1795 deur Dan Sleigh: ’n lesersindruk

  • 2

1795
Dan Sleigh
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624073307

Moenie nalaat om Dan Sleigh se 1795 (weer) te lees nie. Veral as jy, soos ek, nie eintlik geweet het wat in daardie beslissende jaar gebeur het nie. Dit was my lekkerste leeservaring van die afgelope jaar, ’n boek om lank te onthou en een wat gelei het tot interessante gesprekke oor dekolonisering, kapitalisme, megamaatskappye, korrupsie en wat ’n goeie mens nou eintlik is.

Sleigh vertel op pakkende wyse hoe die Britte as’t ware die Kaap bekruip, die goedgelowigheid en gelatenheid van die Kapenaars uitbuit en met die slinkse kolonel Robert Gordon en lamsakkige goewerneur Abraham Sluysken konkel met die gevolg dat die Kaap vir die eerste maal in Engelse hande beland. Deurgaans bly mens vol hoop dat die aanval afgeweer kan word, want ons het gebiedsvoordeel en die burgers is begeesterd. Maar daar is iets onheilspellends, amper fiktief, aan die manier waarop elke goeie plan in die wiele gery word tot daardie ondenkbare, skandalige oorgawe by die kasteel op 16 September 1795. Dit het my telkens met ’n gevoel van verlamming gelaat.

In die hande van ’n meester van historiese fiksie word so ’n dramatiese stuk geskiedenis omgetower tot iets wat eenmaal met regte mense gebeur het. Historiese en fiktiewe karakters word mense wat regte lewens op herkenbare plekke lei, want, soos ons, wil die skrywer weet hoe hulle dit beleef het, wat hulle gevoel en gedink het.

Dus is dit eintlik die storie van alle Kapenaars en in besonder dié van William van Oudshoorn, die redelik onbekende seun van baron Pieter van Reede van Oudshoorn wat bestem was om goewerneur te word, maar wat tragies aan rotkoors gesterf het op pad Kaap toe. William is die laaste goeie man van die oorspronklike titel. Hy is ’n gesiene lid van die Politieke Raad en administrateur van die Kompanjie se graanvoorrade; welgesteld, wellewend, ingelig en in voeling met die buitewêreld, maar ken ook die vryburgers en het simpatie met hulle probleme. Hy is ’n regte vaderlander wat groot ideale koester vir sy dorp en land om op die patroon van Amerika te ontwikkel. Oor die verloop van die storie doen hy alles in sy vermoë om die Britse inval te stuit en weier uiteindelik om die eed van trou af te lê.

Will is ’n magneet vir ander patriotte en eerbare mense soos Louis Thibault, die bekende argitek, Anton Anreith, die beeldhouer, en die Van Reenens van die plaas Ganze Craal. En natuurlik Francine-Marie de Remony, die Franse weduwee op wie hy verlief raak. Sy is ietwat te goed om waar te wees: slim, wel-opgevoed, stylvol en gekultiveerd, maar ook vrolik en gesellig, bekend met ou beskawings en nuwe vryheidsideale. Kortom, ’n vars bries te midde van die opgesmukte Kaapse vrouens. Met groot vernuf word hierdie liefdesverhaal met die bekende geskiedenis gekoeksister. Die afloop is ewe dramaties en tragies, want naas die goed/kwaad-tema is dit ’n boek oor verlies: van liefde en geliefdes, van ’n land, van ideale en moontlikhede, van vryheid en menswaardigheid, van eer en respek, van taal en kultuur.

My geliefkoosde karakter is Louis Thibault. Met sy vurige geaardheid en afkeer van misplaaste grootdoenerigheid is hy William en Francine se bondgenoot. Ek het veral gehou van die episode waar hy en Vogler die klavier in William se huis stem (385–6). Hy sit die bladmusiek triomfantelik voor Francine neer met ’n “Voilà” en verwag dan dat sy Mozart se klavierkonsert nr 25 sommer net so moet speel. Wanneer William daarna kyk en luister hoe sy die wysie neurie, herinner dit hom aan “’n wolk swart spreeus oor ’n koringland in die Koeberg een hete somermiddag, die duisende voëls wat saambondel, styg, golf, daal, swiep, swaai, swenk asof deur ’n hemelse hand gedirigeer”. Luister na die musiek:

Sleigh het meermale gesê dat dit sy laaste boek is. Hy stel dus al sy bekende talente ten toon, amper asof hy ons vir oulaas wil bekoor en iets wil doen aan verdomming, wat hom so dwars in die krop steek. Naas die geskiedenis van die VOC-tydperk is sy vertelling deurspek met die besonderhede van die Kaapse leefwyse en die skeepvaart, wat my laat voel het of ek self daar was. Hy skilder wonderlike woordprente. Wanneer William die Britse oorlogskepe vir die eerste maal sien, lyk hulle vir hom soos “drywende katedrale met hulle rooi-wit-en-blou vlae op toringhoë maste” wat hom herinner aan hoe luitenant Veegezak die Politieke Raad daarvan vertel het. “Ek praat van die aandson op die seile. Bloedrooi teen die berg anderkant die baai. Wat ’n gesig, sê ek vir die seun.” Daar is ook die menigte feite oor taal, kultuur en natuur wat terloops ingewerk word (hoewel ek saamstem met Micky Badenhorst dat dit vir party lesers net te veel is). ’n Mens lees van plekname en woorde wat in onbruik geraak het en ander waarvan die herkoms verduidelik word. Lees byvoorbeeld op bl 17 waar die word babelas vandaan kom en eina op bl 151. Ganze Craal, Gantouw, Groene Cloof, Keert de Koe is van hierdie mooi ou name. Gelukkig het Poespaskraal, vandag bekend as Sunnydale Farm, nie heeltemal verdwyn nie. Iemand behoort eintlik ’n Googlekaart te maak wat aandui waar hierdie plekke is.

Historici word soms warm onder die kraag oor sg feitefoute en verkeerde interpretasies van die geskiedenis in historiese romans. Dan vergeet hulle dat wat ons nou terugskouend as die geskiedenis ken, saamgestel uit ’n verskeidenheid bronne, op daardie stadium die karakters se belewenis was, vanselfsprekend eensydig en onvoltooid. Maar dit kan ook tot interessante gesprekke lei. Sommiges voel dat Robert Gordon nie so ’n skurk was nie, dalk eerder ’n tragiese figuur, ’n slagoffer van omstandighede. Wat dan van sy ontdekkingsreise waarvoor hy in Europa geëer is, en was die oorname nou so ’n ramp, gesien die feit dat die VOC besig was om te Vergaan Onder Corruptie. Hy kon San, Koi en Xhosa praat en het goed met inheemse mense klaargekom. Die mening is bevestig deur die groot Goede Hoop. Zuid-Afrika en Nederland vanaf 1600-uitstalling vroeër vanjaar by die Ryksmuseum in Amsterdam met Gordon se groot kaart as middelpunt. Maar vir die Kapenaars was hy die een wat die Kaapse lewe verpes het en op hulle neergesien het. Uiteindelik die verraaier – dis hoe hulle hom geken het.

Dis ’n leesavontuur en nog meer

Ek hou van boeke wat my prikkel om ander boeke te lees, om na musiek te luister, om kunswerke te bekyk en plekke te besoek wat in die teks genoem word en wat my nuuskierig maak. 1795 is so ’n boek.

Vanselfsprekend wil ’n mens weer Eilande lees om ’n gevoel te kry vir waar alles begin het. As jy meer wil weet van die VOC – en die stamina het – is Karel Schoeman se Swanesang insiggewend. So ook Die VOC aan die Kaap en Luc Panhuysen se Ontdekkingsreisiger of soldaat wat ’n meer genuanseerde beeld van Robert Gordon gee.

’n Mens lees so ’n boek met die internet byderhand, want daar is baie waarvan jy meer wil weet. Daar is wonderlike kaarte en tekeninge wat jou herinner dat dit ’n manier was om mag en besit te bevestig. By http://www.tanap.net/content/activities/documents/resolutions_Cape_of_Good_Hope/index.htm is drie van my gunstelinge: ’n stadskaart wat selfs aandui wie waar gewoon het, een wat ook die tuine aanwys en ’n kaart wat byna die hele wêreld van die storie insluit.

Die Stadskaart wat aandui wie waar gewoon het

’n Kaart van die Kaapse Skiereiland in 1742, wat byna die hele wêreld van die storie insluit, Argief- en Rekorddiens van die Wes-Kaap (© WCARS, Ref: M1/273)

Dan is daar is ook die wonderbaarlike Gordon-webwerf, waar ’n mens sy joernale, tekeninge (sommige deur ander kunstenaars) en sy groot kaart kan sien (https://www.robertjacobgordon.nl). Ook prente soos van die kameelperd (Toeka in Moetjoänaas) en baie van plante- en dierelewe soos ’n verleë nijlpaard en hoodiaplant.

Baie mense wonder oor William, wie hy was en wat van hom geword het. By https://www.wikitree.com/wiki/Van_Rheede_van_Oudshoorn-2 en http://databases.tanap.net/mooc/main_article.cfm?id=MOOC8/37.51 kan jy sien dat Neeltje nie bestaan het nie, dat hy en Geesje waarskynlik nie van tafel en bed geskei was nie en dat hy 40 slawe in sy besit gehad het toe hy in sy eie huis oorlede is.

Plekke kry nuwe betekenis

Wees verseker dat jy met nuwe oë na bekende plekke in en om die Kaap gaan kyk, soos:

  • Die kasteel waar baie van die dramatiese gebeure afspeel.
  • Die Chavonnes Battery Museum in die Waterfront, waarvan my kleindogter my vertel het.

  • Op die kusroete van Muizenberg na Simonstad ry jy verby die Muysenburg Posthuys waar William, Louis en Jan op hulle verkenningstog aandoen (159). Daar bo in die rante, onthou jy, het die pandoers vir die Britse soldate lê en wag, en wanneer jy die laaste draai vat voor Vishoek, wonder jy hoe die Britse soldate daar verbygekom het.
  • Die gebou van die Hugenote Museum in Franschhoek was oorspronklik William se huis, Saasveld, wat in 1957 hier herbou is. Lees die interessante storie by http://www.hugenoot.org.za/huge3.htm. Die grafkelder waarin William homself afgesonder het, staan vandag op die terrein van die Monte Rosa-aftreeoord in Faurestraat.

Foto: Adri Alb, Wikimedia Commons

Foto: Dolores Coullie, Wikimedia Commons

As jy van ’n goeie storie hou en as die geskiedenis steeds met jou praat, is dit ’n boek om nie mis te loop nie.

  • 2

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top