16 dinge wat ek nié moes sê nie deur Rian van Heerden: ’n resensie

  • 1

Rian: 16 dinge wat ek nié moes sê nie
Rian van Heerden

Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624081104

“Soos jy seker teen hierdie tyd agtergekom het, is ek nie eintlik spyt oor die meeste dinge wat ek in my lewe kwytgeraak het nie,” skryf Rian van Heerden in die slothoofstuk van 16 dinge wat ek nié moes sê nie – keurig uitgegee deur Tafelberg. Maar hy skryf ook: “Maar daar is ook dinge wat ek kwytgeraak het waaroor ek werklik spyt is, soos pertinent genoem in hierdie boek. Ek het waar ek kon, probeer opmaak daarvoor.” 

In sy boek bied Rian terselfdertyd ook ’n outobiografie aan; die leser leer hom beter ken deur hierdie 16 uitlatings van hom.

Die boek bestaan uit 16 hoofstukke wat die leser ook ’n eerlike blik op Van Heerden se lewe bied. Deur telkens die agtergrond vir elke uitlating te verskaf, leer ons Van Heerden vanuit verskillende perspektiewe ken: as ’n radio-omroeper, ’n televisie-aanbieder en ’n bekende persoon; maar ons leer hom ook ken as kollega, as vriend en as geliefde; as gay persoon wat die moeilike besluit neem om “uit die kas te klim”; en dan ook as seun en broer. Dis hierdie persoonlike, openlike en openhartige blik op die verskillende aspekte van Van Heerden se lewe wat maak dat ons die omstrede (?) mens beter leer ken.

Die hoofstukke word chronologies vertel en het elk ’n interessante titel wat met ’n spesifieke voorval waarin Van Heerden iets verkeerds of snaaks of uitlokkends gesê het, verband hou – dit vat die tema van die hoofstuk saam: “Wat doen die tokkelossie met jou?’ en “Groot ouens is gewoonlik dommer!”

Die boek begin met ’n kort vertelling oor sy ouers en broer en sy grootwordjare. Verrassend is dat Van Heerden in hierdie fase van sy lewe polities regs was en gefassineer was deur onder meer Eugène Terre’Blanche, wat op ’n paar plekke in die boek weer te voorskyn tree. Later lees ons sy reaksie op die nuus van die dood van Terre’Blanche en gee vir die leser ’n boodskap oor Suid-Afrika: “Ek het op ’n trappie buite gaan sit en gehuil. Nie net oor hierdie fassinerende man wat ek oor die jare heen leer ken het nie, maar ook oor ons bloedige tragedie van ’n land ...” Die boek eindig met ’n hoopvolle vertelling uit 2016 waar Van Heerden en die ontbytprogram van Jacaranda FM betrokke geraak het om water vir droogtegeteisterde gebiede (maar veral Limpopo) in te samel. Van Heerden sluit af waar hy probeer om ’n brief van ’n luisteraar te lees maar die emosie hom oorval: “Ons kan as ons wil. As ons net wil” – wat weer eens vir Suid-Afrikaners ’n boodskap oordra.

Van die vertellings is uiters persoonlik, veral dié oor sy seksualiteit en sy verhoudings: “Ek het egter baie, baie moeg begin raak vir hierdie leuen wat ek geleef het. Meer nog, ek was uiters alleen”; en dié oor sy familie: “Ek was eerlikwaar trots dat ek hierdie twee mense se seun was. Hulle het dit en die jare daarna vir my baie maklik gemaak.”

Werklik aangrypend in hoofstuk 13 is waar hy ’n luisteraar ’n beledigende uitlating toevoeg, maar ’n skool vir leerders met spesiale behoeftes, die Nuwe Hoop Skool, bysleep. En wat hy dan by die leerders ervaar wanneer hy om verskoning gaan vra, is nie veroordeling nie: “Daar was nie oordeel nie. Net ’n gulhartige ontvangs in elke klas.” Die les: “Die impak van my woorde was groter as wat ek besef het.”

Van Heerden wissel sy vertellings af van snaaks tot hartseer tot eerlik tot ongemaklik. Dit is in ’n gemaklike en informele trant geskryf en die afwisseling tussen Afrikaans en Engels pla nie. Dit toon die woordkunstenaar wat hy is om ook die leser in gedagte te hou: net soos met sy radio- en televisieprogramme en rubrieke gaan dit oor kommunikasie.

16 dinge wat ek nié moes sê nie vertel vir ons wie en watse mens Van Heerden is: hy is lief vir praat en vir die mikrofoon; hy help graag (al is dit sukkelende radiostasies of mense wat nie water het nie); hy is nie bang vir uitdagings nie (soos om ’n nagklub te koop en daarvan ’n sukses te maak); hy verbreek grense en daag mense uit (soos om ’n nuwe slagspreuk vir Tuks FM te kry en met sy verskillende verhoogproduksies); en hy is braaf. Maar bowenal is hy eerlik en reguit – met sy luisteraars en kykers, maar ook nou, deur die boek, met die leser en veral met homself: “Ek het my hart finaal toegepak onder die beton, klippe en staal en besluit dat die energie wat ek in verhoudings insit, ek eerder in my werk sou stort”. En “Van nou af sou ek eenvoudig alles in my vermoë doen om ’n bakleiery te vermy. Hierdie was tog nie ek nie?”; en “Was ek ooit spyt wat ek in my brief aan Rapport gesê het? Nie vir ’n oomblik nie.”

16 dinge wat ek nié moes sê nie is eerlik en stel die mens Rian van Heerden aan die leser bekend. Ten slotte is dit ’n reis na begrip en aanvaarding: deur en vir Van Heerden self, maar ook deur en vir die leser.

  • 1

Kommentaar

  • Colette van Jaarsveld

    Dis interessant hoe hoofstuk 13 en die onderhoud van Rooi Rose (Rian van Heerden: Die Mag Van Die Woord, 20/06/2017) nog emosie by my op bring. My seun is in Nuwe Hoop. Daardie oggend was ek op pad om hom skool toe te vat. Hy het die opmerking gehoor en my daaroor uitgevra. Ek het aan hom verduidelik dat mense sê partykeer goed voordat hulle mooi dink daaroor. Hy was tevrede met die antwoord. Ek het nog nooit ophou luister na Rian nie. My opinie daaroor toe ander ouers op ons WhatsApp-groep daaroor gekla het, was hoeveel keer het ek al iets gesê of ’n opinie gelig oor iets waarvan ek kwalik iets van weet. Ek bly ’n Rian super-fan!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top