2013 Feesprogram: NB-fees

  • 0

’n Klein lewe
Etienne Bloemhof praat met Wilna Adriaanse oor haar fassinerende verhaal van ’n middeljarige vrou wie se politieke bewussyn gevorm word deur ingrypende sosio-politiese veranderinge in die land. Kwessies rondom identiteit en die plek van mens binne die samelewing word bespreek.
4 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R40



Gilbert Gibson
Sewe is die getal van heiligheid, van voltooiing en vervulling, ’n volmaakte sirkel. Gilbert Gibson se vierde digbundel is ’n konfrontasie met die simboliese lading van die getal, ’n woordestryd teen die wete dat voltooiing die einde beteken, dat volmaaktheid noodwendig ook die dood impliseer. Francois Smith gesels met Gibson.
4 Maart 15:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Wilna Adriaanse

Chanette Paul
Francois Bloemhof gesels met Chanette Paul oor Labirint, haar spanningsroman wat die donker kant van die psige ondersoek, boosheid vind waar dit nie vermoed is nie en goedheid waar dit diep verborge lê. Hel en hemel op haar tipies eiesoortige manier.
4 Maart 12:00 | Erfurthuis | 50min | R40


Werkswinkel: Sanlam-prys vir Jeuglektuur
Tafelberg-Uitgewers se slypskool vir voornemende skrywers. Inskrywings vir die kompetisie sluit 30 Junie 2013. Besoek www.tafelberg.com vir meer inligting. Die aanbieder is Derick van der Walt, wat in 2011 ’n silwer toekenning ontvang het vir Hoopvol. Sy vorige boeke is Sanlamwenners en sy volwasse roman Daan Dreyer se blou geranium het onlangs verskyn.
4 Maart 16:00 | Erfurthuis | 120min | R60

Hartland
Dramaturg Deon Opperman het almal aan die praat gehad met sy kykNET-reeks Hartland oor die politiek van transformasie en verset. Kerneels Breytenbach, wat die reeks herskryf het in romanvorm, praat met Opperman oor die verwagtinge wat die nuwe genre stel.
4 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R40


 


Armblankes

Bun Booyens, redakteur van Die Burger, gesels met Edward-John Bottomley, skrywer van Armblankes, en met die bekende reisskrywer Dana Snyman, oor armblanke-gemeenskappe in Suid-Afrika en die reaksie wat hulle uitlok.
6 Maart 10:00 | Boektent | 50min | R40

Riana Scheepers

Die vrou in die vuur
Riana Scheepers is tuis in verskeie genres, maar die kortverhaal bly haar forté. Die vrou in die vuur toon haar liefde, artistieke beheer en intuïtiewe aanvoeling vir dié genre. Verhale in die versamelbundel markeer haar ontwikkeling as skrywer. Scheepers, nog altyd in sommige opsigte ’n omstrede skrywer, ís die vrou in die vuur. Andries Bezuidenhout lei die gesprek.
5 Maart 14:00 | Boektent | 50min | R50


Die tendens van die kookboek
Errieda du Toit gesels met kosskrywers Callie Maritz en Mari-Louis Guy (Markdag), Aletta Lintvelt (Weg! Naweekkos), Marlene van der Westhuizen (Oorvloed) en Emilia le Roux (Kos as dit knyp) oor die nuutste tendense in kookboeke en die kosbedryf.
5 Maart 15:00 | Boektent | 50min | R50

Melanie Grobler
Melanie Grobler verstaan die kuns om die leser los te maak van die aarde en die aardse. In Deur ruite van die reis word die reistema, geografies sowel as deur streke van die gees, verken. Zandra Bezuidenhout praat met Melanie oor die soeke na die ewig ontwykende betekenis van die gedig.
6 Maart 16:00 | Erfurthuis | 50min | R40


 

Samba-reise met Jeanne Els
Met Samba – reise met ritme en reënboë neem Jeanne Els lesers op ’n woordkunsdans deur verre lande. Danser Stephan Joubert sorg dat almal hul tango's van hul sambas kan onderskei. Kom vang ritme saam met Lux Verbi!
6 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R30 by die deur

 

Getuie
Douwleen Bredenhann gesels met Christine Barkhuizen-le Roux oor haar roman Getuie, ’n aangrypende verhaal oor aktuele kwessies soos die rol van ’n rigiede godsdienstige opvoeding in drie vrouens se lewens, die dood van ’n eggenoot en selfmoord.
7 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40


 

Die Afrikaanse Kortverhaalboek
Die sewende hersiene uitgawe van Abraham H de Vries se bloemlesing is die kortverhaal-barometer in Afrikaans. Die nuwe uitgawe sluit 133 verhale van 81 skrywers in oor ’n tydperk van byna 120 jaar. Willemien Brümmer vra Braam uit oor die jongste uitgawe. Gaan kyk gerus ook na die teaterstuk Smelt. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
6 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Marzanne Leroux-Van der Boon

Marzanne Leroux-Van der Boon
Die bekende skrywer van die Israel-reeks gesels met Lééf met hart en siel se redakteur Christine Ferreira oor haar jongste boek Lewensblik – Sketse oor die lewe. Luister hoe dié gewilde Lux Verbi-skrywer te werk gaan om ’n oomblik én ’n leeftyd tegelyk in een skets raak te vang.
7 Maart 12:00 | Boektent | 50min | R30 by die deur


 

As die Bokke nie wil cuddle nie
Radio-omroeper Johann Myburgh gesels met Marnus Hattingh, skrywer van As die Bokke nie wil cuddle nie: ’n Verstaan-mans-beter-gids. Joernaliste Sophia van Taak en Riette Rust kom gee die vroulike perspektief op dating, Meneer Reg en hoekom hy belangstelling verloor.
8 Maart 14:00 | Erfurthuis | 50min | R40

C’est la vie
Jeanne Els gesels met Lanie van Reenen, bekende in dekorkringe, oor haar nuwe boek C’est la vie. Kom hoor hoe genot en verlies deel was van haar besluit om ’n kasteel in Frankryk te koop en daarvan ’n toeristebestemming te maak.
7 Maart 16:00 | Erfurthuis | 50min | R40


 

Deborah Steinmair
Deborah Steinmair vertel vir Marion Holm van haar verbeeldingryke speurroman Die neus wat ook as swart komedie beskou kan word. Dié verhaal met sy fantasmagoriese oomblikke beweeg teen ’n vaart wat lesers sal meesleur en vermaak.
8 Maart 11:00 | Erfurthuis | 50min | R40

Jeanne Els

Mediterreense herinneringe
Dié bundel van André P Brink sluit aan by die 2012-keur uit sy reissketse Herinneringe aan Parys. Dit bevat die beste stories uit sy reistekste oor Italië, Spanje en die suide van Frankryk: Sempre diritto, Olé en Midi. Naas Steenkamp gesels met ons eie wêreldbekende skrywer. Verwelkoming: Dorothea van Zyl.
9 Maart 11:00 | Boektent | 50min | R50


 

Aan die stuur met Brand Pretorius
Arnold Smit gesels met bekende sakeleier Brand Pretorius oor sy boek en oor die lesse wat hy as leier en uitvoerende hoof van onder meer Toyota Suid-Afrika en die McCarthy-groep geleer het.
5 Maart 10:00 | Erfurthuis | 50min | R40

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top