbige Erscheinungen hervor”). Takahashi haal Goethe aan wat gesê het dat waar Descartes se slagspreuk “Ek dink, daarom is ek” was,  sýne was: “Ek voel en ek handel, daarom is ek.”

Ten slotte is dit duidelik dat Newton die natuurwetenskaplike benadering van die Verligting verteenwoordig. Goethe, daarenteen, verteenwoordig die romantiese beweging van die geesteswetenskappe. Kötter beweer dat Goethe vergeefs gepoog het om sy hipotese met behulp van eenvoudige demonstrasies te bewys. Vantevore het hy hom ook op die gebied van die botanie begeef en gesoek na die “oerplant” en probeer bewys dat die blaar die basiese oorsprong van alle plante is. Destyds het sy goeie vriend Schiller hom aangeraai om die saak daar te laat. Volgens Kötter sou Schiller, as hy toe nog gelewe het, Goethe ook aangemoedig het om die werk aan sy kleureteorie vroeër te laat vaar.

Bibliografie

Cottrell, AP. 2005. Nineteenth-century Literature Criticism: Johann Wolfgang Goethe (1749– 1832).

Kötter, R. 1998.  Newton und Goethe zur Farbenlehre. Deutsche Zeitschrift für Philosophie 46:585–600. http://www.philosophie.phil.uni-erlangen.de/lehrstuehle/mitarbeiter/publikationen_koetter/45NewtonGoethe.pdf.

Schöne, A. 1999. Das Kollektivwerk Faust – Mediziner und Naturwissenschaftler als Mitarbeiter an Goethes Weltspiel. Insel-Almanach auf das Jahr 1999: Johann Wolfgang Goethe zum 250. Geburtstag, ble 51–90.

Sölch, R. 1997. Biologisch-evolutionäre Farbetheorien: Neues Verständnis für Goethes Farbenlehre. Goethe-Jahrbuch 1997, Band 114, ble 277–84.

—. 1999. Goethe als missverstander Naturforscher. Der kleine Bund, 21 August 1999. http://www.farbenlehre.com/ goethe/ BUNDArtikel.htm.  

Takahashi, Y. 2001/2002. Goethes Farbenlehre und der Ausdruck der Natur. Goethe-Jahrbuch 2001/2002, Band 118, ble 247–59.

Wenzel, M. 1999. "Der Mensch kennt nur sich selbst, insofern er die Welt kennt" – Goethe und die Naturwissenschafte, Insel-Almanach auf das Jahr 1999: Johann Wolfgang Goethe zum 250. Geburtstag. ble 147- 170.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top