1925band: "Musiek vertel altyd 'n storie"

1925band se bekendheid neem toe te danke aan hul skerp liedere en harmoniewerk, asook die nuwe film Eintlik nogal baie, waarvoor hulle die temalied geskryf het. Reno Gericke, een van die drie broers waaruit 1925band bestaan, beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Reno. Hoe's alles?

Goeiedag. Dit gaan baie goed, dankie. Werk hard maar geniet elke oomblik. 🙂

1925groot1web

1925band is baie onlangs skielik na die voorgrond van die Afrikaanse musieklandskap gestoot met die film Eintlik nogal baie, waarvoor julle die temalied geskryf en opgeneem het. Geluk daarmee! Hoe het dit gebeur dat hierdie geleentheid julle kant toe gekom het, en hoe het julle die versoek benader in terme van hoe die lied toe geskep/verander is? Wat beteken hierdie verwikkeling vir julle as band, en ook hoe mense voorts onmiddellik aan 1925band gaan dink (pop rock / soft pop / rock), of is daardie kategorisering vir julle onbelangrik?

Baie dankie. Dit is vir ons ’n groot “blessing”!

Ons was hard op soek na iemand wat ons kon help met ’n musiekvideo. Soos jy seker self weet, is dit ’n duur storie om ’n goeie musiekvideo te maak, maar dis ’n “moet” om te hê in die musiekbedryf. Ons wonderlike ma het begin ingryp en verskillende videoproduksiemense begin kontak, en een van hulle, Grey Cloud Productions, het gevra om ons te ontmoet. Ons het met Jaques Brand en Jarrod Dejong ’n ontmoeting gehad wat baie goed gegaan het. Jarrod het baie van ons klank gehou en gevra ons moet ’n bietjie wag, hy is besig met ’n projek en sal ons kontak. Ons het geen idee gehad dat dit een van die beste Afrikaanse films op die mark vandag gaan wees nie. ’n Jaar het verbygegaan en ons het gedink dit was maar net ’n leë belofte gewees, maar Jarrod het ons gekontak en die groot nuus en taak vir ons gegee om ’n temalied te skryf vir ’n film wat hy geskryf het! Ons kon nie glo wat ons hoor nie. Ons het dadelik aan die werk gespring, want daar was ook ’n spertyd wat hy ons gegee het. David, die jongste boetie, het ’n liedjie geskryf ’n week voor ons die nuus gekry het wat hy wou ”weggooi”, maar besef toe dat dit perfek werk vir die film. Ons het die liedjie gevat en bietjie verander en bygesit en Jarrod-hulle was baie gelukkig gewees met die produk. Ons het ’n musiekstyl van acoustic/folk/rock ontwikkel, maar dié het ook vir ons ’n ander deur van styl oopgemaak.

Benewens die lied "Eintlik nogal baie" het julle ook ’n swetterjoel snitte aanlyn beskikbaar. As ’n mens daarna luister, kry ’n mens vinnig die gevoel liriekwerk – en veral diepgaande, substansiële liriekwerk – is vir 1925band besonder belangrik. Veral in snitte soos "Servette" en "Gedig op jou arm" is daar in ’n groot mate stories wat vertel word. Afrikaanse hoofstroommusiek val dikwels in die strik van vokale aantreklikheid (met ander woorde, die woorde self is minder belangrik as die klanke daarvan) – wat is jou gevoel oor hierdie verskynsel? Waar kom die liefde vir storievertel en werk met woorde vandaan vir 1925band? Hoe wil julle nóg verbeter op die pad vorentoe in hierdie opsig, of moet ’n mens nie té hard daaroor dink nie?

Musiek vertel altyd ’n storie ... wel, meestal ... of dit nou net lirieke, instrumente of al twee saam is. Dis belangrik om mense se emosies te prikkel met die musiek wat jy maak, en dis waarop ons konsentreer. Mense moet kan aanklank vind met die liedjie wat hulle luister. Ons wil hê mense moet lag, huil, skree as hulle na ons musiek luister. David (jongste) en Jeff (middel) is die groot liedjieskrywers in ons groep. Hulle skryf meestal wat in hulle harte aangaan, of wat met hulle gebeur of wat hulle ervaar om hulle. Ons is al drie baie diep mense, en wat ’n goeie manier is musiek nie om dit te wys nie.

Dit voel ook of julle daarvan hou om verskeie strukture en aanslae in te span met jul liedere – "Horisonskind" klink byvoorbeeld of dit deur ’n ander band as die een agter "Gedig op jou arm" geskep kon gewees het – op ’n goeie manier! Dit dui op wye vermoëns in die liedskryfproses. Hoe werk daardie liedskryfproses by julle, vandat die eerste idee ontkiem, tot die woorde en akkoorde op papier begin land, tot julle dit uitvoer of opneem? Wat maak vir jou ’n "goeie" liedjie? Hoe weet julle in daardie skeppingsproses wanneer ’n liedjie nou reg, of voltooid, is?

Musiek gaan dieper as net luister en dans. Dit vat aan ’n mens se hart. Dit verander lewens, bring mense bymekaar en speel op ’n mens se emosies. Dis hoekom dit vir ons belangrik is om te skryf wat ons voel, maak nie saak waar of wanneer dit is nie. As ons op ’n spesifieke oomblik ’n gevoel kry en dit in ’n liedjie wil omskep, dan doen ons dit dadelik, want anders verloor ons daai gevoel en dit gaan nie dieselfde effek hê nie ... as dit sin maak? “Servette” is byvoorbeeld op ’n servet geskryf in ’n bar/restaurant en “Gedig op jou arm” is op universiteit in vyf minute geskryf. Dit was twee verskillende emosies/gevoelens/gebeurtenisse wat op daai spesifieke oomblikke gebeur het en dadelik omskep is in musiek.

Dis baie moeilik om te weet of dit ’n goeie liedjie is en of dit gaan aanklank vind by mense wat daarna luister, maar ek dink dis wat musiek so amazing maak – elke liedjie is musiek wat op verskillende oomblikke ’n emosie/hart kan prikkel.

1925band bestaan uit die drie Gericke-broers – jy self, Jeff en David-Lee. Die harmonieë in julle musiek is seepglad, maar is die harmonie in die groep altyd so soet? Dit moet seker nogal ’n uitdaging wees om as klomp gesinslede saam in ’n band te speel – almal ken natuurlik mekaar se sterk punte, maar ook mekaar se nukke en dies meer. Hoe werk daardie dinamiek binne 1925band? Hoe vul julle mekaar aan, en hoe bewaar julle daai optimale samewerkingsgevoel? Wat sal jou raad wees aan nuwe bands met ’n soortgelyke set-up?

Ons harmonieë is ons sterk punt, sou ek sê. Ons werk baie hard om dit altyd sterk en perfek te kry. Waar elkeen van ons ’n ander kleur het in ons stemme, maak ons seker dat as dit saam gesit word, dit werk en saam “gel”.

Ek sou sê dis lekkerder om saam met gesinslede in ’n band te wees as saam met vriende of kennisse. (Hahaha, ek wens ek kan almal se gesigsuitdrukkings sien wat dit lees ...) Ek dink dis beter, want ons ken mekaar. Ons verstaan mekaar. Ons weet wanneer die een in ’n slegte bui is of nie lekker voel nie. En ons respekteer dit en help mekaar deur dit. Moenie verkeerd verstaan nie ... soos enige familie/broers/susters stry ons en verskil baie met mekaar, maar dis makliker om mekaar te vergewe of aan te beweeg omdat daar daai broer-bond is.

Om in ’n band te wees is soos om in ’n verhouding te wees. Daar is verskillende gevoelens, persoonlikhede, opinies en emosies, en elkeen in die band moet mekaar leer ken en verstaan en respekteer. Jy moet bereid wees om mekaar te ondersteun en ook te luister wat die ander een dink en voel.

As ’n mens kyk na die video's wat julle op YouTube het, blyk dit julle hou daarvan om covers te doen – onder meer vind ’n mens video's van "Piano man" en "Knocking on heaven's door". 1925band speel ook funksies waar julle primêr covers doen, of verstaan ek dit verkeerd? Wat is die waarde daarin om jouself bekend te maak met dié snitte en jou eie interpretasie daarvan te doen, in terme van hoe dit dan uiteindelik jou oorspronklike musiek beïnvloed? Ook meen sommige mense as jy ’n cover doen, moet daar ’n nuwe spin daarop wees, ’n oorspronklike interpretasie; andere meen weer die oorspronklike weergawe is heilig en ’n mens moenie daaraan torring nie. Wat is jou filosofie hieroor? Wat is jou gunsteling-lied om te cover, en watter snitte sal jy nog eendag wil cover wat julle nog nie het nie?

Ons hou daarvan om covers te speel, maar partykeer ook nie. Ons het maar begin met covers om ’n bietjie vinniger bekend te word, maar ons wil ook nie as ’n cover band bekend staan nie.

Baie van ons cover-liedjies is great liedjies wat jare al in die musiekbedryf is. Om daai liedjies te vat en te speel kan ’n band maak of breek. Van die liedjies kan ons ons eie styl maak en van die liedjies moet ’n mens so naby aan die oorspronklike bly as wat jy kan. As ons die liedjie ons eie maak, dan probeer ons altyd om dit óf beter óf net so goed soos die oorspronklike te doen.

Daar is so baie covers waarvan ek hou om te speel, maar ek dink die een wat my die meeste challenge is “Billy Jean" van Michael Jackson. Ons probeer dit so naby aan die oorspronklike hou as wat ons kan, en hy was vir ons ’n musical genius.

In die versameling snitte wat julle aanlyn beskikbaar het, verskyn daar ’n paar Engelse snitte ook. Is die Engelse musiekbedryf een wat julle nog wil takel, of is die fokus vir nou op Afrikaans? Wat is die grootste verskille tussen die plaaslike Afrikaanse en Engelse bedryf? Wat werk vir jou lekker aan hoe die Afrikaanse musieklandskap deesdae lyk (met byvoorbeeld die onlangse afsterwe van MK), en wat kort werk? Hoe beskou jy 1925band se posisie op dié landskap, en waar sal jy dit eendag wil sien?

Ons ondersteun die Afrikaanse taal 100% en is trots om Afrikaans te wees en te sing, maar die reality is dat báie Engelse mense van ons musiekklank hou. Ons het besluit om Afrikaans en Engels te doen omrede al twee tale se mense ons volg.

Dis ’n baie moeilike vraag om te beantwoord, maar ek sal sê die grootste verskil is die mense wat jou ondersteun en volg. In die musiek self en die styl is ook ’n groot verskil. Die lirieke word ook op verskillende maniere oorgedra en vertolk.

Baie dinge verander in die Afrikaanse musiekbedryf en dit raak al hoe groter en groter. Daar is meer ondersteuning – nie net van nie net publiek nie, maar ook die media, en dit is great om dit te sien! Ek dink net finansieel kry musikante baie swaar en as daar in die bedryf daarna gekyk kan word, sal dit fantasties wees.

Ons het nog ’n ver pad om te stap en baie harde werk wat voorlê, maar dis wat dit so lekker maak. Ek dink dat as ons ’n paar platinum-albums het en as mense ons musiek kan luister waar ook al hulle is, sal ons nog nie ophou om beter te doen nie. Die belangrikste vir ons is dat die mense ons musiek geniet.

Julle benadering met die uitreiking van die musiek is interessant – daar is nog nie ’n amptelike, "harde" CD beskikbaar nie, maar die hele eerste album, Horison, is aanlyn. Wat het julle laat besluit om dié benadering te volg? Verskeie jong bands meen albums is onbelangrik en die vrystel van sporadiese enkelsnitte is die pad vorentoe. Hoe voel jy hieroor en hoe sal 1925band dit voorts wil benader? Wat is die voordele en nadele van die verskillende benaderings, in ’n finansiële en kommersiële opsig, maar ook mbt wat die verskillende platforms vir die kunstenaar bied?

Daar was wel ’n “harde” CD beskikbaar waarvan ons so 500 copies verkoop het, maar ons het die produksie gestop. Dit het te duur geraak om ’n CD te maak en ons het besluit om te kyk of dit aanlyn kan werk.

Ons gaan ook nou die pad volg van enkelsnitte wat lei tot ’n volledige CD. Dit hou mense nuuskierig en opgewonde om die volgende liedjie te hoor.

Hierdie is ’n vraag wat ek nie graag vra nie, omdat dit redelik algemeen is, maar ek dink julle geval regverdig ’n uitsondering: Waar kom die band se naam vandaan? Ek neem aan daar steek ’n paar interessante stories in die 1925-element ...?

Hehehe ... Jeff en David het 1925band begin vir net lekker sing. Hulle het ’n show gekry en moes besluit op ’n naam – en dis een van die moeilikste dinge om te kry, hahaha. Na ’n paar dae se gedink het hulle besluit om hulle ouderdomme te vat as ’n naam: David – 19, Jeff – 25 ... vandaar 1925. Ek het na ’n paar maande bygekom en ons moes weer besluit op ’n naam, want wat nou van my ouderdom? Ons het na lank se debatteerdery en gestry besluit om te kyk wat het gebeur in die jaar 1925 ... en wat sien ons ... dadadaaaaaa ... die taal Afrikaans was aanvaar as ’n amptelike taal in 1925! Trots Afrikaans ... 🙂

1925band het nou al ’n rits vertonings agter die rug. Wat staan vir jou uit as hoogtepunte? Enige vreemde gebeure wat mense nie glo as jy dit oorvertel nie? Enige minder aangename oomblikke op of agter die verhoog wat jy eerder wil vergeet?

Daar is soooo baie hoogtepunte en soooo baie amazing vertonings wat ons gehad het. Elkeen het sy eie hoogtepunt, van ons eerste keer by die Innibos-fees tot saam met Bobby by die KierieKlapper-fees en Steve by die Landbou-fees. Maar ek dink die hoogtepunt van alles was ons toer Kaap toe, waar ons as gaskunstenaars by die 2016 Applous-koorkompetiesie kon optree. Vier aande met ’n saal vol hoërskool- en laerskoolkinders wat saamsing en dans op ons eie musiek is ’n gevoel wat ’n mens nie kan beskryf nie. En toe hulle “Eintlik nogal baie” saamsing, maar die liedjie self was nog nie op radio nie, was dit net die cherrie op die koek! Dis iets wat ons nooit sal vergeet nie.

Minder aangename oomblikke is maar as jy agter die verhoog moet luister hoe vriende en medekunstenaars baklei en mekaar slegsê. Dis maar iets wat nooit lekker is nie en wat jy nie weet hoe om te hanteer nie ... maar gelukkig gebeur dit nie baie nie.

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top