Bettina Wyngaard (1971–)

  • 1

Gebore en getoë

Bettina Wyngaard is op 15 Januarie 1971 in die Groote Schuur-hospitaal in Kaapstad gebore. Haar ma is Katie Wyngaard; haar pa Abie (Abraham) Wyngaard is oorlede toe sy 10 was. Sy het een broer, Hazlette, wat vier jaar ouer as sy is.

Bettina word groot in Grabouw in die Wes-Kaap, wat ’n betreklik klein dorpie is, dus het hulle as kinders sorgvry en baie beskermd grootgeword. Dit was ’n tipiese kleindorpse kinderlewe, in soverre as wat enigiets “tipies” kan wees, vertel Bettina (aan LitNet). “Ons het baie gespeel, met ’n groot groep vriende. My pa se siekbed (hy’t kanker gehad) en dood het natuurlik ’n radikale impak op ons lewe gehad.”

Sy begin haar laerskoolloopbaan by Pineview Primêr op die jeugdige ouderdom van vier jaar. “As gevolg van apartheidswetgewing moes ons skool, wat in die ‘wit’ area was, skuif. Die nuwe skool was te klein, en ek, en ’n klompie ander, moes toe na die ander laerskool, Kathleen Murray Primêr, oorskuif. Daar het ek my laerskool klaargemaak. Ek het hoërskool voltooi aan Groenberg Sekondêr. Al drie skole is in Grabouw. My gunstelingvakke was Afrikaans, Engels, en natuur- en skeikunde.”

Op hoërskool was daar drie taalonderwysers wat Bettina onthou: “Patty Carolus (ons het haar Patty C genoem) was my Afrikaans-onderwyseres in matriek. Dan was daar Becky Kennedy en Lisette Benson, beide Engels-onderwyseresse. Hulle drie het my aangemoedig. Patty C is al oorlede, maar ek het nog gereeld kontak met mev Kennedy en mev Benson.”

Haar liefde vir lees kom van haar pa af wat ’n leser was, en ook geskryf het. Hy het egter nooit gepubliseer nie, maar haar vroegste herinneringe is van hom wat vir haar en haar broer lees en stories vertel. Sy vertel aan LitNet dat sy ongeveer vier jaar oud was toe sy die magic van boeke ontdek het en dit was die begin van ’n lewenslange liefdesverhouding. “Boeke kan contraband wees, het ek ontdek die aand toe ek my neef Eddie se Swart Luiperd-fotoboekies onder my bed moes wegsteek om later skelm te lees. Net boeke met woorde is in ons huis toegelaat.”

In ’n onderhoud op "Conversations with writers" vertel Bettina dat sy altyd geskryf het, selfs op laerskool. Haar eerste stuk is in hulle skool se nuusbrief gepubliseer toe sy in graad 8 was.

Bettina matrikuleer in 1987 op 16-jarige ouderdom aan Groenberg Sekondêr.

Verdere studie en werk

In 1988 is Bettina na die Universiteit Stellenbosch, waar sy haar BA- en LLB-grade behaal. Sy het haar BA-graad behaal toe sy net 19 jaar oud was. Sy het in die regte gaan studeer omdat sy gedink het sy kan ’n verskil maak aan mense se lewens. Aan LitNet: “Eers later het ek besef dat daar ’n verskil tussen reg en geregtigheid is, en dat die een nie noodwendig na die ander lei nie.”

Sy verduidelik haar keuse van beroep ook aan Ilse Salzwedel in Rooi Rose (11 Julie 2016): "Ek het nog altyd ’n sagte plekkie vir die underdog gehad en gedink dat ek reg en geregtigheid kan laat seëvier deur ’n prokureur te word. Ná my studie aan die Universiteit Stellenbosch het ek lank in Grahamstad en daarna in Kaapstad gewerk. Ek het die stedelike gejaag en onpersoonlike manier waarmee mense mekaar behandel – soos ek dit veral in Kaapstad ervaar het – verfoei. Ek het byvoorbeeld ’n jaar in Kaapstad in ’n woonstelblok gebly en my bure nooit met ’n oog gesien nie. Tuinmaak in potte werk ook nie regtig vir my nie.”

In die vroeë 1990’s werk sy as ’n leerlingklerk by ’n regspraktyk op Grabouw en in die Strand. “Ek was die eerste vrou wat ’n regspraktyk op Grabouw begin het en dit was interessante tye. Mense het nie geweet hoe om my aan te spreek nie, en hulle het my aanvanklik ‘Meneer’ genoem, omdat hulle gewoond was aan mans wat prokureurs is.”

Van Grabouw is sy na Grahamstad in die Oos-Kaap waar sy JCE (Justice Centre Executive) van die Regshulpraad was. Op 29 was sy die jongste JCE nog.

Bettina praktiseer daarna tien jaar lank as vroueregteprokureur. Oor die feit dat die kwessie van vroueregte haar so na aan die hart lê, vertel sy aan LitNet: “Ek (...) was nog altyd omring deur sterk vroulike rolmodelle. Ek het vroeg opgelet dat dit vroue is wat die huis en die gemeenskap staande en kerngesond hou, maar daai rol word nie in die samelewing erken nie. Vroue moet altyd aan die agterspeen suip, en solank as wat ons terugsit, gaan niks verander of verbeter nie. Ek wil net my deeltjie doen om die bal aan die rol te hou.”

In Januarie 2007 begin sy as die nuwe direkteur van die Women’s Legal Centre (WLC) in Kaapstad werk. Hulle werk is om vroue bewus te maak van hulle regte. “Baie maal besef vroue nie eers dat hulle sekere regte het nie,” het Bettina aan Elmari Potgieter (Die Burger, 1 Mei 2007) vertel. “Die WLC het nie ’n groot personeel nie – almal vroue – en hulle moet grondverskuiwende sake aanpak van vroue regoor Suid-Afrika.”

Daarna is sy aangestel as koördineerder van die Anglikaanse Kerk se kantoor vir geslagsgelykheid op Somerset-Wes.

Nadat sy ’n aantal jare weg was van Grabouw, trek sy terug soontoe. Haar familie is nog almal daar. En sy skryf nou voltyds.

Deesdae is sy ’n regskonsultant wat kerke, nieregeringsorganisasies en ander instellings adviseer. “My maatskappy se naam is Colui Consultants. ‘Colui’ is Latyn vir die voorbereiding en omdolwe van grond sodat dit bemes en beplant kan word," vertel sy aan Ilse Salzwedel.

In 2009 word Bettina se eerste boek, Troos vir die gebrokenes, by Umuzi gepubliseer. Op ’n vraag op Conversations with writers oor hoekom sy besluit het om ’n gepubliseerde skrywer te word, antwoord sy dat dit nie soseer ’n besluit was nie, maar eerder ’n drang om terug te keer na skryfwerk. “I write mostly in Afrikaans, but have never felt comfortable with the Afrikaans literature that is available out there. I felt it did not really reflect my reality, with the result that I read mostly English. Eventually, I realised that instead of complaining and bemoaning the lack of fiction reflecting my reality, I could be the voice telling those unheard and untold stories. So, I identified a story and a milieu that I could identify with, and that isn’t really portrayed in literature, and started writing.

“There is very little fiction written in the sometimes very informal Afrikaans used inTroos vir die gebrokenes, addressing the issues that affect ‘real’ people. The language in most Afrikaans books is often stilted and formal, so that it leaves the reader uncomfortable, as if something is missing. I found it difficult to relate to those characters.”

Omdat Random House (met Umuzi as deel daarvan) nog altyd bekendgestaan het as ’n uitgewer van uitstekende materiaal en Bettina saam met hulle wou werk, het sy nooit ’n ander uitgewer oorweeg nie. Oor die voordele om haar werk by Umuzi uit te gee, sê sy dat om saam met so ’n toegewyde groep mense te werk, haar gedwing het om die gehalte van haar werk voortdurend te evalueer. “Having an ego, or being possessive of one’s work, is not even an option!”

Bettina wou graag self lees oor mense in wie sy háár herken, oor ’n werklikheid waarmee sy haar kon vereenselwig. Of stories oor die “kleinstes” wat, ondanks smaad en onreg, groter as die eie ek kon word. Hulle wat gewoonlik ongesiens en onbesonge die helde in hul gesinne, families en gemeenskappe is.

Maar sy kon dié verhale nie in Afrikaans vind nie – het selfs opgehou Afrikaans lees, sê sy aan Rapport (7 Julie 2009). Toe gaan sit sy en skryf vyf maande lank aan die soort verhaal wat sý wou lees – in die sosiaalbetrokke-tradisie van Amerikaanse skrywers soos Toni Morrison, Alice Walker en Maya Angelou.

Ná nog ’n paar maande se skaaf en oorskryf verskyn Troos vir die gebrokenes by Umuzi. Die boek getuig van fyn waarneming en dit is geskryf in beeldende taal wat vertel van mense van vlees en bloed. Die leser ervaar ’n gevoel van bekendheid teenoor die karakters. Die tonele het ’n diep impak op die leser wat "soms jou hart laat tuimel en elke nou en dan die lag in jou laat opborrel".

“Ek wou ’n boodskap van hoop oordra, dat daar tog ’n groot stuk goedheid in die lewe is, dat ’n mens selfs te midde van pyn en nood nog kan stilstaan en lag,” sê Bettina (Rapport). “Ek dink nie dis noodwendig ’n bruin ervaring nie; dis ’n universele ding. ’n Mens kán jou ingesteldheid kies.

"En in die dae waarin baie hoop verloor, wou ek ’n verhaal van hoop vertel. Ek wou ’n verhaal vertel oor hoe ’n vrou, ten spyte van die slaanmerke aan haar lyf en die seerplekke aan haar gees, se siel innerlike krag kan kry. Troos vir die gebrokenes bied ook ’n blik op die geskiedenis van ’n gemeenskap waar die vrou sterker moet wees as wat hulle dink sonder dat daar afbreuk aan die man se selfbeeld gedoen word. Dit is die storie van ‘n gemeenskap waar mense nog omgee vir mekaar – waar hulle by die naaste winkel die boek kan koop en waar hulle vir mekaar nie net kos nie, maar ook gebede aandra."

Aan Ilse Salzwedel in Rooi Rose verduidelik sy: “Die uitdaging was om bruin karakters te skep wat drie-dimensioneel is en wat oor die hele spektrum van ras, geslag en dies meer met lesers kan praat.”

Troos vir die gebrokenes se aanvanklike titel was Sieraad vir as en Minnie Lewis meen op LitNet dat die uiteindelike titel wel baie meer toepaslik is en dat dit geloofwaardigheid aan die verhaal verleen, want dit spreek van eerlikheid deurdat dit gaan om “troos” en die tog na “heelmaking”.

Bettina het die frase “sieraad vir as” geneem uit Jesaja 61:1–3, die Bybelgedeelte wat voor in die gepubliseerde Troos opgeneem is, vertel sy aan Rapport (7 Julie 2009): “Ek werk daagliks met mense wat met geweld en onreg saamleef, dit in ’n mate aanvaar en steeds met waardigheid uit die as probeer opstaan. Dit is mense vir wie ‘die ander wang draai’ so deel van hul leefwyse is dat hulle nie tob oor hoe hulle tekort doen nie. Hulle dissekteer of analiseer nie hul ervarings nie.”

Vir Stoffel Cilliers (Volksblad, 8 September 2009) is Troos die verhaal van ’n groep mense wat bitter swaarkry en wat eintlik enige plek ter wêreld bymekaargegooi kon gewees het. Dit speel af op Grabouw, Bettina se tuisdorp, en dus kon sy die hoofkarakter, Frieda Daniels, baie goed uitbeeld.

Frieda is die “voorvrou” of toesighouer van die pakkers in die appelfabriek. Sy woon in ’n beknopte tweeslaapkamerhuisie saam met haar man, John, drie volwasse kinders en haar dogter Lilly se buite-egtelike seuntjie. Elke naweek is John dronk en rand hy Frieda wreed aan – soms baie wreed – en hy verkrag haar selfs. Frieda kom tot die besef hulle samelewing “het sterk vroue nodig, want die Vader weet, die mans is vrot verby” (36).

Daar is etlike vroue in die roman wat verbete veg om hulle menswaardigheid te behou en ’n poging aanwend om nie platgetrap te word bloot omdat hulle vroue is nie.

Die 75-jarige antie Mina, wat Frieda grootgemaak het, is een van die kleurryke karakters in die boek. Sy is ’n ware matriarg wat haar deur niks en niemand laat onderkry nie. Sy is “’n tawwe ou vrou wat danig trots is daarop dat sy haar opleiding in die College of Knowledge, soos sy die lewe noem, gekry het” (124). Oom Charles, ’n sjarmante man, gooi sy flikkers vir ant Mina, maar aan die begin wil sy van niks weet nie. Maar ’n baie mooi en fyn verhouding ontstaan tog later tussen die twee bejaardes.

Vir Stoffel Cilliers is die dialoog wat so lewensgetrou is, beslis ’n positiewe punt van die roman. Die karakters is oortuigend uitgebeeld, maar hy het tog gevind dat sodra die skrywer meer vertel van wat gebeur, die spanningslyn ietwat verslap. Dit is egter ’n boek wat gelees moet word en een waaruit in krisistye geput kan word. Die skrywer se gebalanseerde lewensuitkyk vind neerslag in die boek. So ook die oortuigende geestelike inslag. Dit alles wys dat die skrywer erns het om met haar roman self gemeenskapsdiens te verrig. En daarin slaag sy beslis.

Hierdie roman openbaar die werklikheid van die lewens van ’n groepie Afrikaners wat mense al vergeet het: die bruin huurwerkers in die Overberg. Wyngaard se verhaal bied die leser ’n blik op die lewens van hierdie gemeenskap, maar terselfdertyd beeld dit ook ’n universele gegewe uit deur haar karakters wat besluit het om nie net hul lot gelate te aanvaar nie, maar om iets daadwerkliks daaraan te doen.

Wyngaard se ­roman laat Riana Scheepers (Die Burger, datum onbekend) “dink aan ’n handgemaakte ­lappies­­­kom­bers, ’n vertroude en geliefde troosding wat nie met duur of ingevoer­de lappe aan ­mekaar gewerk is nie, maar een wat ontstaan het uit al die los­lappies van ’n menslike bestaan”

Minnie Lewis (LitNet) skryf dat veral kwessies soos mishandeling, drankmisbruik, werkloosheid, armoede en misdaad na vore kom in Troos vir die gebrokenes. Johan se fisieke mishandeling van sy vrou is die belangrikste tema van die boek. Ook verkragting binne huweliksverband word onder die loep geneem. Daar is ook die “stille mishandeling” waaronder veral Lilly moet deurloop aan die hand van Ben, die vader van haar buite-egtelike kind. Frieda en Lilly verduur hierdie mishandeling net tot op ’n punt waar hulle besef dat net hulle verantwoordelikheid kan neem vir hierdie mishandeling en dat hulle self daaruit moet kom. “Die besef dat die troos waarna hulle as gebrokenes smag, in hulle eie ‘hande’ lê en dat hulle die wilsbesluit moet neem om die mishandeling stop te sit, is beide bevrydend en troostend,” skryf Lewis.

Troos vir die gebrokenes is só hoog aangeskryf dat dit in 2010 bekroon is met die Jan Rabie-Rapport-prys vir nuwe, vernuwende prosa en ook in 2010 die toekenning vir debuutteksskrywer by die Woordfees met Karin Brynard gedeel het.

Vir Bettina was Troos vir die gebrokenes ’n "hartsboek waarin sy stem gegee het aan ’n realiteit wat nie in Afrikaans beskryf word nie: die armoede, misdaad, mishandeling, werkloosheid en troosteloosheid wat ’n mens so baie in die bruin gemeenskap aantref".

Haar karakters in Troos sê dit is in orde om met jou godsdiens en geloof te worstel, sê Bettina in Rapport. “Die karakters het soveel deurgemaak dat hulle verby die punt is waar hulle nog pretensies het. Ek dink almal van ons worstel in ’n stadium met geloof, maar nie almal van ons het die vrymoedigheid om dit te erken nie. Maar my karakters staan nie lank hierby stil nie, hulle is te besig om te lewe, om te doen wat hulle moet doen. Hulle het nie tyd vir navel gazing nie.

“Ek dink die intellektualisering van goed soos of ’n vrou haar eie besluitinge kan en mag neem, is ’n luukse wat slegs mense beskore is wat nie met brood-en-botterkwessies hoef te struggle nie. Dis maklik om debatte te voer oor feminisme of kultuur of godsdiens as jy ’n dak oor jou kop het, kos op jou tafel, geld in jou beursie, of – wat vir Frieda ’n groot ding sou wees – ’n warmwaterkraan in ’n badkamer.”

Dit was egter nie die storie wat Bettina met Troos vir die gebrokenes wou vertel het nie, maar van die baie Friedas wat deur hulle pyn en lyding die pad na heel wees en na hulself teruggevind het. En van al die Friedas wat wéét dat hulle hul eie mens kan wees.

In 2013 word Vuilspel (Umuzi) uitgegee en word Bettina op die Woordfees van 2013 as Woordkunstenaar vir 2013 aangewys vir haar gesprek met Desmond Painter oor haar speurroman Vuilspel.

Madri Victor skryf (Maandblad Zuidafrika) dat op die oppervlak dit nie lyk of Bettina misdaadfiksie sou kon skryf nie. Daar is ’n sagtheid aan haar wat misleidend is, ‘n tipe ambivalensie. Sy erken self dat sy ’n “dromer en ‘n aktivis” is: “Ek vermoed alle aktiviste droom van ’n beter wêreld.” En deur haar skryfwerk wil sy ontslae raak van dit wat in die pad van daardie beter wêreld staan.

Vuilspel is ’n boek wat oor “die kwessie van korrektiewe verkragting, die seksuele aanval op ’n gay vrou wat geteiken is weens haar seksualiteit” handel, sê sy aan Madri Victor. Hierdie is nie ’n maklike of gemaklike tema nie, maar een waaroor Bettina baie sterk voel: “Ek het ’n hele paar jaar gelede ’n dokumentêr oor korrektiewe verkragting op televisie gesien. Ek het nog nooit daarvan gehoor nie. Eers toe ek begin navorsing doen, het ek besef dat gay vroue, veral in townships, met die daaglikse vrees lewe dat hulle aangeval gaan word omdat hulle gay is. Die stigma rondom seksualiteit is ook so diepgesetel dat hulle nie die vrymoedigheid het om aan te klop by beskerming- en hulpdienste nie. Wanneer hulle wel hulp soek, word hulle nie met simpatie hanteer nie. En daar is hierdie dawerende stilte – niemand praat daaroor nie, niemand spreek die oortreders aan nie, die aanvalle word grootliks toegesmeer. Ek wou iets daaromtrent doen.”

Vuilspel het lesers daadwerklik laat kennis neem. ’n Bruin gay vroulike speurder maak die eerste keer haar verskyning in die Afrikaanse letterkunde. Ook die lesbiese tema is nog nie na behore ontgin nie. Vuilspel se kommentaar op regstellende aksie, bendegeweld en die onbegrip en verstoting van lesbiese vroue is skerp en op die man af.

“Kwessies van sosiale geregtigheid lê my na aan die hart,” sê Bettina toe Victor haar daarna uitvra, “en ek probeer om verhale te vertel wat nie net vermaak verskaf nie, maar wat ook die leser se sosiale bewussyn aanwakker. Wanneer ’n leser die laaste bladsy van die boek lees, hoop ek dat dit hulle ’n bietjie aan die dink gesit het, en hulle horisonne ietwat verbreed is. Daar is ’n plek vir edutainment, ook in die literêre wêreld, glo ek.”

Maar ’n skrywer hóéf nie sosiale kommentaar te lewer nie: “Daar is plek vir ligte vermaak, vir politieke satire, en vir filosofiese nadenke in die literatuur. Misdaadfiksie was die een genre wat regtig sin gemaak het om Vuilspel in te klee. Op ’n meer persoonlike vlak het dit my ook toegelaat om bietjie afstand van Troos vir die gebrokenes te bekom. In baie opsigte wys Vuilspel ’n mate van groei in my werk as skrywer. Ek hoop dat Vuilspel die kollig skyn op ’n leefwêreld waarvan lesers moontlik voorheen onbewus was. Met die navorsing vir die boek het ek egter besef dat jong swart gay vroue nie ’n homogene groep is nie, en dat daar nie een enkele ‘stem’ is nie.”

Bettina se meelewing met diegene wat op die rand van die gemeenskap lewe, dié wat nie gehoor word nie en daaronder ly, tree baie sterk na vore in beide Troos vir die gebrokenes en Vuilspel. Sy draai nie doekies om as dit kom by die ingewikkeldheid van die probleem nie en benader haar temas van verskillende kante. In Vuilspel word die aaklige wêreld van bendegeweld en die diskriminasie teen vroue sterk na vore gebring. Ook word die gemeenskap se wantroue in die polisiestelsel voorop gestel en die probleme met interne politiek word ook ondersoek. Sy hanteer die invloed wat trauma op vriende en familie van ’n slagoffer het en hoe mense die trauma verwerk, baie sensitief. Ook die kerk se houding teenoor gay vroue word op ’n subtiele manier betrek.

Wat die tema en hoofkarakter betref, is Vuilspel belangrik en uniek in Afrikaans, maar een waaroor Bettina heel beskeie is teenoor Madri Victor: “Ek dink elke skrywer, elke woordsmid, se waarheid en werklikheid is uniek aan daai persoon.”

In Vuilspel word die leser weer gekonfronteer met Bettina se skerp, maar deernisvolle sosiale bewussyn, skryf Annemarié van Niekerk. Met hierdie boek plaas sy haar leser in die middel van die wêreld van misdaad, wat een van die ingewikkeldste vraagstukke van die samelewing in Suid-Afrika is.

Bettina ontsien niks en niemand in Vuilspel nie, skryf Van Niekerk. Dit sny regstellende aksie aan, en raak aan korrupsie en misdadigheid in die regering, en Bettina skryf ook oor ’n regstelsel wat soms nie geregtigheid kan waarborg nie. Soos in Troos vir gebrokenes is sterk vroue ook in Vuilspel aan die orde van die dag – hier met lesbiese vroue. Ook hieroor skryf Bettina met groot gemak.

Die hoofkarakter is kaptein Niccie, die ondersoekbeampte na ’n bloedige misdaadtoneel in Khayelitsha, wat die openingstoneel van die storie is. Die leser word dus dadelik binne-in die verhaal geplaas, asook binne-in ’n egte Suid-Afrikaanse dilemma. Vir Van Niekerk is daar egter iets hinderlik aan die deels geslaagde openingstoneel. Dit was vir haar net té toevallig dat die slagoffer, Thandi, ’n vriendin van Nicci is. Die hinderlikheid word later deels uit die weg geruim wanneer dit blyk dat die mans wat by Thandi se moord betrokke is, lesbiese vroue geteiken het om hulle vir hulle seksuele voorkeure te straf. Nicci en Thandi is albei deel van so ’n lesbiese groep vriende.

Die manier waarop Wyngaard hierdie vriende beskryf, bring mee dat die leser maklik met hulle kan identifiseer. Vir Van Niekerk was dit verfrissend om ’n speurroman te kry wat hierdie onderwerp met soveel gemak en soepelheid kan hanteer, maar terselfdertyd ook die probleme waarmee lesbiese vroue te doen kry, uitbeeld. Op ’n subtiele manier word die kerklike milieu ook hierby ingetrek, aangesien Nicci verlief is op Sally, ’n priester in die Anglikaanse kerk. Interessante vrae ontstaan oor die rol van die kerk teenoor die vrou en veral die lesbiese vrou.

Vuilspel maak geen aanspraak op literêre meriete nie. Die ontwikkeling van die karakters is nie baie diepgaande nie en die struktuur en die styl is nie kompleks of verfyn nie. Dit is ’n gewone, lekker-geskrewe Afrikaanse speurroman wat maklik lees.

Van Niekerk spreek die hoop uit dat die vreeslose manier waarop die skrywer sensitiewe sosiale kwessies aansny, nie die boek gaan diskwalifiseer as dit by die voorgeskrewe mark vir skole kom nie. Dit is die perfekte boek om jongmense se sosiale bewussyn aan te wakker, aangesien dit nie baie gebeur dat daar in ’n Afrikaanse boek wit, bruin, swart, hetero- en homoseksuele karakters, asook gekultiveerde verstedelikte mense en mense wat nog vashou aan byvoorbeeld die tradisionele Xhosa-kultuur, voorkom nie.

Joan Hambidge (op LitNet) sien Vuilspel as ’n misdaadroman waarin haatmisdaad onder die loep kom. Sy het die boek “met verbystering” gelees. Die nuus wat ’n mens elke dag in die koerante lees, word hier in ’n onemosionele en spannende toon in storievorm oorgedra. Dit laat die leser ’n gemeenskap beter verstaan en ook hoe mense op ’n moord reageer.

Kaapstad en omstreke word lewensgetrou geskets en die invloed van die media wat in ’n ondersoek kan inmeng, word ook nagespeur. Hambidge beskryf Vuilspel as ’n boek met ’n “snelle pas”. Jy lees om agter die storie en die soektog te kom om die oplossing te kry. Daar is wraak en weerwraak en die sogenaamde “kangaroo courts” en die taalgebruik is lewensgetrou.

Marida Fitzpatrick is nie heeltemal so vleiend oor Vuilspel in haar resensie in Beeld (11 Februarie 2013) nie. Sy skryf: “Emosionele en fisieke geweld teen gay vroue in veral swart en bruin gemeenskappe in Suid-Afrika is baie aktueel. ’n Misdaadroman is ’n goeie manier om dié relevante onderwerp te belig, maar geen goeie saak of samelewingsprobleem is op hul eie sterk genoeg om ’n hele roman te dra nie. Die karakters, dialoog, spanningslyn en intrige moet die roman regverdig, nie die tema nie. En dis waar Vuilspel ernstig tekortskiet.”

Fitzpatrick beskou die karakters as te eendimensioneel. Die lesbiese vroue word uitgebeeld as feitlik foutloos en edel met geen konflik tussen hulle nie. Al konflik wat voorkom, is dié met die wrede en onverdraagsame buitewêreld. Ook is die dialoog vir Fitzpatrick stokkerig en nie geloofwaardig nie. Die paar Engelse woorde wat tussenin gebruik word in ’n oënskynlike poging om dit meer lewensgetrou te maak, laat die stywe Afrikaans nog formeler lyk.

Die storie wil ook nie regtig aan die gang kom nie, en al wat gemaak het dat sy verder wil lees, is die romanse tussen Niccie en Sally. Daar is talle taalslordighede aanwesig en dan sluit Fitzpatrick af met: “Wyngaard het te veel gesteun op die oorspronklikheid van Vuilspel se tema en nie genoeg gedoen om die leser ook met volronde karakters, lewensgetroue dialoog en lekker intrige te boei nie. ’n Aktuele tema alleen kan nie ’n roman red nie.”

In Tydskrif vir Letterkunde (50(2):2013) is Jacomien van Niekerk meer positief, en vir haar lewer Vuilspel ’n belangrike bydrae nie net tot die Afrikaanse speurverhaal nie, maar tot Afrikaanse literatuur in die breë as gevolg van die aktuele temas wat dit aansny. Lesbiese karakters, en veral bruin lesbiese vroue, was tot nog toe ’n tema wat nie baie aangepak is in die Afrikaanse letterkunde nie, en die hantering daarvan in Vuilspel is veelkantig. Die uitbeelding van die wisselwerking tussen die verskillende rasse en tussen Westerse en Afrikaïese opvattings kan ook van nader ondersoek word.

Dit is hierom dat Van Niekerk opgewonde geraak het oor die nuwe rigtings wat Afrikaanse boeke kan inslaan. Heelwat kritiek kan teen die roman ingebring word, maar ten spyte van alles wil sy tog lesers sterk aanmoedig om Vuilspel te lees en deel te word van ’n unieke leeservaring.

In Rapport van 2 Mei 2010 skryf Bettina in ’n artikel getiteld “Uit stigma ’n nuwe lewe vir Afrikaans” datboeke ’n belangrike rol in haar lewe speel: “Things Fall Apart, A Thousand Splendid Suns, en The Kitchen God’s Wife, het my waardering gegee vir die skoonheid wat daar in diversiteit skuilhou.

“Die subtiele, amper subversiewe manier waarop Animal Farm en Unbearable Lightness of Being politieke kommentaar lewer, het my geleer dat boeke nie net vermaak nie, hulle sit my aan die dink en stoei om my menings te verander.

“Soms kom daar ’n boek wat my aan die strot gryp, my hele wêrelduitkyk holderstebolder gooi en my verbysterd laat. Daai tipe boeke, soos Thoreau se Walden, gee my met elke herlees iets nuuts om te oordink. Maar die boeke wat die grootste indruk maak, is dié wat ’n ongemaklike krapperigheid in my help verwoord. Dit bring daai vae, byna verskuilde, dikwels semi-bewuste ongedurigheid na vore en sorg dikwels vir my waarheidsmomente.”

Sy het lank nie Afrikaanse gelees nie, omdat iets, en sy kon nie woorde daarvoor vind nie, haar onvergenoegd gelaat het. Aanvanklik het sy gemeen dat dit miskien die verhaallyn of skryfstyl kon wees, of dalk iets anders, maar wat dit ook al was, sy het eerder Engels gelees. Later het dit tot haar deurgedring dat die karakters se Afrikaans wat hulle met mekaar praat, vir haar kunsmatig en nie ongedwonge klink nie. Sy wou iets lees wat nader aan die lewe is, maar sy kon nêrens so iets kry nie.

Toe ontdek sy Covering: the hidden assault on our civil rights, wat deur ’n Japannees-Amerikaanse professor, Kenjo Yoshino, geskryf is en dít het “daai klip in my skoen ’n naam gegee”.

“In Erving Goffman se woorde, soos aangehaal deur Yoshino: ‘It is a fact that persons who are ready to admit possession of a stigma (in many cases because it is known about or immediately apparent) may nonetheless make a great effort to keep the stigma from looming large ... This process will be referred to as covering.’

“Male sonder tal was ek al in die geselskap van ’n groep bruin mense, met die gewone spontane gesels, onderlinge gespot en gekraai. Dan lui een se telefoon, en die onmiddellike verandering in stemtoon, manier van praat, en die soort taal wat gebruik word, laat my voel asof ek mental whiplash het. Dit klink asof die persoon wat nou nog so lekker in Kaaps oor haar kroes hare kon spot, ’n gedaanteverwisseling ondergaan het. Baie keer is die persoon heeltemal onbewus van wat sy doen. Die eise van covering is al geïnternaliseer.

“Dis dieselfde onding wat ek in boeke sien. My ongemak het gekom omdat ek die covering herken, maar dit nooit kon verwoord nie. Dit verklaar hoekom ’n leser hulpvaardig teenoor my kon opmerk dat die beskrywings in my boek baie mooi is, maar my karakters praat so lelik. Hulle praat soos bruin mense, sien.

“Dit verklaar ook vir my hoekom die debat oor die ‘verwatering’ van die taal soveel emosies ontketen. Van ’n hele groep Afrikaanssprekendes word vereis dat hulle moet cover, hul bruinheid en hul unieke, pragtige manier van met die taal omgaan, moet onderdruk. Standaard-Afrikaans, ’n mitiese dier wat lankal nie meer bestaan nie, word as die ideaal voorgehou. Die implikasie, hoewel niemand die moed het om dit ooit in woorde te sit nie, is: ‘My manier is beter as joune.’ Dis waar die herrie losbars, want wie besluit wat is beter?

“Afrikaans is tog ’n opwindende, veranderende taal wat deur ’n diverse groep mense met groot entoesiasme gepraat word. En miskien, as sommige voel hulle hoef nie heeltyd te cover en askies te vra vir hoe hulle met die taal omgaan nie, sal meer mense Afrikaans as hul taal eien.”

Bettina is ’n trustee van Anglican Aids and Healthcare Trust, ’n nasionale organisasie wat met mense, en veral kinders, wat deur MIV geaffekteer en daarmee geïnfekteer is, werk. Sy doen ook op vrywillige basis hulle regswerk. In haar tuisdorp is sy betrokke by Dare to Care, ’n voedingsprogram in een van die plakkerskampe. Hulle werk ook met kinders. Al twee hierdie programme is baie na aan haar hart.

Bettina is deesdae ook baie betrokke by PEN Afrikaans en is die ondervoorsitter van hierdie liggaam.

As lid van PEN Afrikaans is sy nou betrokke by die projek Trippel 7. Met hierdie projek neem hulle sewe skrywers vir sewe dae deur sewe Noord-Kaapse dorpies waar hulle skryfkursusse in kreatiewe skryfwerk aanbied aan gewone mense sodat hulle verhale gepubliseer kan word.

Sy vertel aan Naomi Meyer: "Statistieke dui daarop dat 60% van Afrikaanssprekendes bruin en swart is, maar ons sien bitter min swart en bruin mense se verhale wat in Afrikaans gepubliseer word. Trippel 7 wil dit probeer verander. Dis ’n lekker groep woordkunstenaars wat op die road trip gaan, en ons hoop om stories te sien verskyn wat mense se trots in hulle moedertaal sal versterk.

"Ek is baie opgewonde oor die projek – ek hoop dat dit die persepsies oor wie Afrikaans besig, aansienlik sal verander. Dis ook ’n projek wat die krag van vennootskappe belig. Ons kry befondsing van PEN International en Unesco, en ons werk saam met die ATKV in die Noord-Kaap."

Sy geniet fotografie, skaak,l en tyd in die natuur en met diere deurbring.

Bettina is in wese ’n gemeenskapswerker en -aktivis. Vir haar is haar godsdiens – God, geloof, kerk en moraliteit – baie belangrik, maar nooit sal sy prekerig of moraliserend wees nie.

Die 2010-Wêreldbekersokkertoernooi was die stimulus vir Slaafs, wat in 2016 gepubliseer is. “’n Aantal organisasies het kragte saamgesnoer om ons vroue en kinders te beskerm en bewusmakingsveldtogte oor mensehandel gevoer. Ek het daaroor begin nalees en artikels oor die verskynsel vir die plaaslike gemeenskapskoerant geskryf – ek het veiligheidsmaatreëls ook ingesluit sodat mense hulle teen mensehandel kan beskerm. Ek kon nie met die slagoffers praat nie, maar kon wel gesels met die aktiviste en mense wat met slagoffers werk,” vertel sy in ’n onderhoud met Ilse Salzwedel.

Die kwessie van mensehandel lê Bettina baie na aan die hart. “Ongelukkig skep die huidige vlugtelingkrisis wat ISIS in Turkye en Sirië veroorsaak, die ideale omstandighede vir mensehandel. Enige plek waar daar onrus is, soos oorloggeteisterde lande, of lande in ’n swak ekonomiese toestand, is ’n sagte teiken. Mense word na ’n ander land gelok met beloftes van ’n beter lewe. In Italië, waar daar gespesialiseerde organisasies werk om mensehandel te bekamp, reken hulle dat daar maandeliks sowat drieduisend mense die land onwettig binnekom, baie van hulle die slagoffers van mensehandel. In Amerika is dit so ’n groot probleem dat daar sedert Februarie vanjaar ’n program is om lugwaardinne op kommersiële vlugte op te lei om op die uitkyk na moontlike slagoffers te wees.

“Daar is jaarliks minstens 800 000 slagoffers wêreldwyd en 34% hiervan is kinders. Kinders tussen agt en twaalf is die grootste risikogroep. En dis nie net vroue wat teikens is nie. Mans en kinders word ook verkoop. Mense word verkoop om as arbeiders of seksslawe te werk, vir gedwonge huwelike, of sodat hulle organe verwyder en verkoop kan word. Sommige slagoffers word selfs vermoor sodat hul liggaamsdele as moetie verkoop kan word.”

Met Slaafs, wat ook ’n misdaadverhaal is, raak Bettina dus weer ’n onderwerp aan waaroor daar nog maar min in Afrikaans geskryf is. Sy vertel aan Naomi Meyer op LitNet dat hoewel die titel verwys na die handel in mense of wit slawerny, dit ook “’n woordspeling (is) op hoe onnadenkend een persoon ’n ander, of ’n idee/ideologie kan navolg sonder om dit wat jy glo of doen te bevraagteken – tot so ’n mate dat jy ambiguous goed begin doen".

In die boek ontmoet die leser vir Nicci de Wee en Blackie Swart, met ’n paar nuwe karakters wat by hulle aansluit. Hulle moet die moordenaar vind waarvan die liggaam gebrandmerk is. En dit is in die loop van hierdie ondersoek dat hulle uitvind dat daar vroue uit oorloggebiede wêreldwyd in Suid-Afrika as seksslawe verkoop word.

Omdat die genderkwessies iets is wat tot Bettina spreek, was die inspirasie agter Slaafs die feit dat vroue so weerloos is in hierdie tyd van oorlog en die landsgrense wat as gevolg daarvan so "poreus" geword het. Dít dra alles daartoe by dat vroue geweldig uitgebuit en oorgelaat word aan mense wat gewetenloos is. Sy verduidelik verder aan Meyer: "Hulle is onveilig in hulle tuislande, en moet ongelooflike risiko’s neem om veiligheid te probeer bereik. Met soveel mense aan die beweeg is dit maklik om te verdwyn en niemand soek ooit na jou nie. Ek wou die lig werp op die horror wat soveel vlugtelinge deurmaak. Ek het die verhaal begin skryf voordat die vlugtelingkrisis so prominent geword het, maar die verhaal kom op absoluut die regte tyd uit."

Vir Deborah Steinmair is Slaafs selfs meer boeiend as Vuilspel. Sy skryf in Rapport: "Kaptein Nicci de Wee, onverskrokke dog weerlose vrou is weer in die saal; aan haar sy is haar getroue Sancho Panza, haar kollega Blackie Swart. Daar is heelwat op die spel: Dit gaan oor mensehandel en prostitusie en die lewens van onskuldige jong vroue hang in die weegskaal. Dis ’n resies teen tyd en die leser blaai al vinniger om.

"Wat ’n vonds is Nicci de Wee nie vir die Afrikaanse spanningsverhaalgenre nie: ’n verkeerdeveer-, sensitiewe, rateltaai gay vrou wat haar lyf in die pad van koeëls gooi om boosdoeners aan die pen te laat ry.

"Nog ’n formidabele vrouekarakter maak haar buiging: dokter Gigi Gerber, feminis en verbete vegter teen slawesindikate. Daar is ’n ongemaklike vonkie tussen haar en Nicci – dit laat die wenkbrou van Nicci se lewensmaat, die priester Sally, lig.

"’n Tema is die (fisieke) broosheid van vroue en die gewetenlose wreedheid van sommige mans. Vroue word valuta in ’n vuilspel van hebsug en magsjagsheid. Dit gaan oor lywe: die ­'Jane Does' wat in vlak grafte in Khayelitsha aangetref word, ­gebrandmerk soos vee en met roos-en-kettingtatoes om hul enkels, die lywe van Gigi en Nicci wat deur boosdoeners geslaan, gebrand en op geskiet word. Dit gaan uiteindelik oor die onblusbare gees van gekneusde vroue soos laasgenoemde twee en Xenia of Almira, die jong Siriese vrou wat as prostituut-slaaf vol heroïen gespuit en gedurig opgemoker word weens haar ­astrante houding. (...)

"Die karakters is volrond, kompleet met sielkundige probleme en persoonlike dilemmas waaroor hulle nie praat nie, maar wat uit hul handeling duidelik word. (...) Wyngaard is bedrewe in die weef van storielyne; die leser is in goeie hande. Daar is min beskrywing, besinning of filosofering: Snaarstywe spanning en ­aksie vier hoogty, soos dit hoort in misdaadromans. Sy is ’n regsgeleerde wat duidelik deeglik ­navorsing doen oor polisieprosedure, forensiese kriminologie en die jongste tegnologie. Sy verstaan die menslike psige en mors nie met woorde nie.

"Daar is geen gebrek aan gekonkel, geknoei en grootskaalse rampokkery in ons land nie – volop materiaal vir skrywers. Ons beste Afrikaanse misdaadskrywers – en Wyngaard is beslis in hul geledere – staan dan ook geen tree terug vir hul internasionale eweknieë nie. Wat veral opval, is Wyngaard se trefseker hantering van spanning: Dit eskaleer tot haas ondraaglike vlakke, iets wat Deon Meyer laas so goed kon regkry. Slaafs stel nie teleur as boeiende metgesel deur ’n herfsnag nie."

Bettina vertel aan Naomi Meyer ook iets meer oor haar leessmaak. Sy lees "enigiets en als. As daar niks anders is, sal ek die agterkant van die ontbytgraanboks lees! Op die oomblik gaan ek deur ’n vampierfase, en ek lees als van Charlaine Harris en Laurell K Hamilton waarop ek my hande kan lê. Glad nie hogere literatuur nie, maar uiters entertaining!"

Bettina werk tans aan twee nuwe romans. “Die een is nog ’n speurverhaal met Nicci en Kie, en die ander ’n roman wat die wel en wee van ’n familie oor ’n tydperk van vyftig jaar uitbeeld.”

Publikasies

Publikasie

Troos vir die gebrokenes

Publikasiedatum

2009

ISBN

9781415200834 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Jan Rabie-Rapport­-prys vir vars, vernuwende prosa 2010

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Vuilspel

Publikasiedatum

2013

ISBN

9781415203873 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

 

Publikasie

Slaafs

Publikasiedatum

2016

ISBN

9781415207536 (sb)

Uitgewer

Kaapstad: Umuzi

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Artikels oor Bettina Wyngaard beskikbaar op die internet

Artikels deur Bettina Wyngaard beskikbaar op die internet

Bron:

  • Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 1

Kommentaar

  • Anthony Wilson

    Ek hou verskriklik baie wat ek hier lees! Die skrywer se ervaring is maar ons almal s'n wat nie jouself ooit in die Afrikaans literatuur herken of van lees nie. Dit is selfs waarom ons almal begin skryf het. Ek het groot respek vir enigiemand wat solank aan een storie kan skryf. Dit is waarom ek liewers drama skryf en vir 'n Fees is dit gewoonlik heel korter omdat julle op Feeste meer dramas in veskillende venues wil opvoer so jy word gevra vir 'n teks wat nie langer as 70-minute is nie.  Ek sal graag met die skrywer kontak wil maak. kan u dit dalk bewerkstelling?

     

    Ek dank u!

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top