Die voortbestaan van Afrikaans by UKZN

  • 1

Dit is absoluut skokkend dat nog ? Afrikaans-graadkursus aan ? Suid-Afrikaanse universiteit eersdaags sy laaste asem gaan uitblaas.

Die Universiteit van KwaZulu-Natal (UKZN) het onlangs bekend gemaak dat die doseer van Afrikaans as taal afgeskaal gaan word tot net eerstejaarsvlak. Dit sal ongetwyfeld lei tot die algehele uitskakeling van die Afrikaans-departement aan dié universiteit.

In die praktyk beteken dit Afrikaans se funksies op verskillende vlakke van die samelewing word verder gereduseer.

Dié nekomdraai van Afrikaans aan UKZN volg op die sluiting van die Afrikaans-departement aan Wits in 2000. Redes wat toe aangevoer was, is dat Afrikaans-studentegetalle drasties afgeneem het. Na aanleiding van destydse gesprekke met Afrikaans-dosente was dalende studentegetalle wel die rede.

By UKZN het kwynende studentegetalle egter niks met die uitfasering van Afrikaans daar te doen nie, of so hoop ? mens. Inteendeel, die Afrikaans-departement daar is die afgelope klompie jare ? toonbeeld van konstante groei.

Hardnekkige gerugte doen die ronde dat dit eerder die UKZN-rektor, Malegapruru Makgoba, se beweerde uitspraak dat “Afrikaans ? kanker is wat uitgeroei moet word” is wat tot die besluit bygedra het.

? Mens hoop van harte dat Makgoba verkeerd of “buite konteks” aangehaal is en dat hy die kans gegun sal word om dit reg te stel. Indien hy wel so gesê het, dan behoef dit wel deeglike nuansering.

André P Brink het dikwels in die apartheidsdae verwys na die bestaan van 'n ander, ruimer geskiedenis van Afrikaans wat ook onderdruk en verswyg is.

Ek weet nie hoe goed Makgoba in die geskiedenis van Afrikaans onderlê is nie, maar die 2011-sensus het duidelik getoon dat die meerderheid Afrikaanssprekendes gekleurd is. Ook het dit getoon dat Afrikaans sedert die 2001-sensus 871 000 huistaal-sprekers bygekry het. Boonop het ? onlangse studie deur die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge getoon dat Afrikaans nou oorwegend deur bruin mense gepraat word en dat bruines dus die toekoms van dié taal is.

Dit is dus duidelik dat Brink reg was betreffende die “ruimer geskiedenis van Afrikaans”. Die hoop is dat daardie “Brink-klanke” nou weer gehoor kan word as ‘n sentrale deel van Afrikaanssprekendheid, en dat die res van die samelewing toenemend Afrikaans daaraan sal herken.

Dit is verblyend dat Wannie Carstens, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns, uit België laat weet dat hy werk aan ? nuwe boek oor die geskiedenis van Afrikaans. Volgens hom sal mense wat die boek lees, “wegstap met ? beter prentjie van die gedeelde verlede van Afrikaans. Ons kan, nee, ons durf nie, vandag nog Afrikaans as net ? wit taal weerspieël nie.”

Dit is nogal kommerwekkend dat die toon en aanslag van die debat oor die UKZN-besluit plek-plek aanstoot gee en dat Makgoba se persoon dikwels in die spervuur is. Kom ons haal die snedigheid uit die debat en beroep ons op die “Brink-klanke” wat andere tot ander insigte oor Afrikaans sal noop.

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Ampie Coetzee

    Dieselfde 'afskaf' het gebeur by Wits. 'n Departement Afrikaans waarvan die hoof N P van Wyk Louw was, bestaan nie meer nie. By UWK hat die getal Afrikaans-studente by daardie Departement drasties ontstellend verminder. Want dit het 'n Engelse universiteit geword.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top