16 jaar ná die dood van Marike de Klerk

  • 1

Die bespiegelings het wyd geloop ná die dood van Marike de Klerk vroeg in Desember 2001 in haar woonstel by Dolphin Beach, Bloubergstrand – onder meer van selfdood.

’n Veiligheidswag by die kompleks waar die voormalige vrou van Suid-Afrika se laaste pre-1994-staatspresident, FW de Klerk, gewoon het, het die middag van 4 Desember 2001 op haar liggaam afgekom toe hy deur haar haarkapster ontbied is wat nie antword by haar woonstel kon kry nie. Die wag het die 64-jarige Marike nog in haar nagklere in haar voorportaal gekry.

In die nadoodse ondersoek is bevind dat sy reeds die oggend van die vorige dag dood is weens verwurging. Sy is ook met ’n mes in die rug gesteek, hoewel Deon Knobel, wat die lykskouimg uitgevoer het, bevind het dat dít nie haar dood veroorsaak het nie.

Haar lewe ná haar egskeiding was volgens berigte nie gelukkig nie. Sy het ’n verhouding met ’n Johannesburgse sakeman, Johan Koekemoer, aangeknoop. Hulle was agt maande lank verloof totdat bewerings van bedrog aan die lig gekom het en sy die verlowing beëindig het.

Sy het FW deurentyd ondersteun – selfs nadat sy verhouding met Elita Georgiades, die vrou van ’n Griekse skeepsmagnaat, op die lappe gekom het. Sy het in haar outobiografie geskryf dat sy hom 70 maal 7 keer daarvoor sou vergewe.

Sy het ’n groot bewondering gehad vir Margaret Thatcher, die destydse Britse premier, maar toe hulle mekaar in Downingstraat 10 ontmoet het, het Thatcher glo aan haar gesê sy moet inkopies gaan doen terwyl sy (Thatcher) en FW politieke kwessies uitstryk!

Maretha Maartens, wat haar met haar biografie gehelp het, het in ’n onderhoud ná haar dood gesê Marike se persoonlike lewe het haar die seerste gemaak. Volgens Maartens was sy ook baie eensaam en iemand wat deurentyd met gedagtes oor die dood geworstel het.

Onder die roubeklaers by haar begrafnis was Winnie Madikizela-Mandela, wat Joe Modise se begrafnis dieselfde dag nie bygewoon het nie, om by Marike de Klerk s’n te kan wees. Winnie het by haar begrafnis gesê: “As a woman, I can identify with the exhaustion of her emotional resources in helping to shape her former husband’s career.”

Marike de Klerk is langs haar pa in die Pretoria-Wes-begraafplaas begrawe.

’n Veiligheidswag by die woonstelkompleks, Luyanda Mboniswa, is in Mei 2003 skuldig bevind aan haar moord.

  • 1

Kommentaar

  • Helene van Wyk

    Ek het destyds haar biografie gelees. Ek onthou een iets wat sy geskryf het na aanleiding van haar grootwordjare.
    Sy het gesê as jy geskei is, word jy anders as ander mense begrawe.
    Sy het nie geweet dat sy self, ook anders sou doodgaan nie ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top